Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Wat ’n raaisel, wat ’n boek...

Net soos die koelbloedige politieke moorde op haar ouers byna 41 jaar later steeds by Liza Smit spook, spook die ‘riller’ wat sy  daaroor geskryf het steeds by Theunis Engelbrecht.

Speurders buite die Smit-moordhuis in November 1977. Foto: Gallo Images

Ek is Liza Smit deur Liza Smit en Raquel Lewis. Uitgewer: Jacana. R240

‘Watter monsters loop los rond in hierdie land?” wou Liza Smit in die 1990’s weet in ’n voorlegging oor die moord op haar ouers wat sy aan die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) gedoen het.

In November 1977 is haar ma, Jeanne Smit, 14 keer met ’n mes gesteek voordat sy doodgeskiet is; daarna is haar pa, dr. Robert Smit, Nasionale Party-kandidaat vir Springs, drie keer in sy kop, nek en maag geskiet en een keer met die mes gesteek. Dit was ’n week voor die algemene verkiesing in 1977, toe die NP nog aan die bewind was.

In sy boek Apartheid, Guns and Money: A Tale of Profit (2017) skryf Hennie van Vuuren die Smit-moorde was nie suiwer politieke moorde nie. Die wreedheid daarvan moes ook ’n duidelike boodskap uitstuur dat dieselfde lot wag op enigiemand wat dit durf waag om vrae te vra.

Robert Smit het ná sy BCom-honneursgraad (cum laude) in 1958 as Rhodes-beurshouer ’n BLitt-graad aan die Universiteit van Oxford in Brittanje voltooi en toe sy doktorsgraad met “Suid-Afrika en die internasionale handelspolitiek” as sy proefskrif-onderwerp aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Daarna het hy afvaardigings gelei na Genève om internasionale handelsooreenkomste te beding en was hy ook Suid-Afrikaanse ambassadeur by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Internasionale Bank vir Rekonstruksie en Ontwikkeling in Washington.

Wat my bybly, is die beeld van ’n besonderse vrou, ’n sterk mens.

Ná die moorde op hom en sy vrou het volop gerugte en samesweringsteorieë die ronde gedoen. Dit is duidelik dat hy ná die verkiesing ’n groot skandaal wou oopvlek. Volgens party gerugte het hy glo agtergekom dr. Nic Diederichs, destyds minister van finansies, het goud en miljarde rande in ’n kluis in Switserland versteek. Ander lui dat Smit afgekom het op valutabedrog wat na bewering deur vyf destydse NP-ministers gepleeg is. Dit is ook bekend dat Smit ’n “sanksiebreker” was wat die NP-regering gehelp het om sanksies te omseil. Smit het goeie betrekkinge gehad met die sjah van Iran en het glo ’n “perfekte model” ontwerp om olie na Suid-Afrika in te voer. Hy was ook besturende direkteur van Santam Internasionaal, ’n frontmaatskappy van die NP-regering wat gemoeid was met sanksie-omseiling.

Volgens ’n ander gerug het Smit lont geruik in die destydse departement van inligting; nog een lui dat hy inligting gehad het oor die ontwikkeling van Suid-Afrika se kernprogram en ’n ander een dat hy afgekom het op ’n grootskaalse misbruik en plundery van die destydse Geheime Verdedigingsfonds wat belastingbetalers ’n hele paar miljard rand uit die saak gejaag het. As dit op die lappe moes kom, sou dit uiteraard ’n groot bedreiging ingehou het vir die Suid-Afrikaanse weermag en sy internasionale netwerk.

Die waarheid het helaas nooit geseëvier nie, maar die WVK het wel bevind dat die Smits deur agente van die destydse Buro vir Staatsveiligheid vermoor is, dat dié moorde polities gemotiveer was “and that their deaths constitute a gross violation of human rights”.

Die Smits se dogter, Liza, was 13 toe haar ouers vermoor is. Later in haar lewe het sy met die hulp van die joernalis Alet van Rensburg self die moorde begin ondersoek. ’n Klompie mense het selfs gemeen Smit en Van Rensburg se ondersoek was baie meer volledig as dié van die polisie. Dis asof daar ’n willoosheid by die polisie was om die saak te ondersoek, asof daar ’n toesmeerdery was, asook daadwerklike pogings om enige ondersoeke te stuit.

Liza is tydens haar ondersoeke geïntimideer, veral nadat dit bekend geword het dat sy ’n voorlegging aan die WVK gaan doen oor die moorde. Sy het dreigoproepe ontvang; haar motor se remkabels is gesny; ’n elektriese kombers wat sy gehad het, is met ’n skoon, reguit snit gesny; haar telefoondrade is geknip; notas is op haar motorvoorruit gelos; elektriese toerusting, soos staafverwarmers, is onverklaarbaar aangeskakel nadat sy dit afgeskakel het . . .

Nou, 41 jaar ná die moorde, het Liza Smit al haar ervarings en herinneringe in boekvorm neergepen. Haar hele voorlegging aan die WVK destyds word ook ingesluit. Elke hoofstuk waarin Liza vertel van haar ervarings word afgewissel met hoofstukke uit haar WVK-verslag.

Gegewe die agtergrond is dit seker onnodig om te sê dit is ’n opspraakwekkende boek wat lees soos ’n riller. Besonder onthullend is dat Liza en haar broer, Robert, nie ná die moorde enige steun van haar pa se politieke vriende ontvang het nie en ook nie ’n sent uit die NP se pensioenfonds gekry het nie.

Daar is ook heelwat ander inligting wat nie voorheen in die openbare domein was nie – te veel om hier te herhaal.

Die hoofstukke waarin Liza skryf oor die emosionele hel waardeur sy is ná die moorde en wat van haar en haar broer geword het daarna is werklik aangrypend. Sy skryf openhartig, eerlik en opreg en spaar ook nie haarself nie. Die besonderhede oor haar tweede huwelik (met ’n chauvinistiese sadis) laat ’n mens yskoud word. Haar vertelling oor haar seun, Gerrie, wat verlam is ná ’n ongeluk nadat hy aanvanklik net ’n 2%-kans op oorlewing gehad het, vul ’n mens met respek.

In haar WVK-verslag noem sy ’n hele klomp name van mense wat destyds nog inligting aan die WVK-ondersoekspanne kon gee. Dié inligting is nooit opgevolg nie. ’n Mens kan maar net hoop dat mense wie se name in die boek genoem word, en wat nog leef, in dié verband deur ’n ondernemende ondersoekende joernalis genader sal word vir kommentaar.

Daar is boeke wat by ’n mens bly spook lank nadat jy hulle gelees het. Ek is Liza Smit is een van hulle. Wat my bybly, is die beeld van ’n besonderse vrou, ’n sterk mens, ondanks al die ondenkbare, skrikwekkende dinge wat met haar gebeur het. Ek haal my hoed vir haar af. Wat ’n boek.

  • Theunis Engelbrecht is ’n skrywer en joernalis.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.