Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘WAT’ sonder dié woorde maak mens soema vies

Deel XV van die ‘Woordeboek van die Afrikaanse Taal’ is einde April bekend gestel, maar ’n willekeurige steekproef het Sonja Loots laat besluit hef aan lê voor om dié woordeboek’n ware tuiste vir álle sprekers van die taal te maak.

Woordeboek van die Afrikaanse Taal Deel XV Skool – Sri Lankaans. Uitgewer: WAT. Prys: R450.

“Afrikaans in ál sy verskyningsvorme vind neerslag in die WAT: Dit is ’n tuiste vir die Afrikaans van al die sprekers van die taal – van die Kaapse Vlakte tot in die noordelike uithoeke van Suid-Afrika,” lui die inligtingstuk by Deel XV van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

Dié deel, wat alfabeties strek van “skool” tot by “Sri Lankaans”, land per toeval op my lessenaar saam met Kinnes (2018), ’n novelle deur die mateloos talentvolle Chase Rhys. Dit dien as inspirasie vir ’n steekproef om te bepaal hoeveel waarheid daar steek in die aanspraak dat die reus van Afrikaanse woordeboeke ’n tuiste bied vir al die sprekers van die taal. By voorbaat haal ek sommer ook ’n paar ander tekste deur Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer, Jolyn Phillips en Jeremy Veary van my rak af.

Ek begin sommer met “soema”, maar voel “soema” moedeloos toe ek “soema”, volledig ingeburger en te vind in al die publikasies wat om my rondgestrooi lê, nie opspoor nie – nóg op sy eie nóg as variasie van “sommer”. Raaiselagtig, want as daar plek is vir “soewlaki” as wisselvorm vir “souvlaki”, dan is daar darem seker ’n saak uit te maak vir “soema” as wisselvorm vir “sommer”? Terwyl net “som” mense in Afrikaans van soewlaki praat, praat oneindig meer van “soema”.

Ek soek ‘ghelliedrom’ omdat ek dit in Veary én Phillips raaklees?.?.?.

Kinnes speel af in ’n “skiem”, wat na ’n behuisingskema verwys. ’n Vinnige internetsoektog toon dat dit ook so gebruik word in die koerant Tygerburger en in meer as een gepubliseerde vakartikel. Ek vind “skiem” met sy ander betekenis – as ’n sinoniem van “dink” – ook in talle mediaberigte. Helaas ontbreek die woord geheel en al in die WAT.

Ek skiem dit is nogal teleurstellend en besluit om te eksperimenteer met die addendum agterin. In die inleiding van Deel XV lees ek dié addendum bevat nuwe woorde van A tot S en is dus gerig op die weerspieëling van taalvernuwing. Die woord “kaanti”, wat ek in Rhys se novelle en Jeremy Veary se memoires Jeremy vannie Elsies (2018) raaklees, vind ek egter nie. Ek vra die UWK-dosent Anastasia de Vries wat dit beteken en sy verduidelik dit is soortgelyk aan “inderwaarheid”. Lekker om sulke slim vriende te hê, maar waar laat dit mense wat op die woordeboek moet staatmaak?

Ek blaai met ’n sug verder deur my leesboeke en begin by “a”. Rhys en Trantraal gebruik “aaire” en “aireste” as sinoniem vir “eerder”: “Wanne it te veel raak, staan jy aireste oppie straat”. Die WAT is van geen hulp nie. Ek soek “abdas” nadat ek dit raaklees in Phillips se bekroonde bundel Radbraak. Ek vind dit nie.

By “b” soek ek “brasse” op. “Ek en my brasse staan oppie parkie,” skryf Trantraal. Brasse Vannie Kaap, dink ek. Maar “brasse” is nie daar nie.

