Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Wat jy hier lees, gebéúr met mense

Christine Barkhuizen-Le Roux se nuwe roman, ‘My naam is Prins, ek slaap met die lig aan’, ontstig, maar bied ook insig in die werkinge van jeugtrauma op die psige, skryf Joan Hambidge.

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan deur Christine Barkhuizen-Le Roux. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R310.

Hierdie roman verskyn in die #MeToo-tydvak waarin mense van verskillende genderposisies ál meer krities is oor ongeregtighede en seksuele misbruik. Party van die aanklagte is reg; ander kom so lank ná die tyd dat die aanklag om verskeie redes problematies word. Akteurs verloor in ’n ommesientjie werk. Mense beland in die tronk. Die stemloses word stemhebbend.

In hierdie pakkende roman gee Chris­tine Barkhuizen-Le Roux insig in die werkinge van jeugtrauma op ’n gevoelige man, Deon. Corinne, die terapeut van die gemolesteerde, beweeg op ’n reis letterlik terug na Skuilkranz waar alles plaasgevind het, maar ook emosioneel in haar selfkonfrontasie.

Verskeie rolspelers neem deel aan dié proses van verhulling en onthulling: Frank, Corinne se predikant-eggenoot, sibbes, vaders aan albei kante, ook moeders, swyende moeders; en Sieg. Oom Engeltjie en Mama Indwe is ander karakters wat help raad gee en perspektiewe bring, terwyl Herkie die parapleeg ’n bewys is van die pyn wat die “bose simbiose” tussen mense tot gevolg het. Die vrou van die boosdoener deel eweneens ’n donker geheim met die terapeut en die leser.

Raak ’n mens ooit ontslae van die verlede of navigeer jy pynlike herinneringe?

Die leser se perspektief word grootliks deur die fokalisator, Corinne, bepaal. Saam met haar word jy ingetrek in ’n verhaal waar jy weet die ergste onthulling gaan nog kom.

Vertellings in die nou word geplaas teen die verlede in kursief. Herinnering versus verdringing. Kan ’n mens egter ooit wegkom van pyn? Of bly dit ’n iteratief-duratief, die sogenaamde praesens(tyd) van pyn wat die toekoms bepaal? Ons weet wat die antwoord is.

Die hele Freudiaanse familieromanse word hier onder die loep geneem. Bo en behalwe pedofilie ondersoek die roman ook alkoholisme, bipolariteit, gesagsfigure wat in duie stort, die kerk, die rol van die terapeut (en hier is suspension of disbelief nodig om te glo dat die terapeut wel so ’n reis mag meemaak). Misdadigheid en aanvalle op weerloses is eweneens ’n subtema.

Die verhaal word geposisioneer teen die wye doek van die seksskandaal in die Rooms-Katolieke Kerk in 2010 en die bywoning van ’n kongres in Antwerpen in November 2013.

Die roman ondersoek die rol van aandadigheid. As jy versuim om te vertel is jy net so medepligtig. Dit ondersoek ook die ambivalente gevoelens van die gemolesteerde wat dink hy is skuldig oor dít wat hom aangedoen is.

Raak ’n mens ooit ontslae van die verlede of navigeer jy gewoon pynlike ervarings en herinneringe?

Daar is ’n slim verwysing na Neil Diamond se “Morningside”:

Morningside

The old man died

And no one cried

They simply turned away

And when he died

He left a table made of nails and pride

And with his hands he carved these words inside

“For my children”

Ook ’n verhaal van Rachelle Greeff word ingebed, wat die verhaal dieper laat uitwaaier. Die rooi kombersie wat die ellende van aanvallers oor die weerlose moet gooi om haar te beskerm, word hier ’n wit kombersie (bl. 96).

Die boek is voorsien van erkennings vir verdere leeswerk oor pedofilie. Pinky Promise (2011) deur Pierre C. de Rosemond, Charles Montaldo se studie oor die profiel van pedofiele en Colm O’Gorman se boek oor die verraad van ’n priester en die wantroue in die kerk word onder meer vermeld. Daar was selfs ’n persoonlike onderhoud met hierdie man wat die pous getakel het.

Die voorblad, soos dié van Nadia de Kock se Die wolkversamelaars, is volgens hierdie leser te populisties. Albei se voorblad mislei die ernstige leser aangesien die romans verrassend is in die kompleksiteite wat aangesny word rakende trauma en herinnering.

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan is ’n roman wat ontstig. Daar is baie drade wat saamgebind word, soms met ’n groot skeut suspension of disbelief, maar jy weet terselfdertyd die grimmige boodskap is waar. Dit is so dat wát ons hier lees, wél met mense gebeur. Die skrywer wys op skuldgevoelens, die rol van die kerk, die jong kind wat ambivalent voel oor sy aandadigheid en dat pedofilie nie gelyk is aan gaywees nie.

Soms sien jy die hand van die digter wat beeldend vertel, soos “Die dag was ’n ovaal, gladgeskuurde klippie wat op die water land” (bl. 196), of “Die lug is ’n swanger vrou wat weet haar uur is naby” (bl. 188).

Dis nie ’n boek vir ’n Sondagaand nie. Lees dit saam met Die wolkversamelaars.

Albei die tekste ontleed die impak van jeugtrauma op die psige.

Dit is die einde van die “silent genera­tion”. Die outeur wil met hierdie boek ’n bydrae lewer om ongeregtighede aan die kaak te stel.

  • Prof. Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad, waar sy Afrikaans en kreatiewe skryfwerk doseer.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.