Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ware familiegeheim die vonk van roman
Christine Barkhuizen le Roux

Sy’s digter, vertaler, kortverhaal- en romanskrywer. Vir haar jongste roman, sê Christine Barkhuizen le Roux vir Elmari Rautenbach, was ’n werklike familiegeheim die vonk.

Uit die bedankings agterin Drieklawerblaar blyk dit die storie het sy ontstaan in ’n ware verhaal gehad. Hoe het jy daarop afgekom?

Abré Marais van die Paarl het een middag, aangedaan, vir my die verhaal van sy familie se verlies vertel – hoe sy oupa Abraham Bier die familieplaas verloor het nadat hy vir ’n buurman borg gestaan het. Maar die wiel het gedraai, het sy oupa gesê – oor hóé, wou hy egter nooit uitwei nie. Die antwoord het Abré eers later as ’n amper middeljarige man by een van die oudste inwoners van Barrydale gehoor. Die res van die gemeenskap het óf nie geweet nie, óf dit doodgeswyg. Die verlies wat die familie ervaar het was die vonk om die roman te skryf, maar ook die tragiese geheim wat Abré laat in sy lewe eers ontdek het – daardie “wiel wat gedraai het”.

Jou vorige romans het albei gehandel oor “geheime” waarmee mense rondloop. In Padmaker, jou debuut van 2010, het jy inspirasie in jou persoonlike geskiedenis gevind . . .

Ek glo elke mens het dinge waarmee hy/sy moet vrede maak. En om dit te doen, moet jy gaan soek na en verstaan waar dit alles begin het.

In Padmaker gaan soek Katrien, ’n padmakerskind soos wat ek was, na die oorsprong van die vreemde gedrag by Ma-Kinnie, wat haar as ’n kind voortdurend emosioneel mishandel en afgeknou het. Tydens die reis praat sy onder andere met haar oorlede pa, wat – soos myne, onverwags dood is. Hy is die een wat uiteindelik nie net vir haar leer hoe ’n pad gemaak word nie, maar ook dat ’n mens moet weet waarvandaan jy kom voordat jy kan sien waarheen jy gaan.

Terselfdertyd kan ek nie anders as om te dink aan die woorde van Oriah Mountain Dreamer nie: “If we are strong enough to be weak enough, we are given a wound that never heals. It is the gift that keeps the heart open”.

Die omslag van Drieklawerblaar.

Glo jy jy moet persoonlik betrokke wees voordat jy ’n storie kan skryf, of maak dit nie saak nie?

As ek nie self betrokke is in die verhaal nie, kan ek dit gewoon nie skryf nie. Daar moet tog stukkies van ’n mens se eie persoonlikheid in van jou karakters weerspieël. En die verhaal moet my só aangryp dat ek gedronge voel om dit te skryf. Ek wil morele kwessies en veral onreg ondersoek, dinge waarmee mense dikwels nie gekonfronteer wil word nie. Of doodswyg, soos in Drieklawerblaar.

Ons het ’n wonderlike leeskring op Barrydale wat alle genres, en veral ook letterkundige werke ondersoek en lees. Tog lees ons soms ook boeke “wat jy moet lees sodat jy weet wat jy nié moet lees nie”!

Jy is ’n boervrou wat by geleentheid gesê het jy “kan darem ’n brood bak”. Tog weerklink talle invloede van elders in sowel jou prosa as digkuns. Versamel jy, soos ’n kraai, blinkgoed oral waar jy kom?

Ek is nogal ’n goeie waarnemer en het áltyd ’n notaboek in my handsak om iets neer te skryf as ek dit raakloop. Wanneer ek bestuur, skryf ek soms in die notaboek op my skoot en probeer dan later ontsyfer wat ek gekrabbel het. Maar só het ek onlangs op die plaas se grondpad die bakkie afgeskryf . . .

Ná jou vertaling van die Belgiese skrywer Ingrid van der Veken se Papawers in 2010 het jy verlede jaar die vertaling van Diane Broeckhoven se Die buitekant van Meneer Jules gepubliseer en daarna nog ’n digbundel, skynskadu. Jy het ook al kortverhale gepubliseer. Stimuleer die onderskeie genres mekaar?

Ek is mal oor die Nederlandse taal, en geniet vertaling ontsettend baie. Dit wys my waar ons uitdrukkings en segswyses vandaan kom – en soms is dit baie snaaks. Ons praat byvoorbeeld van “kop bo water hou” terwyl ons in ’n waterskaars land leef!

So, ja, die werk in verskillende genres stimuleer mekaar. Dit laat my anders na die taal kyk en die manier hoe jy dit kan inspan. Die Afrikaanse taal voel vir my dikwels na halfedelstene en mooi klippies wat jy in jou hand skommel en vat-vat totdat jy die régte een tussen duim en voorvinger raakvat.

Wat doen jy om te herlaai?

Kuier en gesels saam met goeie vriende en my drie kinders en hulle eggenote. Lag. Skilder, maar dis meer soos vakansie. Lees. Reis, as ek kan. Maar eintlik is ek dit met Mark Haddon eens, wat in ’n onderhoud in ’n Nederlandse tydskrif gesê het as hy nié skryf nie “voel ik me als een hond die niet wordt uitgelaten”. Dalk is dít die grootste herlading en stimulant: Om aan te hou.

* Drieklawerblaar verskyn by Human & Rousseau en kos R275.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.