Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vyf vroue ontdek die krag in hulself

Aanhangers van Ivan Botha en Donnalee Roberts sal veel plesier hê aan die roman ‘Stroomop’,  meen Deborah Steinmair.

Stroomop deur Adeline Radloff. Uitgewer: Queillerie. Prys: R240.

Ivan Botha en Donnalee Roberts is suksesvolle rolprentmakers met treffers soos die romantiese avontuurkomedie Pad na jou hart (2014) en Vir altyd (2016) op hul kerfstok.

Albei dié rolprente is deur François Bloemhof tot romans verwerk, maar hul jongste draaiboek (saam met Sean Robert Daniels) is deur die bekroonde jeugboekskrywer Adeline Radloff tot roman geprakseer.

Die premis is nie nuut nie, maar wat is? Vyf vroue is op hul eie gestrand en oorgelewer aan die wildernis, koue, versengende hitte, verraderlike stroomversnellings, slange en hiënas, soos in Shirley Conran se Savages, wat in 1987 gepubliseer is.

Anders as die seuntjies in Lord of the Flies ontdek die vroue op die mespunt van oorlewing empatie en spanwerk. Elkeen word uiteindelik gekonfronteer met die krag in haarself.

Lana is ’n chirurg wat aan posttraumatiese stres en uitgestelde rou ly, wat haar gevoelens onderdruk en haar oor ’n mik werk tot haar skalpel-hand begin bewe. Diona is ’n werkolis wie se man verongeluk het, en haar dogter, Nixie, is verpletter, koester woede en bewaar ’n geheim. Vivian is ’n angstige, eensame data-analis met selfmoordneigings. Adrie is ’n mollige huisvrou en ma van drie seuntjies wat in ’n tuimeldroërsiklus vasgevang is.

Dit lees soos ’n fliek, wat nie ’n slegte ding is nie.

Hulle beland saam in groepterapie en deel daarvan is ’n rivierroei-uitstappie op die Oranjerivier wat verstommende eise stel. Ervare roeiers het al beswyk.

Aanvanklik kan hulle om die dood nie saamwerk nie. Hul geredekawel en dwarstrekkery het amper noodlottige gevolge wanneer hul boot omslaan en hulle aantreklike gids vir dood op ’n eiland uitspoel met ’n stok deur sy sy. Die verdwaalde, strompelende vroue is nou op hulself aangewese en aan die natuur uitgelewer.

Algaande vind hulle hul ritme en ontdek verstommende vermoëns en vaardighede. Hulle begin ook werklik hul onderskeie traumas met mekaar deel en hulself en mekaar aanvaar. Die subtitel is immers: “Raak verlore, vind jouself.”

Die roman lees soos ’n fliek, wat nie noodwendig ’n slegte ding is nie: Die leser sien nie net die gebeure voor haar afspeel en kry soos deur die oog van ’n kamera ’n kykie op deurslaggewende oomblikke in elke vrou se lewe nie, maar navigeer ook met wit kneukels kolkende maalstrome en glip rakelings by vlymskerp rotse verby. Beleef operasies met ’n knipmes en sonder narkose, veg teen honger, dors, dehidrasie en dreigende infeksie. Kan die susters dit vir hulself doen en hulself én hul gids red? Die uurglas loop leeg, die adrenalien bruis en die hiënas sirkel.

Die boek is aantreklik uitgegee met stilfoto’s uit die rolprent tussen die hoofstukke, sodat dit later voel of ’n mens die fliek gesien het.

Waarom sal ’n mens dit steeds gaan kyk? Die natuurtonele sal pikaresk wees, met skote van sterbesaaide nagte, woedende waters, verlate landskappe en mooi vroue wat vuil, bebloed en verbrand is.

Aanhangers van Botha en Roberts se flieks sal die boek geniet. Dis knap en toeganklik, met humor, menslikheid en ’n knippie romanse.

  • Deborah Steinmair is ’n skrywer en taalpraktisyn.
Meer oor:  Stroomop  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.