Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Voortreflike bundel oor aard van vroue

Kortverhale

Wanneer bloekoms dans

J.M. Gilfillan

NALEDI, R210

Van stiltes en stemme. Dié titel van J.M. Gilfillan se debuutbundel (1991) kan in ’n sekere sin op haar hele kortverhaaloeuvre van toepassing gemaak word: ná elke skryfstilte klink daar ’n glashelder “stem” wat lank bly eggo.

Hoewel lesers ná Glas (2007), Gilfillan se derde bundel, meer as ’n dekade lank moes wag vir Wanneer bloekoms dans (2019), het twee van die 17 verhale reeds in ander versamelbundels verskyn, naamlik “Girlie” in Kleure van die liefde (2017) en “Wrywing” in Skarlakenkoors (2014).

Soos in Gilfillan se vorige bundels, gaan dit in Wanneer bloekoms dans oor die verwikkelde aard van verhoudings en die komplekse dryfvere wat menslike begeertes onderlê. Geluk en vervulling bly telkens net-net buite karakters se bereik. Tog word die troosteloosheid deurgaans deur onverwagse humor en onthoubare beskrywings getemper.

Die verhale “Girlie” en “Anna” handel albei oor vrouekarakters wat die situasie waaroor hulle verslag doen, verkeerd takseer. Aangesien die leser mettertyd meer inligting as die karakters bekom, ontstaan dramatiese ironie wat ’n interessante reliëf aan die verhaalslotte verleen.

In “Girlie” veroorsaak die verteller se meerderwaardigheidsgevoel dat sy byna uitsluitlik fokus op Girlie Lemmer se voorneme om met Pietman te trou, met die gevolg dat sy haar eie dogter, Elzette, se begeertes miskyk.

Dit gaan oor die verwikkelde aard van verhoudings en die komplekse dryfvere wat menslike begeertes onderlê.

In “Anna” raak die leser nie net vroeg al bewus van die geheim wat die titelkarakter met Jacob deel nie, maar ook van die verreikende gevolge van die “liegstorie” wat sy bedink om dié geheim te probeer bewaar.

Hierteenoor eindig die verhaal “Nagrit deur die Karoo” net so onverwags vir die leser as vir die hoofkarakter, Amber, wat in opdrag van Jimmy ’n gesteelde BMW in Johannesburg moet gaan aflewer. Wanneer ’n geheimsinnige ryloper vir ’n tweede keer sy opwagting maak, is dit glad nie duidelik of hy as die vrug van haar oorspanne verbeelding, ’n gewetenslas of ’n beskerm­engel geïnterpreteer behoort te word nie.

Talle verhale in die bundel behels ’n terugkeer na die verlede; soms in die vorm van ’n geografiese reis, soms in die vorm van herinneringe. Meestal aan die hand van albei.

In “Wie die laaste lag” lei ’n bejaarde vrou se skuldgevoelens jeens die miskenning van haar bruin landgenote tot ’n ontstellende vertekening van haar persoonlike herinneringe. In die lig van dié sonderlinge gegewe, val haar skielike slotinsig darem baie onoortuigend op die oor.

“Byeenkoms van die eensames” behels ’n vindingryke herskrywing van CM van den Heever se “Leuens”, maar anders as Naomi se man wat hoofsaaklik vir die uitsigloosheid van haar omstandighede in die Van den Heever-verhaal verantwoordelik is, het die ek-verteller in “Byeenkoms van die eensames” niemand behalwe haarself vir haar verdriet te blameer nie.

Die tema van ’n herbesoek aan die verlede en die verlange na ’n tuiskoms, vind ook in “Breekgoed”, “Familiefees” en “Foonoproep” neerslag. In “Breekgoed” – ongetwyfeld ’n hoogtepunt in die bundel – raak die internasionale model Mimi (Miempie) tydens ’n herbesoek aan die plaas waarop sy grootgeword het pynlik van haar tussenskap bewus.

Sy besef dat sy altyd verdeeld sal voel tussen haar ma en susters, aan die een kant, en die mense (en veral die mevrou) van die groothuis, aan die ander kant. Hierdie innerlike tweespalt word treffend gesimboliseer deur die gebreekte vleisbord, die enigste item wat behoue gebly het van die suurlemoengeel eetservies wat Mevrou aan Mimi bemaak het.

In “Familiefees” en “Foonoproep”, wat op verrassende wyse met mekaar skakel, word die hoofkarakter se ambivalente verhouding met haar broer, Rudolf, op besonder subtiele wyse ontrafel. Wanneer Rudolf se as oplaas onder die groot bloekomboom op die familieplaas ingespit word, erken die hoofkarakter dat hoewel sy gedink het dat haar reis nou voltooi is, sy in ’n sekere sin eintlik terug is waar sy begin het.

In die laaste gedeelte van die bundel staan die krag van woorde, verbeelding en skrywersinspirasie voorop.

In die laaste gedeelte van die bundel staan die krag van woorde, verbeelding en skrywersinspirasie voorop.

In “Sara en die dansende boom”, die verhaal waaruit die bundeltitel geneem is, weet die wiskunde-onderwyser, meneer Botha, iets van Sara Vermeulen waarvan die ander onderwysers onbewus is. Anders as hulle, vind hy haar “anderwêreldse dromerigheid” aantreklik en het hý darem die hoop dat sy ’n sukses van haar lewe sal maak: “Omdat sy woorde liefhet en bome sien dans, daarom sal sy dit maak. As dit nie anders kan nie, sal sy die skrywer wees van haar eie toekoms; een waarin alles moontlik is, van dansende bome tot singende sterre.”

Sara herinner onwillekeurig aan die meisie in die allegoriese “Woorde bruin soos grond” wat deur woorde betower word en teen die koning se bevel om alle “onnodige en ingewikkelde woorde voortaan in ’n bodemlose put” te gooi, tog besluit om dié putwoorde uit te vis en aan die dorstige feesgangers terug te gee.

En dan is daar Thandeka Mhlangu; “Patience” van die slotverhaal. Aanvanklik glo die hipersensitiewe digter, Jan, dat dit Patience se “luidrugtige heerskappy” as werker in hul huis is wat sy maandelange skrywersdroogte veroorsaak. Wanneer hy en sy gesin Patience egter op die televisieprogram “Pop Stars Today” sien optree en besef watter onmisbare rol sy in hul lewe speel, word sy die muse vir ’n gedig wat hy “Pryslied vir Patience” noem. En in hierdie muse eggo daar uiteindelik ook iets van al die ander vroue aan wie Gilfillan in dié voortreflike bundel gestalte gee.

Thys Human is ’n letterkundedosent verbonde aan die Noordwes-Universiteit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.