Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Walliams verby £100 m. met sy aweregse kinderboeke
Die Britse skrywer en komediant David Walliams.

Die verkope van die gewilde Britse skrywer David Walliams, wat ook onder Afrikaanse kinders gewild is, het pas die £100 m-kerf verbygesteek.

Dit beteken die 48-jarige komediant en beoordelaar van Britain’s Got Talent is een van die gewildste Engelse skrywers tot nog toe. Die mylpaal is pas deur die webblad Bookseller.co.uk aangekondig.

Dit volg enkele dae ná die uitreik van Walliams se nuwe kinderroman, The Beast of Buckingham Palace, wat menige kind in hul Kerskous gaan kry. Sy boeke is al in 53 tale vertaal, ingesluit Afrikaans. Dit is jaarliks die bobaasvertaler Kobus Geldenhuys se uitdaging.

Reeds in 2017 het Walliams meer boeke verkoop as JK Rowling, bekend om die Harry Potter-reeks. Hy het haar toe verbygesteek met verkope van nagenoeg £16 miljoen. Walliams word wyd geprys as die opvolger van die nimlike Roald Dahl. Sy boeke is vir die televisie en die verhoog verwerk en daar is reeds sprake van ’n temapark wat volgende jaar gebou gaan word.

Geldenhuys meen Walliams het gewis die fakkel by Dahl oorgeneem. Daar wag nog drie vertalings van Walliams se boeke in Afrikaans op hom. “Hy het net ’n aanvoeling om ’n buitekarakter te neem en interessante mense om die karakter te plaas, hy laat die grootmense altyd belaglik lyk, het geen heilige koeie nie, wys twee kante van ’n saak en beeld seksualiteit as normaal uit sonder om doekies om te draai.”

Daarby preek hy nooit in sy boeke nie, sê Geldenhuys. “Hy doen ongelooflik baie vir geletterdheid in Brittanje en werk met gestremde kinders in voorleesprogramme.”

Geldenhuys meen daar is nie ’n resep nie. “Hy stoomroller deur stories, elke keer dink ek, ek gaan nou herhaling by hom vind, dan vang hy my weer opnuut. Ek giggel lekker agter my rekenaar.” Hy het onder meer Mr Stink (Mnr Stink, 2016), The Boy in the Dress (Die seun in die rok, 2017), Gangsta Granny (Ouma is ’n kroek, 2015, 2017) en Billionaire Boy (Boudebiljoenêr, 2016), Ratburger (Rotburger, 2015) en Demon Dentist (Die tandeterroris, 2017) vertaal.

• Walliams se nuwe boek bevat dalk nie sy gebruiklike humoristiese eskapades nie, maar hy belowe dat daar wel aweregse humor is wat die lagspiere sal kielie. Dit is vreemd genoeg ’n wetenskapfiksie-fantasie en speel in 2120 af in ’n verwoeste Londen, waar die sieklike prins Alfred woon. Dié 12-jarige koninklike was nog nooit buite die paleis nie, tog word hy uitgedaag om teen die koning van die gediertes op te staan.

Walliams het bekendheid verwerf met sy en Matt Lucas se werk aan die BBC-reekse Little Brittain en Come Fly with Me. Hy is ook ’n beoordelaar vir Britain’s Got Talent.

Sy eerste kinderboek, The Boy in the Dress het in 2008 verskyn. Meer as 25 miljoen kopieë van sy boeke is al wêreldwyd verkoop.

Meer oor:  David Walliams  |  Kinderboeke  |  Kobus Geldenhuys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.