Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Wat word van wit mense in SA verwag?

Anelia Schutte vertel in ‘For the People: A Small Town’s Struggle Against Apartheid’ hoe haar ma, ’n maatskaplike werker, gedurende die apartheidsjare die swaarkry van die inwoners in Knysna se informele nedersettings probeer verlig het, maar dié verhaal het Herman Wasserman erg ongemaklik gelaat.

For the People: A Small Town’s Struggle Against Apartheid  deur Anelia Schutte. Uitgewer: HarperCollins. Prys: R240.

Wat word van wit mense in Suid-Afrika verwag? As ’n mens deesdae die brieweblaaie van koerante of die skerms van die sosiale media gadeslaan, klink die antwoord dikwels hard en bombasties: “Niks. Los ons uit, vergeet van die verlede, snork nou maar op sonder ons. Dinge was in elk geval beter destyds as onder die ANC.”

’n Mens hoor dit soms ook van ’n jonger geslag wat voel hulle word onregverdig geblameer vir die sondes van hul vaders. Ander is meer sensitief en gaan steeds gebuk onder die skuldgevoelens van die verlede. Selfs al was hulle nie direk aandadig aan die vergrype van die apartheidsbestel nie, of al het hulle nie eens vir die Nasionale Party gestem nie, voel hulle skaam oor hul kollektiewe bevoorregting, maar weet nie regtig wat om daaraan te doen nie.

Dan is daar diegene wat steeds, soos destyds onder apartheid, met meegevoel reageer en probeer help waar hulle kan om die lyding van armes, weerloses en onderdruktes te verlig.

Dit is die verhaal van een van laasgenoemde soort wit Suid-Afrikaners wat in For the People: A Small Town’s Struggle Against Apartheid vertel word.

Anelia Schutte deel die storie van hoe haar ma, Owéna, ’n maatskaplike werker, gedurende die donker dae van apartheid in Knysna se informele nedersettings die swaarkry van die inwoners probeer verlig het. Deur middel van terugflitse na die 1980’s en gesprekke met haar ma, pa en lede van die gemeenskap met wie sy saamgewerk het, leer ken ons Owéna as ’n toegewyde maatskaplike werker wat nie net diep empatie met die lyding van die arm inwoners van haar dorp voel nie, maar wat ook met groot toewyding en harde werk gehelp het om hul swaarkry te verlig.

Ondanks haar ondersteunende man, Theron, se kommer oor haar veiligheid te midde van die onrus gedurende die noodtoestand in die land, werk Owéna onverpoos om kosskenkings te versamel, na die gebied se kinders in ’n bewaarskool om te sien, en dien as tussenganger om die nood van die mense onder die aandag van die munisipaliteit te bring en haar te beywer vir beter infrastruktuur in die arm woongebiede. In die proses is sy dikwels gewikkel in ’n stryd met die munisipale burokrasie, moet sy hard werk om die vertroue van die swart en bruin gemeenskappe te wen en het sy te kampe met die al hoe strenger apartheidswetgewing wat haar werk bemoeilik.

Met ’n kombinasie van harde werk, toewyding en verbetenheid hou sy egter vol, en lewer ’n betekenisvolle bydrae om die lewe van haar dorpsgenote te verbeter.

In ’n tyd waarin dit dikwels lyk of die houding van baie wit Suid-Afrikaners al hoe meer negatief word, onverdraagsaamheid hoogty vier en nostalgie na die ou Suid-Afrika soms aggressief uitgedruk word (kyk maar na hoe die hofbesluit om die apartheidsvlag tot haatspraak te verklaar deur baie Afrikaners ontvang is), behoort hierdie verhaal wit Suid-Afrikaners te inspireer om te bly hoop, te bly werk en te bly deel.

Maar hoekom laat die boek ’n mens dan met soveel ongemak?

Daar is verskeie moontlike redes.

Eerstens is die verteller se taalgebruik soms erg steurend en sprekend van ’n politieke naïwiteit. Die verwysing na swart “stamme” (tribes) is verouderd en onvanpas, en so ook die gebruik van die neerhalende woord “plakkerskampe” (squatter camps) om na informele nedersettings te verwys. Kwetsende woorde soos “tuinjong” (garden boy) en “nieblank” (non-white) en stereotipes oor dronk township-inwoners en onkritiese herhaling van gerugte oor regstellende aksie doen verder afbreuk aan die verteller se geloofwaardigheid.

Tweedens is daar die verteller se houding teenoor die huidige Suid-Afrika wat in kontras staan met die prentjie van familiale toewyding aan die land. In die hoofstukke wat die hedendaagse raamvertelling vorm, verwoord sy telkens haar vrees vir misdaad wat soms aan paranoia grens en ’n rasse-element verkry wanneer sy haar vrees uitspreek om ’n township te besoek of misdaad in die eerste plek sien as iets wat wit mense oorkom (daarom dat “alle wit gesinne minstens een hond besit”).

