Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Weer en weer kyk na Piet Retief

Al is Jeanette Ferreira se nuwe historiese roman by tye effe hooggestemd, slaag sy daarin om ’n ryke tapisserie te weef uit twee skamele brokkies in die geskiedenisboeke, skryf Francois Smith.

Bloedlelie deur Jeanette Ferreira. Uitgewer: Lapa. Prys: R295.

Die geskiedenis het Jeanette Ferreira nou eenmaal beet. Dink aan haar ABO-reeks – Babette (1995), Catharina (1996) en Charlotta (1999) – en daarby ook Die son kom aan die seekant op (2007), haar Louis Trichardt-roman.

Dié keer takel sy Piet Retief. Nie dat 'n mens dit sou sê nie, geoordeel na die romantieserige titel en omslag. Maar dalk is dit juis die punt, want reeds met hierdie uiterlike roer Ferreira vrae aan wat aan die hart van die boek lê: Hoekom nóú Piet Retief, en hoe doen jy dit wanneer Black First Land First aan die veiligheidshekke ruk?

Juis. Hou ook rekening met die politieke betrokkenheid van Ferreira se vroeë werk en haar feminisme. Sien laasgenoemde as 'n strewe om stem te gee aan vroue wat histories stilgemaak is, en weet ook dat die bloedlelie van die titel 'n vroulike simbool is wat in hierdie roman verbind word met liefde sowel as lyding. Dit is inderdaad nie soseer die verhaal van Piet nie, maar van sy tweede vrou, Magdalena, met wie hy getroud was ten tyde van die gruwelgebeure van meer as 180 jaar gelede.

Maar wat werklik indrukwekkend is, is Ferreira se hantering van daardie verskriklike moment waarop die meeste lesers sal weet die verhaal afstuur.

Oor haar is daar net twee brokkies in die geskiedenisboeke geskryf en dit is hieruit dat Ferreira hierdie roman se ryke tapisserie geweef het.

Hoe het sy dit gedoen? Deur in die eerste instansie te weet wat die slaggate van hierdie soort geskiedskrywing is en te weet hoe om dit te vermy. Haar voetwerk kom uit die postmodernisme wat geleer het dat die eerlikste manier van vertel is om juis jou voetwerk te wys. Wys hoe jy die storie opgemaak het, lê jou oordele en vooroordele bloot. Hierdie verhaal oor Magdalena Retief is dus ook 'n verhaal oor 'n skrywer, Hanna, wat saam met haar man, Adriaan, in hul viertrek op die Retief-spore rondry. Hy is 'n historikus wat as spesialisgetuie ingespan word in grondeissake. Hul reistog, wat in 'n groot mate ook 'n uitbeelding van hul knusse “wit bevoorregting” is, word verweef met die Retief-verhaal. Veral aanvanklik verloop die hedendaagse verhaal te spanningloos, te veel in diens van eksposisie, maar uiteindelik kom ? mens tog onder die indruk van die wyse waarop hede en verlede op mekaar inspeel.

Herhaal die geskiedenis hom? Dié vraag word 'n kernelement van die intrige.

“Feite en fiksie,” mymer die skrywerkarakter, Hanna, “is alles goedjies wat later uitgesorteer kan word.” Wat belangriker is, blyk dit dan, is dat die storiemaker so ver en diep moontlik probeer kyk. Hanna weet dat as “mens ver genoeg kon kyk, sou jy sien dat jou oë jou bedrieg”. Iets is byna nooit wat dit op die oog af blyk te wees nie; om regtig te kan sien, beteken dat jy weer en weer sal kyk. En ook dat jy deur ? ander se oë probeer kyk.

Ferreira gebruik 'n derdepersoonsverteller wat telkens 'n ander karakter se perspektief op die gebeure weergee. Meestal kom Magdalena se perspektief aan die bod, maar ook Piet se gedagtes en manier van kyk leer die leser so ken, ook dié van die sendeling Francis Owen wat daar was toe die Voortrekkers oorrompel is. Die historiese verhaal word byvoorbeeld ingeraam deur die perspektief van die Nederlandse handelsreisiger Jacob Stuart wat Magdalena in 1852 op Potchefstroom besoek het en in wie se boek oor “Hollandse Afrikanen” daar een van die twee brokkies bestaande inligting oor mev. Retief is. Ferreira laat hóm opmerk dat Magdalena soos 'n digter praat, en dit is hoe die leser Magdalena in die roman leer ken, as 'n diepsinnige mens wat haar gedagtes liries en beeldryk verwoord. Die gevolg is dat Magdalena indrukwekkend eerder as lewenseg voorkom. Dat die bloedlelie te opsigtelik as simbool geplant is, dra ook by daartoe dat die boek soms 'n bietjie hooggestemd is.

Maar wat werklik indrukwekkend is, is Ferreira se hantering van daardie verskriklike moment waarop die meeste lesers sal weet die verhaal afstuur. Was dit massamoord of 'n teregstelling? Die feit is dat die suggestiewe krag waarmee dit geskryf is, jou die oë wil laat toedruk om dit nie te sien nie. Dit wil gedoen wees.

  • Dr. Francois Smith doseer Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.