Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ware feitefees vir jonges van gees

Dié vyf prettig geïllustreerde feiteboeke sal jong lesers aan die lees én lag kry, skryf Magdel Vorster.

Die klein boek van fantastiese feite, Die klein boek van gruwelike geheime, Die klein boek van katastrofiese kattekwaad en Die klein boek van reuserekords deur Fanie Viljoen. Uitgewer: Lapa. Prys: R40 elk.

Wetenskaap deur Leon de Villiers met illustrasies deur Linki Brand. Uitgewer: Lapa. Prys: R135.

Selfs die traagste jong lesers wat in die grendeltyd bra langtand na boeke loer, sal Fanie Viljoen se nuwe reeks humoristiese feiteboekies gemik op kinders van sewe en ouer verslind.

In Die klein boek van fantastiese feite leer lesers onder meer dat rotte kan lag as jy hulle kielie en luidiere hul asem vir 40 minute kan inhou, en tussendeur al die feite is daar raampies met grappies, soos katte wat op snikhete dae “roo-muis” verslind.

Danksy Die klein boek van reuserekords weet ons weer die grootste vuvuzela is 35 m lank. Lesers kan ook self probeer om ’n paar rekords op te stel, en ouers word aangeraai om nuwe bêreplek vir die toiletpapier te vind . . .

In Die klein boek van gruwelike geheime word verklap dat wetenskaplikes steeds oor die nut van die blindederm wonder en dat daar sowaar klippe is wat lang afstande kan aflê – stadig, maar loop lóóp hulle.

Die vierde boek, Die klein boek van katastrofiese kattekwaad, is die een waarvoor jong lesers waarskynlik self sal moet spaar, want nie alle ouers is koel nie.

Elke boek bevat ’n sertifikaat wat uitgeknip en verpersoonlik kan word, asook ’n bronnelys van webwerwe waar jy meer inligting oor die onderskeie onderwerpe kan kry.

Hoewel die bekroonde Leon de Villiers as storieverteller geen bekendstelling nodig het nie, weet sy lesers waarskynlik nie dat hy ook ’n “maloom” is nie.

Sy nuutste boek, Wetenskaap, bevat dus, anders as Viljoen se reeks feiteboekies, meer vyte as feite.

Maar De Villiers sit nie net ’n feesmaal van wetenswaardige feite voor nie. Met die een spelfout, nuutskepping en briljante woordspeling ná die ander sorg hy vir ure se pret vir kinders van agt – tot 80.

Wetenskaap is ’n boek wat in alle Afrikaanse huise moet rondlê, want enigeen sal ’n vyt of vyf waardeer waaroor jy kan nadink of lag en heel moontlik verdere stories of vyte kan skep.

De Villiers verbeel hom verskeie vyte oor feite en verduidelik dit vermaaklik, aangehelp deur Linki Brand se illustrasies in karikatuurstyl.

Só byvoorbeeld is dit ’n feit dat daar vier seisoene is, maar ’n vyt dat hulle kleintjies het wat soenmyweertjies heet.

Winter is voorheen “inter” genoem omdat dit meestal binnenshuis deurgebring word, maar tot winter herdoop nadat die w van wol bygekom het. Feit of vyt . . . of wolhaarstorie?

Lesers moenie tyd mors om “maloom” te google nie – hulle gaan dit nie opspoor nie en ek gaan ook nie die betekenis hier verklap nie. Skaf liewer Wetenskaap aan en vind veel meer uit as bloot die vytelike betekenis van “maloom”. My gunsteling is die herkoms van boeke, maar fluit-fluit, my storie is uit.

  • Magdel Vorster is ’n voormalige kinderbibliotekaresse en eienaar van ’n kinderboekwinkel wat vir oorsese publikasies oor plaaslike boeke in dié genre skryf.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.