Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Wat woorde uit die anderplek kan bring

Niefiksie

Boodskapper van die gode

Murray La Vita

LAPA, R230

Nou die dag skuif Candice Breitz se rare foto Ex Libris South Africa onverwags my gesigsveld binne.

Dáárop is suffel Suid-Afrikaanse boeke knus neffens mekaar ingesoldaat. Naby die regterflank van dié linie, wat die kyker ruggelings benader, is Joyce Waring se Hot Air, ’n bundeling van dié Nasionale Party-ministersvrou se rubrieke uit die laat jare sewentig.

Op my kiaathoutrak, digby die Neville Lewis-skildery wat eens bo my oupa se sittende kop gehang het, bemerk ek my eie toiingrige kopie.

Op die voorplat, onder ’n wolk blou eye shadow en Miss Balmain, betrag Joyce (die joy nouliks verdoesel) haar lesers skalks. Haar heldersiende bril rus liggies in haar hande.

Onder die tafel pronk daar sekerlik ongeërg ’n Hermès-leerhandsak.

Diva Joyce is ’n agtergedagte as ek dié netjiese klein boodskapdraer afwegend in my hande opneem. Waar sý dalk wel in daardie vreemde tyd haarself as ’n waarsegter gesien het, is die titel van Murray La Vita se boek genadiglik ironies.

By eerste ooropslag het ek wel gedemp gesjoe en gewonder of die immer-nederige skrywer van rubrieke en persoonsprofiele in die dagbladpers se kop skielik in grootte vertrippel het. Dalk soos die man in die verhaaltjie “Die storie wat M aan ons vertel het” (bl. 164), wie se bolero-hoed soos ’n akkerdop op sy kop dobber.

In die klein reghoekie wit wat Die Burger vir La Vita gegee het om bandeloos kwashale te trek, het hy presies dít gedoen.

Maar, nee. Op hierdie voorplat is die woordmeester, tóé in Snorstad met die opteken van misdaad belas, se kop weggedraai. Die aandag van sy oë is op sy ou stoomtrein van ’n Hermes-tikmasjien, wat in die titelstuk besing word.

Dis dié sagte yster, sê La Vita, wat soos Hermes, die Romeinse boodskappergod, die ondermaanse wêreld met die hiernamaals, die goderyk, dit wat nog enigsins heilig is, verbind. Wat woorde uit die anderplek bring.

Waar Waring se kommentaar meesal tydgebonde en omstandigheidsvas was, is die kort Van Alle Kante-rubrieke uit Die Burger (2006 en daarna) wat hier byeengesnoer is byna sonder uitsondering tydloos en universeel in aanslag en effek. Al deursuur ’n skerp gevoel van plek die meeste verhaaltjies – Duiwelspiek, Stellenbosch se Du Toit-stasie, die Amsterdam van Anne Frank en Van Gogh – doen dit allermins aan hul breedheid van gees of impak afbreuk.

Trouens, al is hulle in sekere opsigte oer-Afrikaans, is hulle eweneens verbasend bruikbaar vir voetnootlose vertaling.

In die klein reghoekie wit wat Die Burger vir La Vita gegee het om bandeloos kwashale te trek, het hy presies dít gedoen. En só in die opskryf van oggend-en-aandhede, van terloopshede, kry ’n tipe biografie flitsgewys gestalte – van die daaglikse wel en wee van ’n uitsonderlik aandagtige, gevoelige man en sy kring.

La Vita word tóg Hermes – ’n herout wat durende en kosbare woorde bring.

Soos die Switserse skrywer Robert Walser, na wie La Vita etlike kere verwys, het ook hý ’n brandende beheptheid met “klein, skynbaar onbenullige dinge”.

Dis óf ’n potlood óf ’n klip, wat hy jare terug op Kogelbaai opgetel het, óf ’n skildery óf ’n musiekstuk wat telkens die raaklynige vertrekpunt vir hierdie flitsies is.

Soms is die anderhalf bladsy waaruit die leeuedeel van die stukke bestaan suiwer sketse waarin die skrywer onvoorspelbare esse gooi en wat in ’n sin niks sê nie. ’n Terloopse blik op ’n skildery of ’n parkloper óf ’n musieknoot wat naderkronkel stuur sy gedagtegang en sy versigtige sinne flink van stapel. Soms, deur die slim naasmekaarstelling van dinge, sonder verklaring, het sulke stukkies tog ruim te sê – prosa-haikoes.

Andersins is daar embrioniese kortverhale, met fyn karaktertekening en ’n sweem van ’n intrige, hoe implisiet ook al, wat op ’n verrassende of humoristiese openbaring uitloop, soos die wenende vrou in “Dit lyk of sy huil oor die WVK” (bl. 70-72).

En tussendeur is daar enkele langer rubrieke, waaronder die titelstuk.

Weens hul beknoptheid en helder seggingskrag roep van die stukkies Hennie Aucamp se Kommerkrale (1989) op. Tog is hulle minder ooglopend gestileer.

In toon markeer hulle êrens tussen die stip maar baie langer sketse van Dot Serfontein en die uitbundige rubrieke van Audrey Blignault die pas. Trouens, die slotstuk, “Al die dinge waarvan ek hou” (bl. 251-252), eggo Blignault se “Die lekkerste lekker” en selfs “Husse met lang ore” op, waarmee haar bundel Met ligter tred (1967) open. Dis sekerlik toeval, maar La Vita se Bossieskraal (bl. 214) herinner aan Serfontein se Bossiesspruit (in “Die vertoning” uit Ek is maar ene (1972)).

Dis ’n tesis se taak om al die fyn drade van La Vita se sonderlinge, stilweg liriese en grootliks elliptiese kortkuns terug te trek na dié voorgangers, na Tannie se reissketse en dr. Con de Villiers se kamees. Na so baie ander.

Maar dís nie nodig nie om as leser diep geraak te word deur dié begaafde literêre flaneur wat telkens skyn uit die glimpsies lewe wat hy hier versamel wat keer op keer se herlees verg.

Só, in alle eenvoud, word La Vita tóg Hermes – ’n herout wat durende en kosbare woorde bring.

Jean Meiring is ’n regsgeleerde en vryskutresensent van Johannesburg.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.