Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vroue verhef hul stem

Boekdrukkerye kom stadigaan aan die gang en boekwinkels doen weer sake... hopelik land Renèe Rautenbach Conradie se debuutroman en ’n nuwe bundel met feministiese essays wat reeds as e-boek beskikbaar is, gou in gedrukte vorm op die rak.

Die oudjoernalis Renèe Rautenbach Conradie se debuutroman, Met die Vierkleur in Parys, verskyn aanstaande maand by Protea Boekhuis, al het sy reeds tien jaar gelede ’n eerste weergawe as deel van ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria voltooi.

Dié historiese liefdesverhaal, wat aanvanklik Paul Roux en later Stempels geheet het, handel oor ’n jong Bolandse argitek, Paul Roux, wat help ontwerp aan die Suid-Afrikaanse paviljoen by die Wêreldskou in Parys in 1900.

Die Tweede Vryheidsoorlog woed en in Parys is die sentimente oorheersend pro-Boer en anti-Brit. Paul se Joodse geliefde wag in Kaapstad, maar hy word natuurlik gou-gou verlei deur die absint, nagklubs, dansende meisies en al die ander aanloklikhede in die guitige stad van die liefde.

Volgens die uitgewer ervaar die leser saam met hom die kleure en geure van jolige Parys en ’n brok van ons geskiedenis wat aan vele heeltemal onbekend is.

Rautenbach Conradie het saam met haar diplomaatman, Leo, in etlike wêreldstede gewoon, onder meer Marseille en Parys, wat haar nuuskierigheid oor spesifiek die Franse gesindheid in die Anglo-Boereoorlog aangevuur het.

Haar verhandeling, wat onder leiding van prof. Henning Pieterse voltooi is, probeer vasstel of liminale prosesse, drumpeloorgange en transformasie deur die verskuiwing van sosiogeografiese omgewing teweeggebring kan word.

Dit is aanlyn te lees saam met die vroeëre weergawe van die roman. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R195.

“Ek glo nie in die idee van ’n universele feminisme wat vir almal gaan werk nie,” skryf Jen Thorpe in die inleiding van Living While Feminist: Our Bodies, Our Truths, ’n nuwe versameling feministiese essays, gedigte en essay-lengte memoires wat hierdie uiteenlopende, dikwels teenstrydige standpunte weerspieël en bedoel is om lesers “meer ingelig, meer bedagsaam en meer openhartig” te maak.

Dié sagtebandboek van 288 bladsye bevat 51 stukke wat verdeel is in nege afdelings met die titels Skin, Hair, Sex, Safety, Change, Becoming, Health, Institutions en Heart. Die bundel volg op Feminism is: South Africans Speak Their Truth, ’n eerste versameling feministiese essays wat Thorpe in 2018 byeengebring het.

In Suid-Afrika met sy skokkend hoë vlakke van geslags- en strukturele of patriargale geweld is “living while feminist” ’n dringende, dapper daad en “ ’n keuse om vryheid vir jouself én ander na te jaag op ’n manier wat nie enige skeiding tussen die twee toelaat nie”, skryf Thorpe verder.

Van die stukke is gewaarborg om jou dalk woedend of opgewonde te maak, maar dit gee aan vroue ’n stem en ondersoek hoe vroue se liggame en gesondheid verander en hoe hulle verstrik raak én hulleself verstrik in allerlei gevestigde opvattings.

Begrippe soos patriargie en heteronormatiwiteit het die gewoonte om alles besonder swaarwigtig te laat klink, maar daar is sowaar ook heelwat om oor te lag of te wonder. Uitgewer: Kwela. Prys: R260.

Meer oor:  Vroueregte  |  Feminisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.