Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Waardevolle Afrikaanse spanning wat kalibreer

Spanningsfiksie

Skag

Jaco Wolmarans

TAFELBERG, R310

Op ’n naaldpunt.

Dít is hoe die politieke situasie in Suid-Afrika teen die einde van die tagtigerjare daar uitgesien het. Met feitlik geen beweegruimte meer oor nie, het die regering van destyds geen ander keuse as om met hul toenmalige nemesis te begin onderhandel nie.

Toenemende internasionale isolasie dwing die regering van die dag om politieke skuiwe te maak ten einde ’n skaakmat-situasie te vermy. Verdeeldheid in regeringskringe oor hoe die situasie hanteer moet word, bemoeilik egter sake verder. Asof dit nie moeilik genoeg is nie, is daar mense wat weier om die realiteit te erken. Veg terug is hulle dictum.

Met Skag neem Jaco Wolmarans die leser terug na ’n tyd toe daar Afrikaans in die Uniegebou gepraat is, die veiligheidsmagte se taktiese paraatheid ’n wesenlike faktor was en die regering se flirtasie met kernwapentuig ’n mens se hare met terugskouing behoorlik laat rys. Want wat as . . .?

Op soek na avontuur en om tot sy land se veiligheid by te dra, is waarom sersant Jos Fourie by die weermag aangesluit het. Nie dat sy patriotisme sy welgestelde ouers geval nie. Vir ’n jongman met sy akademiese vermoëns, is sy beroepskeuse wat hulle betref twyfelagtig.

Dit is juis omdat Jos uitblink in sy opleiding en maritieme kennis dat kolonel Swartjan Beetge van Teenintelligensie sy oog op hom het om te help met ’n klandestiene operasie wat die vervoer van missiele vanaf Duitsland na Suid-Afrika behels. Die arsenaal moet so spoedig en veilig moontlik by ’n geheime skag in die Kalahari uitkom.

Beetge het ’n reputasie as iemand met wie jy nie onnodig swaarde kruis nie. Onverskrokke en vasbeslote om die land wat hy dien se veiligheid te maksimaliseer, ongeag die aanvaarbaarheid van die metodes wat hy meen ingespan moet word. ’n Gevaarlike man wat ’n ystervuis bo die sogenaamde fluweelhandskoen verkies.

Wat ’n onvoorspelbare faktor op die Vesta is, is die teenwoordigheid van Ashley Ramirez, ’n beeldskone Amerikaanse student. En Jos het nou eenmaal ’n oog vir ’n mooi vrou.

Die reis van Duitsland na Suid-Afrika verander gou in ’n hellevaart met internasionale tentakels omdat die vrag aan boord van die Vesta-vragskip op die radar van die Russe en Amerikaners is. Daar moet selfs met Nigeriese seerowers rekening gehou word.

Gelukkig is sersant Jos Fourie ’n parate soldaat – gefokus en vasberade om sy taak tot op die letter uit te voer. Wat ’n onvoorspelbare faktor op die Vesta is, is die teenwoordigheid van Ashley Ramirez, ’n beeldskone Amerikaanse student. En Jos het nou eenmaal ’n oog vir ’n mooi vrou.

Wat Jaco Wolmarans se teks merkwaardig maak, is dat hy die skemerwêreld van spioenasie en die teenwoordigheid van kerntegnologie in die hande van desperate leiers op ’n verstommend vernuftige wyse oopskryf.

Wetenskaplike tegnologie, die weermag en die konkelwerk wat donkerwerk onder die dekmantel van hoogs geheime landsgeheime is, vorm ’n toksiese brousel met angswekkende implikasies.

Waar niks en niemand is wat dit op die oog af blyk te wees nie, moet ’n man soos Jos Fourie kophou om homself nie in die proses te verloor nie. Om verby die politieke strominge getrou aan homself te bly, blyk gou sy grootste toets nog te word.

Enersyds is Skag ontvlugtingsleesvermaak uit die boonste rakke. Dit is ’n testostoroon- en adrenaliengedrewe storie wat aksievrate se stoutste verwagtinge sal oortref. Dat Afrikaans sy spiere met soveel baldadigheid kan bult, verskaf die leser groot plesier.

Nog ’n groot lekkerte van die verhaal is die verskillende ruimtes waarin die storie afspeel. Op die Noordsee, Keltiese See, oor die Atlantiese Oseaan, kloustrofobiese ruimtes op ’n vragskip en uiteindelik die Kalahari met sy sonverskroeide aarde. As leser sien, voel en ruik jy dié plekke.

Hierdie resensent is veral beïndruk met die navorsing wat die verhaal onderlê. Skag is nie ’n storie wat sommer vinnig geskryf is nie.

Of dit die historiese breë trekke is waarteen die verhaal afspeel, senior staatsamptenare wat mense soos pionne rondskuif, wetenskaplikes wat gevorderde tegnologie inspan om gevaarlike wapentuig aan die owerheid te voorsien of die weermag in die algemeen, Wolmarans het geen moeite ontsien om sy fiksie met feite te ondersteun nie. Die resultaat is ’n gesaghebbende spanningsroman – plofbaar en heroïes.

Wanneer Jaco Wolmarans nie skryf nie werk hy veral as videograaf. Dit verklaar waarom die teks ’n filmiese kwaliteit het – ’n mens sien die beelde voor jou afspeel.

Maak geen fout nie. Hierdie lekkerleesstorie met ’n snaarstywe spanningslyn het ’n aktuele relevansie wat ’n mens tot nadenke ruk. Skag is deur ware gebeure geïnspireer. Terwyl gewone Suid-Afrikaners dalk rustig geslaap het tydens die laaste apartheidsjare was daar mense in magsposisies wat gewoeker het met idees en eksperimente wat katastrofiese gevolge kon hê.

Hierdie waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse spanningsgenre se boodskap is duidelik. Soos wat die vervaardiging en hantering van kernwapentuig aan streng protokolle onderwerp word, verg ’n mens se morele kompas, veral as jy in ’n posisie van mag is, ook behoorlike kalibrering om nie die pad byster te raak nie.

Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Meer oor:  Jaco Wolmarans  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.