Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Wat is 'n huis sonder 'n vader?

Sowat 60% van alle Suid-Afrikaanse kinders het nie ’n pa of enige herinnerings van een nie. In ‘Seuns sonder pa’s’ bespreek Julian Jansen dié verskynsel uit ’n persoonlike hoek, maar hy klop ook aan by kenners en mentors wat hom op die smalle weg gehou het, skryf Riette Rust.

Sy pa was die held sowel as die skurk, skryf Julian Jansen in Seuns sonder pa’s.

Toe die Jansen-gesin hul pa die nodigste gehad het, het hy eenvoudig verdwyn. Die alomteenwoordige vraag was: “Waar’s Daddy?”
Sowat 60% van alle Suid-Afrikaanse kinders het nie ’n pa of enige herinnerings van een nie. Die skrywer, ’n oudonderwyser wat as verslaggewer by Rapport werk, weet uit eie ervaring watter uitwerking vaderloosheid op jong mense kan hê. Volgens Jansen het kinders sonder ’n pa ’n chroniese, diep seer en hulle voel verwerp en verneder. “My pa het ons kinders verwond en ons dra vandag steeds die letsels,” skryf hy.

Jansen reken hy en sy broers kon maklik skollies geword het, maar “op kritieke tye in ons lewe het ons mentors gehad”.

Die skrywer het vaderloosheid wyd nagevors: Pa’s is reeds voor geboorte veronderstel om ’n band met hul kinders te vorm. ’n Kind het sy ouer in die eerste ses jaar van sy lewe nodig, maar veral ook tydens die oorgangsfase van tiener tot jong volwassene wanneer ’n vaderlose kind sy pa sal probeer vervang.

Jansen en sy sibbes het ondanks hul vaderloosheid uitgestyg.

Verwarde, gedisoriënteerde en wanhopige seuns is ’n maklike werwingsbron vir bendes, wie se oënskynlike mag, geld en sukses hulle aantrek, skryf Jansen. Middelmisbruik en -handel, asook geweld en aggressie, is dan algemeen. Dit dra by tot maatskaplike probleme soos geslagsgeweld, alkoholisme en dwelmverslawing. Tik is byvoorbeeld ’n reuseprobleem en tienerswangerskappe, identiteitskrisisse en finansies bied eweneens uitdagings.

Navorsing deur dr. Charles Flaendorp, hoof van ’n paroolraad, wys dat kinders sonder ’n vaderfiguur groter misdaadneigings toon. Jansen en sy sibbes het ondanks hul vaderloosheid uitgestyg. Hul ma, Gladys, vertel haar man het haar “verniel” en die gesin het ook werkloosheid, ysere dissipline, lyfstraf en egbreuk beleef. Ten spyte daarvan het Gladys “al die jare dieselfde gebly” en was sy die kinders se “geestelike anker”, hul “ligtoring”.

Die oorsprong van hul pa se aggressie en woede is insiggewend. Vir Jansen was sy pa tog soms sy held: As entrepreneur het hy “guts gehad” en in die weermag is hy tot majoor bevorder. Die Jansen-pa se pad tot haweloosheid was ’n tragiese een.

Die skrywer voer onderhoude met kundiges wat ’n positiewe rol in sy lewe gespeel het. “Seuns het die krag van ankers nodig,” skryf hy.

Dit sluit in geestelike, sielkundige en sosiaal-maatskaplike ankers. Die boek bevat ook ’n onderhoud met ’n gevreesde bendeleier, wat vertel van die uitwerking wat afwesige ouers op hom gehad het.

Die uitdaging van onderwysers, die inskakeling van oudgevangenes by die gemeenskap en die dilemma van enkelma’s kom ook aan die bod.

Onderwysers wat met vaderlose kinders werk, behoort eers tot die kind se hart deur te dring voordat hulle dit waag om hom oor sy huiswerk of sy optrede uit te vra, skryf Jansen. Belê dus eers in die kind voordat jy iets vereis.

Volgens Jeremy Arries kan ’n oudgevangene weer ’n produktiewe lid van die gemeenskap word. Arries het ’n ontwikkelingsprogram begin wat fokus op die rehabilitering van gevangenes op parool. Hy is ’n voormalige lid van die 28’s-tronkbende, maar het sy lewe hervorm nadat hy al in ’n drein geslaap het.

Daar is vele verhale van hoop, soos dié van “Ma Leen” (Magdaleen Adams). Sy en haar vyf dogters is ’n toonbeeld van hoe om die probleem van ’n afwesige pa met veerkragtigheid te oorkom. Ma Leen het teruggeveg teen moedeloosheid, teneergedruktheid en die wreedheid van armoede en nie toegelaat dat dit haar ambisies en drome vernietig nie.

Jansen skryf ook oor die goeie werk wat reeds deur verskeie organisasies gedoen word. (Daar is kontakbesonderhede van hulpgroepe agter ­in die boek.) Sy navorsing beklemtoon dat gemeenskappe, ook geloofsgemeenskappe, in die geheel betrokke behoort te raak by seuns wat afdwaal.

Jansen skryf goed en Seuns sonder pa’s lees maklik. Ongelukkig word feite soms herhaal. Die woord “vadering” vir fathering hinder ook. Wat van vader- of pa-wees?

Maar die hoop beskaam nie. Soos die skrywer dit stel: “As die lewe van ’n jong mens positief verander word, skep dit ’n volwaardige lewe vir daardie persoon en uiteindelik vir sy gesin en die gemeenskap.” 

* Riette Rust is ’n skrywer en vryskutresensent van Welgemoed.

Meer oor:  Julian Jansen  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.