Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ware empatie: Gee ’n tree terug

Maar die skrywer moenie die hart heeltemal uitsluit nie, skryf Herman Wasserman.

Against Empathy: The Case for Rational Compassion deur Paul Bloom. Uitgewer: The Bodley Head. Prys: Vanaf R180.

Daar is heelparty redes hiervoor, onder meer die manier waarop mediamarkte in ons land nog saamval met ras, en dat misdaad in die massa se verbeelding iets is wat aan mense in die voorstede gedoen word eerder as in die townships. Maar die kritiek dat sekere slagoffers gesien word as meer “waardig” om aandag te kry as ander, is nie beperk tot Suid-Afrika nie.

Die probleem, argumenteer Paul Bloom, professor in sielkunde aan die Yale-Universiteit in hierdie boek, het te make met hoe ons selektief empatie voel. Ons is geneig om meer empaties te wees teenoor diegene wat herkenbaar is, en met wie ons kan identifiseer. Empatie, volgens Bloom, is dus in wese hoogs selektief. Dit is soos ’n kalklig op ’n donker verhoog wat jou sekere insidente van nood baie helder laat sien, maar ander verberg. Hy wys daarop dat daar jaarliks baie meer skoolkinders in Chicago vermoor word as in ’n enkele massaskietvoorval, maar dat Amerikaners gewoond geraak het aan die “agtergrondgeruis” van misdaad in stede terwyl ’n enkele skieter in ’n skool groot opslae maak.

Die media gee uiteraard aandag aan slagoffers wie se lot die hartsnare (en beursies) van hul gehoor sal roer. Om hierdie en verskeie ander redes wat Bloom stelselmatig in sy boek uiteensit, is empatie nie ’n goeie gids vir morele optrede nie.

Nietemin het daar in onlangse jare ’n ontploffing van belangstelling in empatie plaasgevind. Die idee dat empatie – gedefinieer as die vermoë om soos ander te voel en jou in hul posisie in te dink – die oplossing is vir allerlei maatskaplike probleme en euwels, het in onlangse jare gesorg vir vele boektitels, webtuistes, blogs en YouTube-video’s wat mense wil help om meer empaties te word.

Hoewel Bloom nie ontken dat empatie mense kan help om goed te doen nie, kan dit volgens hom op die lang duur, en op groot skaal, ook skadelik wees. Sy besware teen empatie sluit in dat dit bevooroordeeld is, nie noodwendig goeie gevolge vir ’n meerderheid inhou nie, en ook pyn kan meebring vir diegene wat oormatig empaties teenoor die lyding van die wêreld ingestel is.

Die hart is nodig om jou te motiveer om die goeie te doen; die verstand is daar om jou te help besluit wat die beste manier is om dit te laat gebeur, sê Bloom. Daarom moet ons eerder poog om rasionele medelye (rational compassion) te hê en op beredeneerde wyse ons optrede te oorweeg, eerder as om ons moraliteit te grond op die vermoë om ander se pyn aan eie lyf te voel. Dit is heeltemal moontlik, meen hy, om iemand te help sonder dat jy die persoon se gevoelens deel – soos wanneer jy ’n kind gerusstel dat die donderweer onskadelik is sonder dat jy dieselfde vrees ervaar, of armes help sonder dat jy al ooit self gevoel het hoe dit is om honger te ly.

Ons moet dus doen wat werklik goed is, eerder as om dit te doen wat ons bloot goed laat voel – staan ’n treetjie terug en probeer om mededingende belange en verpligtinge op rasionele wyse teenoor mekaar op te weeg, eerder as om in die “lokval van empatie” te trap.

Bloom se argument is in sekere opsigte oortuigend, veral as ’n mens in gedagte hou dat die groot ongelykhede in ’n land soos Suid-Afrika, asook ons geskiedenis van afsonderlikheid en polarisasie daartoe meewerk dat sekere gehore beter sal identifiseer met die pyn van mense wat vir hul herkenbaar is, of ten minste in hul oë “verdienstelik” is van hul simpatie en bystand. Maar Bloom kom dikwels ook sinies oor, soos wanneer hy die ideaal van liefde teenoor vyande betwyfel. Was van die mees inspirerende mense in ons land nie juis diegene wat – soos Mandela, Tutu en Kathrada – daarin kon slaag om hul boosdoeners te vergewe nie?

’n Mens kan wel op twee punte van Bloom verskil. Eerstens is sy vertrekpunt die aanname dat mense wel ander se nood wil verlig, en sy redenasie is daarop gerig om die beste moontlike manier te vind om dit te doen. Maar dis nie te sê dat almal sodanige beweegrede voel nie – baie mense voel afgestomp vir die pyn van ander, moontlik omdat hulle magteloos voel in die aangesig van soveel lyding in die wêreld dat hulle hulself emosioneel onttrek.

Ander stel maar net in hul eie gemak en voorspoed belang, al beteken dit ten beste om die nood van ander te ignoreer en ten ergste om op ander te trap om bo te kom.

As empatie die afgestomptes help om te begin uitreik, moet ’n mens daaroor puntenerig wees?

’n Tweede kritiek is gerig op Bloom se idee van rasionele beredenering wat almal dieselfde behandel – dit herinner aan dié van die filosoof John Rawls (na wie hy ook kortliks verwys) se “sluier van onkunde” (veil of ignorance), waarvolgens die beste morele optrede berus op ’n blinde ewewigtigheid, ’n poging om almal dieselfde te behandel, ongeag wie hulle, of ons, is.

Maar hoe help dit ons om juis historiese onreg te verstaan en krities teenoor ons eie posisie te staan? Waar laat dit die morele aanspraak van regstellende aksie, byvoorbeeld? In die Suid-Afrikaanse konteks moet ons dalk eerder ’n deug-moraliteit ontwikkel deur ons ervaring en verbeelding te verbreed – deur te luister na die stemme wat ons nie gewoond is om te hoor nie, en in die skoene te gaan stap van diegene wat ons skaars ken.

Uiteindelik is dit dalk juis ’n kombinasie van die hart en die verstand wat aan ons die pad na die goeie sal aandui.

  • Wasserman doseer media-etiek aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.