Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vreeslose najaag van ’n skryfskim

Zirk van den Berg het met sy ‘klein’ novelle ‘Ek wens, ek wens’ die kykNET-Rapport-fiksieprys van R250 000 én die fliekprys  van R125 000 losgeslaan.

Zirk van den Berg Foto: BRENDA VELDTMAN

Wat is die verrassendste ding wat jy tydens die skryf van Ek wens, ek wens oor die skryfproses en oor jouself geleer het?

Dat jy partykeer net moet sê: Te hel met als! Ek het die ses jaar gesit met die toneel waar die seuntjie die doodskis “aanpas”, maar ek het nie geweet wat om verder met die storie van die man met die wens te maak nie. Was dit ’n fliek of TV-reeks, ’n kortverhaal of roman? En toe besluit ek eendag nou gaan ek eenvoudig die storie van begin tot einde neerskryf, sonder om my aan die formaat te steur.

Wat laat jou aanhou skryf, en spesifiek in Afrikaans?

Hieroor sou ’n sielkundige dalk veel te sê hê, maar wat my betref: Ek doen wat ek kan om die lewe vir myself draagliker en sinvoller te probeer maak, en hopelik vir ander ook. Ek kan nie musiek of kos of tafels of tuin of geld maak nie, ek kan net skryf.

Oor Afrikaans: Ek moet bely ek het jare lank in Engels geskryf, maar Afrikaanse uitgewers het sedert 2013 vir my deure oopgemaak en ek het die taal op ’n manier herontdek. Ek hou van die grinterigheid van Afrikaans en bly my verwonder aan woorde soos “beton” en “gulp”.

Hoe voed jy die kreatiewe vonk?

“Work is more fun than fun,” het Noël Coward gesê. Dis vir my lekker om te skryf. Ek skryf om te kan skryf, volg my instinkte en lê die storie en tema gaandeweg bloot. En dan redigeer en herskryf ek om hierdie avontuur met lesers te kan deel.

Watter skrywers – lewend of dood – het die grootste invloed op jou lees- en skryfgewoontes gehad of die vernaamste rol in jou ontwikkeling as skrywer gespeel?

Seker almal wat ek in my jong jare gelees het – van Die swart luiperd-reeks tot Philip K. Dick en Nabokov. Dís die mense wat gemaak het dat ek self wil skryf. Wat my die meeste inspireer is ’n sekere vreesloosheid wat ek in party skrywers raaksien, mense wat hul eie visie onbevange najaag – van die misdaadskrywer Jim Thompson en die veelsydige Romain Gary tot ’n eietydse romansier soos Andreï Makine. Skrywers met durf en styl.

Wat gaan die prysgeld vir jou koop?

Verligting! En as Covid-19 wyk, wil ek graag ’n ruk op Lüderitz gaan sit en skryf.

Waaraan werk jy tans, of wat is jou volgende skryfprojek?

Ek is besig met ligte skaafwerk aan die laaste boek in my Hochnamib-trilogie wat die verhaallyne van Die vertes in (2013) en Tweegevreet (2020) saamknoop. Dit verskyn hopelik volgende jaar. Dan is ek so kwartpad met ’n roman waarin ek iets met die verteltrant probeer wat dalk glad nie gaan werk nie. Verder verskyn my eie Engelse vertaling van Ek wens, ek wens nou in Oktober onder die titel I Wish, I Wish by die klein, onafhanklike Nieu-Seelandse uitgewer Cuba Press. Die grotes hier wou nie byt nie, en sover nog niemand in Suid-Afrika of elders nie. Maar miskien, eendag.

* Ek wens, ek wens het by Kwela verskyn en kos R230.

Uit die huldigingswoorde

Soos die Rubik-kubus op die voorblad pas alles in Ek wens, ek wens naatloos inmekaar. Die fyn afgewerkte eindproduk spreek van deeglike navorsing, slim beplanning en taalvernuf. Sonder ’n sweem sentimentaliteit vuur Van den Berg se vertelling die verbeelding aan en nooi dit die leser om saam met die karakter Seb nuwe bestaansmoontlikhede te oorweeg.

In taalgebruik vergroot die roman die reikwydte van Afrikaans deurdat dit die amper vergete betekenisse van woorde soos onskuld, eerlikheid, welwillendheid, egtheid en hoop herontgin. In dié opsig sluit dit aan by die sogenaamde nuwe opregtheid waarvan daar wêreldwyd sprake is en waarin daar op doelbewuste, maar ingeligte, wyse wegbeweeg word van postmoderne afstandelikheid, ironie en sinisme. Ek wens, ek wens is ’n boek wat die leser oplaas losruk “van hierdie aardgebonde verdomde lot” en die hoop laat vlam dat wense tóg waar kan word – die perfekte teenmiddel vir die Weltschmerz wat tans ervaar word. – prof. Thys Human, Noordwes-Universiteit (fiksie)

Ek wens, ek wens is geskryf of dit van meet af aan op die visuele vertelmedium gemik was.

Rolprente

Net so gemaklik en boeiend is die dialoog, wat soomloos tot draaiboek verwerk kan word. Hoewel die tema hom ophou met die donker dinge van die lewe en die storie by tye hartseer is, is dit ook hoopvol en soms selfs verrassend snaaks, wat die kyker geboei hou en lok om emosioneel betrokke te raak by Seb, die underdog, se reis.

Vir fliekmakers skep die twee hoofkarakters en drie wense boonop die moontlikheid om binne ’n moderne sprokiegenre met ’n gehoor te kommunikeer – een wat juis nié deur toweragtige elemente, donderslae of bonatuurlike gebeure gekenmerk word nie, maar eerder deur ’n gewone man in ’n klein bestaan wat voor ’n kernbesluit te staan kom: Waarvoor wens jy as jy net één wens het? – Gerrit Schoonhoven

Fiksie

Die ander benoemdes was wyle Harry Kalmer vir In ’n land sonder voëls (Penguin), Johan Jack Smith vir Zola (Penguin), Etienne van Heerden vir Die biblioteek aan die einde van die wêreld (Tafelberg) en Jan van Tonder vir Die verevrou (Human & Rousseau). Die keurpaneel het bestaan uit Kirby van der Merwe, Elmari Rautenbach, Thys Human en Gerrit Schoonhoven.

Rapport se resensent, Jean Meiring, sê: “Ek wens, ek wens is tegelyk baie dinge: ’n diep poel waarin die beoefenaars van die psigoanalise kan verdwyn en bowenal ’n pleitbesorger vir storievertel – ’n sprokie wat met meesterlike hale onmiddellik ’n lewe oproep.”

Ek wens, ek wens is in Junie met die W.A. Hofmeyrprys vir Afrikaanse fiksie bekroon. Van den Berg het in 2014 ook die eerste kykNET-Rapport-fliekprys vir ’n Ander mens (2013) ontvang.

Meer oor:  Zirk Van Den Berg  |  Wenner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.