Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Wanneer die reis die bestemming is

Elders & Ons Camino

Erns Grundling & Pienkes du Plessis

QUEILLERIE, R250 & SELFPUBLIKASIE, R295

Daar is ’n oormaat van leesstof oor die Camino Francés, die bekende en gewilde pelgrimstog in Spanje. Jy sal heel waarskynlik die moordende 900 km se staproete van Saint-Jean-Pied-de-Port in Frankryk af tot by Santiago de Compostela in Spanje met boeke oor die staptog kan teer.

Maar om dié reis uit ’n Suid-Afrikaner se pen te lees, en dít nogal in Afrikaans, is beslis so besonders soos die mistieke elemente op hierdie gesogte staproete.

Twee Suid-Afrikaners het in 2015 hierdie pelgrimstog aangepak en besluit om boeke daaroor te skryf.

Die Weg-joernalis Erns Grundling het met Elders: My 1 025 km te voet langs die Camino (Queillerie), sy fyn waarnemingsvermoë ingespan om die kleure en geure van sy alleenreis op die Camino vas te vang.

Die skrywer Pienkes du Plessis het ook sy hand gewaag aan ’n boek, Ons Camino, ’n Spaanse avontuur, wat hy privaat uitgegee het nadat hy en sy vrou, Lizzie, die staproete aangedurf het.

Uiteraard verskil elke stapper se ervaring wat dié roete stap, maar die leser sal gou agterkom dat jy met een van die boeke ­triomfantlik gaan voel of jy self saam die pelgrims se gesnork in albergues (’n herberg vir pelgrims op die Camino) oornag het en selfs nog verder as Santiago gestap het. Tot by die einde van die wêreld – Finisterre.

Die ander een gaan jou soos ’n pelgrim met flenterskoene en skeenpyne (shin splints) laat voel, wat geen lêplek vir sy moeë lyf kon vind nie.

“Ek kan werklik nie wag om vir ses weke afstand te doen van my foon nie,” skryf Erns net voordat hy die staptog oor 40 dae sou aanpak.

“Om volledig onder die radar te beweeg en nie aanhoudend onder die beleg te voel van boodskappe en bemarking nie.

“Om weer te probeer onthou en te ervaar hoe dit was voor ons almal met slimfone begin rondloop het.”

Erns het sy staptog as ’n “digitale detoks” beskou en nie sy kamera of foon saamgevat nie.

Erns het sy staptog as ’n “digitale detoks” beskou en nie sy kamera of foon saamgevat nie.

Dus moet die leser op sy ryk vertelvermoë staatmaak om ’n prentjie te skets, aangesien daar net ’n paar foto’s in Elders verskyn wat medestappers aan hom ge-e-pos het.

Vir Erns was die Camino nie net ’n staptog nie, maar ’n reis van die siel, ’n gewaarwording van die self wat hy al te goed kan beskryf.

Hy slaag daarin om nes ’n goeie storieboek wat karakterontwikkeling het, ook sy eie ontwikkeling op die Camino vas te vang.

Hy skryf oor die Comodo-drake wat ’n buffel sal byt en dae aaneen sal wag tot die dier van die byt sterf.

“Ek dink my drake stap ook saam na Santiago. Ek moet seker maak hulle kry nie kans om te byt nie.”

Later het hy hierdie “drake” van hom baasgeraak.

“Al waarop ek fokus, is my asemhaling en die ritme wat my stapstokke uitkap op die grond, soos ’n metronoom op ’n klavier.

“Wanneer ’n gedagte of vraag of versugting aanmeld, neem ek kennis daarvan, en laat dit gaan.”

As joernalis kry Erns dit goed reg om die mense wat hy op die Camino ontmoet, vas te vang, so asof jy self bladskud met “Jesus”.

“Nie die historiese of metafisiese Jesus nie, maar ’n wonderlike Baskiese oom van Sebastian met ’n kort poniestert . . .

Ná sy ontmoeting met Jesus is dit ook poëties as Erns die graffiti by een van die bruggies op die Camino raaksien.

“If Jesus was alive today, he would have walked.”

Ná Elders is dit vir ’n wyle verfrissend om Pienkes se Ons Camino met soveel kleurfoto’s te lees.

Elders is dit vir ’n wyle verfrissend om Pienkes se Ons Camino met soveel kleurfoto’s te lees. Alhoewel die foto’s nie van hoë gehalte is nie en sommer met sy slimfoon geneem is, bevestig dit wel Erns se vertellings.

Pienkes en sy vrou het nie die 1 025 km soos Erns gestap nie, maar 327 km van León Spanje tot by Santiago.

Gegewe, daar is redes daarvoor. Pienkes was reeds 80 met ’n pasaangeër toe hy in 2015 die Camino aangepak het.

Soos Erns kan die leser nie met sekerheid sê hoekom Pienkes en sy vrou die Camino gaan stap het nie, en ’n mens kry kort-kort die idee dat hulle dit net as toeriste stap.

“Daar was nie ’n spesifieke gesprek of gebeurtenis wat daartoe aanleiding gegee het nie. Net maar ’n woord hier, ’n artikel daar, en skielik staar die Camino ons in die gesig.”

Pienkes en sy vrou het ook nie die Camino in al sy glorie vasgevang om in munisipale albergues te oornag nie, en het telkemale in hotelle of private kamers gebly en dus nie die stories van die pelgrims op hul reis vasgevang nie.

Pienkes is ook nie so liries oor die albergue soos Erns toe hulle wel in een oornag nie.

“’n Mens skryf nie briewe huis toe oor die kwaliteit van ’n ontbyt in ’n albergue nie. Desayuno, sê hulle vir hierdie flentertjies kos.”

Dit kan vir die leser meer klink of Pienkes besig is om die Camino te resenseer, eerder as om hom te stap.

Sy neulerigheid hou ook nie hier op nie.

Soos ’n klaaglied van die monnike het hy selfs ’n lys van klagtes saamgestel!

“Die kos is soos kafeekos.

“Die bad is twee duim diep.

“Die bed wat mooi lyk, is hol,” is van sy klagtes oor een van die albergues waarin hulle ten duurste gaan bly het.

Gou voel dit vir jou nadat jy Elders gelees het, of Ons Camino maar net een groot Hello­peter-inskrywing oor die Camino is.

Vir iemand wat nie vir Pienkes persoonlik ken nie, gaan Ons Camino beslis nie die trefkrag hê wat Erns se Elders het nie. Nadat jy hom gelees het, gaan dit voel of jy vir Erns met sy drake en al ken, en hinkepink saam met hom die Camino gestap het.

Jacques Myburgh is ’n vryskutresensent en joernalis by Huisgenoot.

Meer oor:  Erns Grundling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.