Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Voortreflike Fred se vyftig jaar in sketse

Niefiksie

50 Jaar met Fred - Fred Mouton se beste spotprente

Bun Booyens (samest.)

JONATHAN BALL, R350

Noem die naam Fred Mouton en almal glimlag. Vir al meer as vyf dekades is hy die spotprenttekenaar van Die Burger met meer as 10 000 spotprente op sy kerfstok.

Pas het Bun Booyens, voormalige redakteur van Die Burger, ’n gawe versameling uit Fred Mouton se werk geoes.

’n Goeie spotprent gee die essensie weer van ’n situasie of vergroot ’n persoon se hebbelikhede. ’n Stylgreep word nou ’n wurg-gréép.

’n Goeie spotprenttekenaar is waarskynlik soos ’n digter wat met ’n eerste lees ’n boodskap oordra en met ’n tweede kyk iets meer verklap.

Daar is ’n paar klassiekes wat ’n mens altyd sal bybly: die grappies met Deon Meyer (Bennie Griessel) se sukses. Of die gekorswel met openbare figure wat hulself aanstel. Oor rugby veral en die potsierlikhede róndom die spel, het Fred Mouton sy stuiwer in die armbeurs gegooi.

Mouton is nie bitsig nie. Hy is meestal speels.

Mouton is nie bitsig nie. Hy is meestal speels. Vergelyk sy werk met die grensoorskrydende tekste van Charlie Hebdo of Zapiro se satires waar daar altyd ’n edge is. Irony’s Edge (1994) is immers Linda Hutcheon se belangrike studie oor hoe ironie werk en dat dit gevaarlik kan wees as die leser of kyker jou verkeerd verstaan. Kortom, in ons gekwelde wêreld hét sekere kwessies taboe-onderwerpe geword.

Anton Kannemeyer en Conrad Botes se Bittercomix kry deesdae die wind van voor. Die agtergrond (“backdrop”) van die samelewing het verander en reaksies van studente op hul werk aan die UK lei tot polemiek.

Moet hul werk “verwyder” word uit galerye en sillabusse omdat dit aanstoot gee? Of moet dit eerder behou word, omdat dit ’n bepaalde tydvak se mores registreer?

Hutcheon se studie se onderskrif lui veelseggend: “The theory and politics of irony.” Ja, daar is teorie en politiek in die spel. Dis meer as antifrase of “skuus, ek bedoel die teenoorgestelde van wat jy uiter”.

Nee, dis eerder ’n kombinasie van die gesegde en subtekste wat nuwe lêplekke in ’n teks (hier: spotprent) kry.

Mouton is ’n goedige spottekenaar as hy van jou hou. Sy lanset word skerper wanneer dit by Zuma en kie kom.

Sy tekste het ’n skets met kommentaar deur klein diertjies (muisies) onderaan wat die konteks help skep.

Sy humor word tereg as kurkdroog beskou.

Sy humor word tereg as kurkdroog beskou.

Op 27 Julie 1998 is daar ’n strip van die St. James-slagting waar die koeëlmerke in die kanselkleed (Vrede op Aarde) die irony’s edge van Hutcheon illustreer. Die skerpskutter word afgebeeld met die kruis links in die skets. Hier is hy egter wrang in sy kommentaar. Dieselfde geld die tekening van Diana.

Sy skets oor Bill Clinton en Monica Lewinsky is puik. Die ballon (met Clinton se gesig daarop) verloor lug wanneer dit Monica se hand verlaat en die kommentaar onderaan is: “As dit by vrouens kom, was Bill maar nog altyd windmakerig.” Op twee ander systap ’n broeklose Bill sy kritici (voorgestel as haaie), en dan hys hy ’n vlag met vroueklere . . .

Bun Booyens wys daarop dat Mouton se sketse met datums begelei word. Sy twee voorgangers, D.C. Boonzaier (1915-1940) en T.O. Honiball (1941-1974), s’n het nie.

Die vergrype en versuime van Zuma, soos Booyens dit klinkend stel, het van Zuma die groot treffer gemaak vir sowel Mouton as vir Zapiro.

En ja, dis skynbaar moeilik om mooi mense te teken!

Hoe teken Mouton omstanders?

Hy vertel dat hy eers sulke ovalerige vorms trek. Dan sit hy oë in en ’n neus. Soms vet wange; ander kere benerige wange. En ja, dis skynbaar moeilik om mooi mense te teken!

Booyens het gelyk wanneer hy hom tipeer as ’n voortreflike portretkunstenaar wanneer hy die sestigers in 1973 skets.

Die boek karteer sy ontwikkeling vanaf sy werk onder sy mentor T.O. Honiball tot die vestiging van sy eie styl.

Ons word herinner aan vele blapse en blopse in die geskiedenis. Soms snaaks. Soms pynlik.

Dit moet saamgelees word met die studie oor Charles M. Schulz deur Lee Mendelsohn, Charlie Brown & Charlie Schulz, wat in 1970 verskyn het. Snoopy is onder andere in 1968 vereer as die humoristiese simbool vir uitstaande werk by Nasa.

Booyens se studie is ’n wonderlike boek en het ’n uitgebreide bronnelys vir verdere lees-speurwerk.

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die UK. Sy is ’n digter en romansier.

Meer oor:  Fred Mouton  |  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.