Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vroue se pyn maak hom bewus van hul kapasiteit hiervoor
Prof. Jaap Durand en Verena Schoeman het hul boek, Bloedbruide vir Christus: Vrouemartelaars in die eerste eeue, in die NG kerk Berg-en-Dal in Bloemfontein bekend gestel. Foto: Charles Smith

Sy eie vroue se lyding het hom bewus gemaak van die kapasiteit van vroue om lyding te verwerk, het prof. Jaap Durand, teoloog en skrywer, gesê met die bekendstelling van sy en Verena Schoeman se boek, Bloedbruide van Christus: Vrouemartelaars van die eerste eeue.

Durand, van Stellenbosch, en Schoeman, van Bloemfontein, se boek handel oor die vrouemartelaars in die eerste eeue, veral vroue wat deur die Romeine op die brandstapel verbrand is omdat hulle nie hul Christelike geloof wou afsweer nie.

Die boekbekendstelling is in die NG kerk Berg-en-Dal in Bloemfontein gehou.

Durand het gesê hy is ’n bekeerde manlike chauvinis. Sy eerste vrou wat op 51-jarige ouderdom ná ’n ontsettende lyding aan kanker gesterf het, “het ’n geloofsmoed gehad waarvan ’n mens stil word”.

Sy tweede vrou, Sonja Bell, was ’n uiters begaafde pianis, maar sy speel nie meer nie. Ná die verwydering van vyf melanome en die bewussyn van ’n groeiende demensie, het sy opgehou.

“As jy nie goed kan speel nie, speel jy nie meer nie,” is haar houding.

“Op die een of ander wyse het ek iets geleer van ’n vrou se kapasiteit om lyding te verwerk,” sê Durand.

Bloedweinig aandag is aan vrouemartelaars gegee, en in Afrikaans amper niks, sê hy.

Omtrent al die geskiedenisboeke oor martelaars gaan oor mans, daarom het hy op vroue gefokus. Hy het na mans soos Stefanus in die Nuwe Testament en Polikarpos in die tweede eeu en die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer verwys. Die groot Augustinus was ’n uitsondering.

Schoeman sê hul navorsing het gegaan oor “totaal onbekende vroue, merkwaardige vroue en gelowige Christenvroue” wat tydens die Romeinse heerskappy in Europa en Noord-Afrika geleef het – ’n tydperk waartydens die Romeinse atleet bewonder is. Die vroue het die Romeinse kultuur aanvaar en daarvolgens geleef, maar is vir hul Christenskap vervolg.

Só ’n vrou was Blandina, wat saam met haar eienares die Christelike geloof bely het en ontsettende vervolging verduur het.

“Sy was ’n tenger, jong meisie en niemand het gedink sy sou al die foltering wat sy moes verduur, kon deurstaan nie. Maar altyddeur, biddend, word sy versterk om soos ’n manlike atleet die marteling te weerstaan.”

Daar was ook Agathonika, ’n moeder wat getuig dat sy haar kinders in God se sorg laat en onder meer nie bereid is om die Romeinse feeste by te woon nie. Sy verkies eerder die brandstapel as om haar Christelike geloof te verloën.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.