Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vroue se stryd vir vryheid

Fiksie

Skarlakenkinders

Anzil Kulsen & Nadine Blom

LUX VERBI, R220

Ses vroue, elkeen met ’n hoop bagasie op die skouer; mans met bose bedoelings; mans wat die kaiings uit die vuur moet krap wanneer dinge skeefloop . . .

So lyk die rolverdeling van Skarlakenkinders. Die tema is mensehandel.

Nadine Blom het reeds jeugverhale met die hulp van Adriaan, haar seun, geskryf. Anzil Kulsen is self ’n kinder- en jeugboekskrywer.

Die storie: Anlea, Frankie, Abby, Bianca en Ragel kom by ’n bergoord byeen om wonde te lek en heling vir die siel te vind. En wonde is daar baie. Ook wat Kirabo, die groepsleier, betref.

Daar is baie konflik, soos ’n mens sou verwag wanneer vroue met uiteenlopende persoonlikhede en wat elkeen min of meer genoeg gehad het van die lewe, byeengebring word. Maar die stekels word stomper soos begrip en deernis toeneem. Soos wat ’n mens sou verwag, bereik elke vrou ’n mate van afsluiting en hoop (en goeie voornemens) vir die toekoms.

Dan word een van die vroue ontvoer deur ’n figuur uit haar verlede wat haar as seksslaaf landuit wil neem. Dringendheid tree in: Die vroue moet haar vind. Waar begin hulle soek? Hoe bevry jy iemand uit die kloue van rampokkers? Die polisie is aanvanklik nie behulpsaam nie.

Tyd om die ridders in te roep, trawante met name soos “Yster” wie se roeping dit is om vroue aan die mensehandelketting te ontruk. Dié manne vat nie twak nie.

’n Mens wonder hoekom Blom nie op haar eie iets wil skryf nie. En hoe werk dit wanneer twee skrywers sáám ’n boek pleeg? Maak hulle beurte om koffie aan te dra en ’n paar woorde te tik? Maar dis die eindresultaat, die bóék, wat beoordeel moet word.

Skarlakenkinders is simplisties geskryf. Mensehandel is ’n ernstige kwessie en die skrywers is daarop uit om soveel aandag as moontlik daarop te vestig. Die verhaal lees vlot en boeiend. Om uit meervoudige perspektiewe te skryf (die karakters kry beurte om as “hoofkarakter” op te tree) is geslaagd en verskaf ewewigtigheid.

Daar duik soms stylfoute op, soos op bl. 5: “Rou snikke breek uit haar borskas.” Op bl. 108 lees ons van krimpvarkies waarmee daar “geteël” wil word – êrens is ’n redakteur aan die slaap betrap.

Geteëlde krimpvarkies ten spyt: Die skrywers het ten doel gehad om versoening onder hul karakters te bewerkstellig, om hulle op ’n pad na afsluiting van ’n soms verskriklike verlede te plaas én ’n belangrike kwessie te belig.

Daarvoor hoef hulle nie om verskoning te vra nie. En hulle slaag goed in die doel wat hulle vir hulleself gestel het.

J.B. Roux is ’n vryskutresensent van Riebeek-Wes.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.