Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vuis-in-die-lug-ode aan vrou

Fiksie

Kantelpunt

Sophia Kapp

LAPA, R315

Godvresend, onderdanig, gehoorsaam, ondersteunend en aanvaardend – dit is Nellie van der Merwe. Sy maak die regte geluide, doen haar deel, byt op haar lip en is nie dwarstrekkerig nie. Sy is die verpersoonliking van wat die patriargale samelewing van haar verwag om te wees. . . en sy is tot in haar siel toe moeg, afgestomp, hartseer en getraumatiseer.

Die leser leer Nellie ken wanneer sy vir haar jaarlikse besoek aan die ginekoloog gaan – ’n onbenydenswaardige ondervinding vir elke vrou. Hierdie keer, egter, is dit nog erger, want die nuwe ginekoloog vra moeilike vrae wat ou wonde oopkrap en sy vind boonop uit dat sy ’n histerektomie moet ondergaan.

Die pad voor en ná Nellie se histerektomie word as ’t ware haar opstandingsreis: sy besef waarhede oor haarself, haar huwelik en haar familie. Vir die eerste keer sien sy haar lewe vir wat dit werklik is – keuses wat sy gemaak het, wat sy oorgesien het, wat sy nie wou sien nie, wat sy maar geleer het om mee saam te leef en dit wat aan haar gedoen is.

Kantelpunt is ’n uiters interessante werk wat geskryf is op die Hipomnemata-formaat. Hipomnemata beteken “herinneringe” in Grieks en verwys na ’n versameling aanhalings, inskrywings, navorsingsuittreksels en idees ter ondersteuning van die skrywer se lewensverhaal. Nellie se verhaal is deurspek met, onder meer, navorsingstukke, boek- en rolprentuittreksels asook dagboek-inskrywings wat haar gedagtepatroon illustreer en die leser insig gee in haar binnestem en intellek. Hierdie hipomnemata-formaat doen meer as net die blote vertel van ’n storie: dit voed op, konfronteer op ’n morele vlak, hou ’n spieël op en neem ook die leser op ’n persoonlike ontdekkingsreis.

Sophia Kapp, ’n vorige ATKV-Veertjiewenner, bekend vir liefdesromans soos Erflating, Driehoek en Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva, slaan hiermee ’n nuwe rigting in. Sy ondersoek die omgewings-, oortuigings- en verwagtingslens waardeur ’n wit, middeljarige Afrikaanse vrou haar lewe beskou, sowel as die gevolge wanneer sy die status quo uitdaag. Nellie se storie is ’n veelvlakkige ontwakings- en bewuswordingstog waar familie-dinamika, feminisme, seksuele trauma, rassisme, seksisme, homofobie, emigrasie en vele ander netelige maar belangrike onderwerpe aangeraak word.

Hierdie boek se tydsberekening is uiters gepas in die lig van veldtogte soos #MeToo, sowel as die globale bewusmaking van geslagsgelykheid, onregverdige behandeling, fisieke en seksuele aanranding en die vernedering van vroue. Kantelpunt is ’n heerlike vuis-in-die-lug-ode aan die innerlike krag van die hedendaagse vrou.

* Koop die boek hier by takealot.

Stella Fourie is ’n vryskutresensent van Brackenfell in die Kaap.

Meer oor:  Boek  |  Fiksie  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.