Die verteller woon geruime tyd al in Londen, en haar stem klink, dalk onbedoeld, soos dié van ’n buitestander vir wie die land al hoe onbekender geword het.

Maar miskien is die belangrikste rede vir die ongemak die manier waarop die vertelling van Owéna se lewenswerk aangebied word. Owéna se werk spreek uiteraard op sigself van medemenslikheid en sorg, maar die verteller bly onkrities oor die onderskeid tussen maatskaplike ondersteuning en die stryd teen apartheid. Owéna raak nooit betrokke by die politieke struggle teen apartheid nie. Trouens, hoewel sy nie die polisie-optrede in die townships steun nie, word dit duidelik gemaak (bl. 235) dat sy ’n doelbewuste keuse uitgeoefen het om nie betrokke te raak by “die swart mense se struggle” nie, aangesien dit “sou indruis teen die beginsels van haar werk”.

Sy beveg hoogstens klein apartheid deur ’n groep kinders ondanks die Groepsgebiedewet op ’n uitstappie na ’n “wit” strand te neem, maar kom nie in direkte opstand teen die Nasionale Party-regering wat daardie wette in stand hou nie.

Die vraag ontstaan dan: As maatskaplike en ontwikkelingswerk nie ook standpunt inneem teen politieke onreg nie, is dit dan nie maar net liefdadigheid nie?

Wat is die verskil tussen filantropie en ’n stryd vir sosiale geregtigheid?

Die probleem met liefdadigheid is dat, eerder as om sosiale magsverhoudinge te verander, dit juis die sosiale hiërargie kan bevestig. Dié wat het en wat deel, kan maklik gesien word as redders, en dié wat nie het nie as slagoffers van die noodlot eerder as van ’n sistemiese politieke ontmagtiging.

Dit is nie duidelik in watter mate hierdie houding dié van Owéna self of dié van die verteller is nie. Dat die verteller self onkundig was tydens die struggle, kan toegeskryf word aan haar jeugdigheid (die Casspirs waarmee die polisie destyds politieke protes onderdruk het, het vir haar “geklink soos die naam van die vriendelike spokie in my strokiesboeke”).

Maar haar houding teenoor hedendaagse politieke protes spreek nie van ’n radikaal ander ingesteldheid nie. Hedendaagse diensleweringsbetogings word beskryf (bl. 220) as “oproer” (riots), of “moeilikheid” (trouble) en sy ag haarself gelukkig om nie naby die brandende bande en klipgooiery te wees nie. Wanneer sy vinnig ’n foto neem van skade wat aangerig is, wend sy geen poging aan om met die aktiviste te praat om meer uit te vind oor hul griewe nie. Inteendeel, die verteller maak haar gou uit die voete om uit die pad te kom van “swart mans” in die omgewing ( bl. 219).

Deur die boek aan te bied as ’n “A Small Town’s Struggle Against Apartheid”, met ’n gebalde vuis op die voorblad, is dus iets van ’n wanvoorstelling en skep ’n verwagting van ’n politieke weerstand wat nie in die verhaal verwesenlik word nie.

Dalk moet ’n mens dan uiteindelik ’n onderskeid tref tussen Owéna se verhaal en die manier waarop dit aangebied word.

Wat kan ons leer uit Owéna se voorbeeld? In die Suid-Afrika van vandag, wat steeds gekenmerk word deur massiewe ongelykhede, voortslepende armoede en – ja, ondanks die luide protestasies van regses – wit bevoorregting, herinner sy ons in die eerste plek daaraan om sensitief te wees vir die pyn om ons, om uit te reik na diegene wat buite ons gemaksones beweeg, en om te luister na die stilgemaaktes.

Maar die manier waarop haar lewenswerk in heroënskou geneem word, opper wel ook die vraag oor wat wit Suid-Afrikaners vandag te doen staan. Om die skouers op te haal en anderpad te kyk is nie moreel regverdigbaar in die lig van ons geskiedenis nie. Om verlam te word deur skuld gaan ook niemand help nie. Maar om slegs liefdadigheid te bewys vanuit ’n posisie van bevoorregting sal nie genoeg wees nie.

Wit Suid-Afrikaners het ’n kollektiewe verantwoordelikheid om saam met hul swart landgenote te bly stry vir sosiale geregtigheid, gelykheid en transformasie wat verder sal moet strek as noodverligting.

Want daar ís steeds ’n struggle – en dis ons álmal s’n.

  • Herman Wasserman is professor in mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.