Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vreesloos, speels, vol verbeelding en gewiks

Kortverhale

Vel

Emma Bekker

PROTEA, R200

Emma Beker se kortverhaalbundel-debuut, Vel, meld aan as 15 “oorstories”, stories wat sterk rugsteun op musikaliteit, woordvaardigheid en verstaan van ritme en affek: Stories waar jy luister soos ’n kind wat vir die eerste keer ’n sprokie hoor, maar dadelik ná die afloop dit wil bespreek. Vel gaan beslis die tonge laat klap.

Hoewel nie uitsluitlik ingestel op die erotiese en menslike seksualiteit nie, is vele verhale wel ingestel op seksuele valuta, op die pogings van wyd uiteenlopende karakters, mans en vroue, verskillend in voorkoms, voorkeure en vermoëns, om ’n vastrapplek in ’n vervreemdende wêreld te vind. Seksualiteit en sensualiteit, tussen blote sensasie en diep gevoel, is onlosmaaklik deel van ons gedeelde menswees. Betekenis, versluier en stadig onthul. Sin wat omklee en inwikkel. Mens-mense, feilbaar en vol swakhede.

Meermale is daar ’n verkwiklike, skitterende speelse humor en woordspel te bespeur, selfs wanneer daar in ’n enkele verhaal ’n trajek van ontnugtering en ontstemming uitspeel. Die viering van die liggaam en vel as poort en sleutel tot ’n verhewe menslikheid val op, dog is die swakheid van die liggaam ’n voortdurende tema. Die dun membraan tussen die gesonde, lewende liggaam en die siek, afgetakelde liggaam en vel word verbeeldingryk vasgevang.

Die skrywer smokkel alte lekker met jou kop soos jy probeer uitpluis na watter rigtings die verhaal en karakters neig.

Bekker sny ’n verskeidenheid van ervarings en besinnings aan, almal omklee met die huid van intimiteit, die versugting na gemeenskap (in alle vertakkings) en genesing. Die skrywer smokkel alte lekker met jou kop soos jy probeer uitpluis na watter rigtings die verhaal en karakters neig: Telkens is die wending en die slot vol patos, gelade en onverwags. Al is die leser ook hoe ingetoë – voel sal jy voel.

Hier is ’n skrywer – vreesloos, speels, vol verbeelding en gewiks verby – wat soos ’n wafferse alchemis meet en meng en, ja, mors. Skeppende skryfkuns waar die alledaagse, abjekte en magiese skouers skuur in storiewêrelde wat om die beurt terg, vertroetel, streel, skok, verwond, vervreem en vertroos.

Die aanslag is dikwels fel – op die man af, aweregs, onverskrokke, sonder blik of bloos – maar die eerste lagie skokwaarde en suggestie gee mee om by ’n veel meer verwikkelde bestemming aan te land.

“Moederhensop” is die inleidende verhaal. Tussen moord en moederskap, gemeenskap en geweld, neem die verhaal van Moeder Martha vorm aan. Ek sal nog lank dink aan die beeld van die hoenderhaan Gabriel, wat rustig op ’n skoot sit gedurende ’n busrit en die skrywer se sensitiewe besinning oor die eertydse Rhodesië.

Van al Vel se verhale is ek die minste ingenome met “Die luiperd”, ’n storie wat soos die daaropvolgende verhaal, “Bloedverwant”, aangebied word sonder enige hoofletters en vertel word uit die perspektief van ’n jong kind. Laasgenoemde is meer uitgesponne en het ’n sterker storielyn, met veel meer om die lyf soos die betekenislae van “bloed” oopgeskryf word.

“Sybokhaar” is ’n vroeë hoogtepunt, een wat wys tot watter hoogtes die skrywer in staat is. Liela (17) kom in kontak met die eksotiese Madame Bibiana Wolnik, Pools, hare blond-blond gekleur en altyd met rooi lipstiffie, haar huis in Forest Town, Johannesburg, haar “eksotiese oester. ’n Tikkie Europese ontvlugting van ons bleek plattelandse bestaan en my portuurgroep se onbegrip” (bl. 32).

Ek haal graag ’n deel uit “Sybokhaar” aan: “Dan word ek onkant betrap. Die lengte en breedte van ’n hele vertrek is uitgevoer met ’n ‘kombers’ wat lyk of dit van angorahaar geweef is, en die kleur wissel van swart tot roomwit, met alle skakerings van roes, bruin en room tussenin. ‘Ombre’, soos die Franse dit noem, ligte kleure wat geleidelik donker word. ‘Blanket of loss’, deur ’n Duitse kunstenaar, Helmut Brandt. Dit tref my soos ’n vuishou in die maag.” (bl. 32).

“Die braai” en “Die minister” sê veel oor wit en swart en rasseverhoudinge, elk met ’n kinkel in die kabel en opvallende skilderagtigheid en tekstuur. “Openbarend”, die verhaal van ’n jong man wat net met jou praat as jy ’n goeie mens is, is innemend, terwyl “Blomme by die kruispad” oor die verhouding tussen Rus en Japannees, wat blyk 1948 te wees, illustreer wat gebeur wanneer Bekker se “gedagtes na die regte pigmente gryp”. Bekker se digterlike vermoëns word hier maksimaal ten toon gestel. Hartverskeurend en bloeiselmooi, hierdie verhaal.

Verder is “sienkomklaar”, met Magda Minaar die leser se gids tot ’n onthutsende blik op begeerte en menslikheid te midde van xenofobiese aanvalle, swanger met betekenis. “Voelvry” en “Voetstoots” illustreer hoe die “skyn van doodgewoon (soms kom) met ’n eie stel wonder­werklikhede” (bl. 105), terwyl “Wefreakkings” ’n baldadige, koffie-deur-die-neus-lag-kakofonie van kleur en woordspel maak werk deur die lens van ’n kleuterskool se Kerskonsert. Jy sal nooit, ooit weer dieselfde kyk na die drie wyse manne nie!

Die slotverhaal, “Uittreksels”, is suiwer kuns. Leo Grande, oftewel Massimo Rossi, porn-ster wat sy sterwende ma versorg, konfronteer le petit mort en die dood.

So sak die gordyn op ’n veelkantige blik op die magdom fragmente wat saam iets vorm wat ons “mens” noem. Omklee met spitsvondigheid; ’n soepel oog wat waarneem sonder om oordeel te vel. Bekker skryf met ’n veer, haar gitswart ink sweef en klou. ’n Onuitwisbare pen. Perkamentrolle vir die sensitiewe dog geharde leser, een met ’n dik vel.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies  |  Vel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.