Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vygie en keurtjie: gewonne in die vertaling

Hoe getrou moet ’n vertaling aan die oorspronklike gedig bly? Dit is ’n vraag wat dikwels by werksessies vir aspirantvertalers opduik.

Die eenvoudige antwoord is: So getrou as moontlik. Maar as die vertaler self ’n digter is, word die vertaling soms onvermydelik ’n nuwe gedig, ’n eie skepping.

D.J. Opperman het byvoorbeeld van Uys Krige gesê dat sy vertalings neig tot oorspronklike werk, en sy oorspronklike werk tot vertalings!

Die twee mooiste Afrikaanse vertalings wat ek ken van klassieke gedigte uit die wêreldletterkunde is inderwaarheid nie vertalings nie, maar nuutskeppings.

Die digter-vertaler se eie stem klink onmiskenbaar en klokhelder daarin op. En in albei gevalle sou ’n mens kon praat van verinheemsde oorsettings of “toonsettings”.

Die Amerikaanse digteres Emily Dickinson is beroemd vir haar kort, welluidende verse. Soos die volgende een:

To make a prairie it takes a clover

And one bee, –

One clover, and a bee,

And revery.

The revery alone will do

If bees are few.

Wat Dickinson sê, is dat die vrugbare verbeelding en woordvaardigheid van ’n digter genoeg is om ’n stuk natuur te skep – iets wat selfs as ’n alternatief vir die werklikheid kan dien. Al wat nodig is, is digterlike dagdromery (“revery”).

D.J. Opperman was eweneens ’n meester van die verbeeldingryke, kriptiese vers. Geen wonder dat een van die min vertalings wat hy gemaak het, juis hierdie vers van Dickinson was nie:

Om ’n Karoo te skep het jy

’n vygie nodig en een by,

een vygie en ’n by

en mymery;

is bye skaars

dan net die mymery.

Opperman verinheems die Amerikaanse “prairie” tot die Suid-Afrikaanse Karoo, en die “clover” word dan noodgedwonge ’n vygie. Al wat konstant bly, is die univer­sele by.

Met die byhaal van die Karoo en die vygie kry die leser ’n weerklank van ’n strofe uit Opperman se “Joernaal van Jorik”:

Hy staan lank by die vensterbank en kyk

na vier vetplantjies in ’n bakkie sand,

en sand en vier vetplantjies groei en wyk

tot oopgestrekte kaaltes van sy land.

Net soos by Dickinson word hier verbeeldend ’n wydse ruimte geskep met die minimum gegewe – die gereduseerde essensie verteenwoordig ’n veel groter geheel.

Die ware digter bly dus getrou aan sy eie aard en poëtiese universum, selfs wanneer hy ’n digter van die ander kant van die aardbol vertaal.

Dieselfde geld vir Marlene van Niekerk se verafrikaansing van Goethe se tydlose “Wandrers Nachtlied” (ook bekend as “Ein gleiches”).

Goethe se wandelaar bevind hom in ’n bergagtige gebied van Duitsland terwyl dit aand word. Van Niekerk het die geografiese omgewing nie net ver-Suid-Afrikaans nie, maar haar unieke digterstem word ook duidelik hoorbaar.

Gunther Pakendorf het ’n getroue en goed geslaagde vertaling van Goethe se ­gedig gemaak:

Oor alle berge

Is daar rus,

Oor alle bome

Is jy skaars bewus

Van die ligste bries;

Die voëltjies raak stil in die woud.

Wag maar net, nou-nou

Sal jy ook rus.

Hier is Van Niekerk se eiesinnige weer­gawe uit haar novelle Memorandum
van 2006:

Op alle hoogtes

heers rus,

in die keurtjies

speur jy geen wind,

die suikervoëls swyg in die fynbos.

Stil maar,

straks rus jy ook, my kind.

In plaas van ’n wandelaar wat in die aand – al neurieënd – met homself praat, maak Van Niekerk van die woorde ’n wiegelied, soos blyk uit die aanspreek van ’n kind in die slot. In albei gedigte word met die woord “rus” nie net die slaap bedoel nie, maar ook die dood.

Dit val dadelik op dat sy Goethe se generiese “bome”, “voëltjies” en “woud” na die Wes-Kaap verplaas met die baie spesifiek benoemde “keurtjies”, “suikervoëls” en “fynbos”.

In Van Niekerk se digbundel Sprokkelster (1977) kom die keurtjiebos meermale voor. In die gedig “Lentelied” word ’n berg inderdaad as die habitat van dié blomstruik aangedui:

die keurtjiebos groei pers vanjaar

op grootwinterhoek se piek.

In ’n ander gedig sit ’n voël, die kokkewiet, in die struik:

iewers in ’n keurtjiebos hik

en hik ’n kokkewiet.

Daardie hikkende kokkewiet is die digter self wat in haar vertroude omgewing haarself sit en verklik.

Digters is soms onbetroubare vertalers, maar hul skeppings word ’n ingeburgerde, onlosmaaklike deel van hul oeuvre – en daarom onmisbaar.

Meer oor:  Daniel Hugo  |  Gedigte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.