By “c” soek ek “char”. Sy het voorheen vir die gesin van Nick Mallett “gechar”, vertel die kok Koelsoem Kamalie in ’n onderhoud met hierdie koerant. “Jy moet die char-werk laat staan,” praat Buti Mosi in 1978 in Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena. Daar is baie Engelse leenwoorde in die WAT, maar nie hierdie een nie. 40 jaar sedert Poppie en steeds vind mens net die Franse leenwoordfrase “char à bancs” onder “char” in die WAT.

By “d” soek ek “dydelik”, wat in Kaaps iets heeltemal anders as “duidelik” beteken. Ek kry dit nie.

Ek spring na “g” en soek vir “gallie”, wat ek in die volgende beskrywing van ’n slagter se vrou in Rhys se novelle vind: “Daai gallie met haa vyl doekie”. Watter soort vrou sou ’n gallie wees? Ek het geen idee nie en die woordeboek help my nie. Ek soek “ghelliedrom” omdat ek dit in Veary én Phillips raaklees en dit boonop ken uit ’n subtitel in Hendry Kortje se bundelQueens en Kings: Rondom ’n ghellieblik in die stofstrate van ons geheue. Dit is nie daar nie.

Voorwaarts na “h”. Die woord “haram”, uit ’n gedig van Phillips, vind ek wel, maar die betekenis van “verbode volgens die wette van Islam”, soos sy dit gebruik, ontbreek (hoewel ek dit wel in hedendaagse Nederlandse woordeboeke opspoor). Die term “maghrib” of “maghrib-tyd”, uit dieselfde gedig, ontbreek ook.

Met lae moed probeer ek uitvind wat op aarde ’n “kezzel” is. In ’n rubriek van Trantraal lees ek van iemand wat die eerste keer as “kezzel” werk en die eerste keer “ ’n kezzel vang”. Ek kry dit nie. By “l” soek ek vergeefs na “lektriek” as wisselvorm van “elektriese” en “elektrisiteit”, soos in Rhys se novelle, en Phillips se versreël “jy hoor my sing op die lektriek draad”.

Net voor ek moed opgee, betaal ek R200 vir toegang tot die elektroniese weergawe van die WAT op my selfoon en soek of ek die woorde nie dalk daar vind nie. Die hoop beskaam.

Die steekproef is weliswaar willekeurig, maar dit illustreer nietemin dat die WAT groot leemtes toon waar dit gaan om die taalgebruik van ’n inklusiewer taalgemeenskap. Dit gaan meer verg as ’n “barakat” hier en ’n “batja” daar om te sorg dat die sosiolinguistiese verskeidenheid van Afrikaans en die werklikheid van taalgebruikers weerspieël word. Dit is buitendien onduidelik waarom sommige Kaapse woorde lukraak opgeneem en ander buite rekening gelaat word. Dat woordeboeke se databasis primêr bestaan uit geskrewe taal pleks van gesproke taal, kan lankal nie meer die verweer wees nie. Kaapse Afrikaans is die skryftaal van sommige van ons beste literêre werke en boonop roem die WAT hom daarop dat dit oor die mees omvattende en verteenwoordigende streektaalversameling beskik. Die argument dat frekwent gebruikte woorde voorkeur kry, is eerder ’n argument vir die opname van sommige van die woorde hierbo genoem as daarteen.

Dit lyk of die ekserpering van gedrukte bronne en elektroniese woordkorpusse nie naastenby verteenwoordigend genoeg is nie. Die lys bronne waaruit in Deel XV aangehaal is, toon byvoorbeeld die bykans volledige afwesigheid van bruin vrouestemme. Die taalgebruik van Ronelda Kamfer, Anastasia de Vries en Jolyn Phillips behoort eweseer deel uit te maak van die WAT-woordkorpusse as dié van Elsa Joubert en Elisabeth Eybers.

Die WAT se opname van taalgebruik uit die verlede is bo verdenking, maar die proses om te sorg dat die WAT werklik ’n tuiste raak vir alle taalgebruikers, soos die mediaverklaring beweer, vorder ’n bietjie starag. Dit moet vinnig verander, want anders raak die hele projek ’n bietjie vedala.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Wat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.