Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Weerlose poging om te verstaan

Fred de Vries se ‘Blues for the White Man’ is g’n klaaglied vir die beswaarde wit man van die hede nie, maar ’n boeiende kruising tussen intieme reisjoernaal en meesleu­ren­de geskiedskrywing oor die ontstaan en betekenis van die blues – met ’n uitstekende klankbaan daarby, skryf Danie Marais.

Blues for the White Man: Hearing Black Voices in South Africa and the Deep South. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R260.

Moenie deur die titel van Fred de Vries se Blues for the White Man mislei word nie. Sy jongste boek, wat in 2019 in die Lae Lande verskyn het as Wiegelied voor de witte man, is geen klaaglied vir die beswaarde wit man van die hede nie.

De Vries, ’n gerekende Nederlandse skrywer en joernalis wat al 20 jaar in Suid-Afrika woon, neem daardie onbehae slegs as vertrekpunt vir ’n fassinerende reis op soek na die ontstaan en betekenis van die blues – die blues waarop hy as tiener in Rotterdam verlief geraak het deur die musiek van die wit manlike sterre van die jare sestig se “British blues explosion”. Hy wil uitvind wat wit bluesliefhebbers soos hy, Eric Clapton, Keith Richards en Jimmy Page dalk nooit heeltemal van die in-Mississippi-gebore swart blues kon verstaan nie.

“I wanted to know where it came from – the blues, black pain, and its toxic twin, white supremacy. And I wanted to know my position in this battle that had been raging for centuries. I wanted to visit the place where the blues was born and write about everything that came after,” verklaar hy sy missie.

De Vries stel sy vrae teen die agtergrond van die #FeesMustFall-opstande in Suid-Afrika en die #Black­LivesMatter-beweging in die VSA. In die lig van hierdie herlewing van swartbewustheidspolitiek en daarmee saam ’n radikale ongeduld met voortdurende vorms van wit oorheersing en swart onderdrukking, voel De Vries genoop om te wonder hoekom sy empatie met hierdie swart seer en woede gebrekkig voel.

“The problem, to me at least, is that ‘black pain’ is impossible to grasp. It often gets thrown into a discus­sion immediately killing any debate. It’s like the Holocaust. As an outsider, as a white person, you can’t argue, because you’ve never experienced it,” merk De Vries op.

Daar is baie ooreenkomste: kolonialisme, slawerny, die uitwissing van die inheemse bevolking, vernietigende burgeroorloë tussen wit setlaars, onderdrukkende wette wat goedkoop swart arbeid verseker, politieke moorde, fanatiese geloof in wit meerderwaardigheid, stoere anti-kommunisme op regeringsvlak, en wit, manlike oorheersing.

Om hierdie kommunikasiegaping te probeer oorbrug, maak De Vries erns met die subtitel van die boek: Hearing Black Voices in South Africa and the Deep South. Hy begeef hom op twee groot verkenningstogte deur die Amerikaanse Diep Suide en hy lees, vra en luister wyd – ook in Suid-Afrika waar hy met Fallists en BLF-aktiviste gesels en gaan besoek aflê in Limpopo by die 86-jarige pa van sy kitaaronderwyser wat in ’n plaasaanval erg aangerand is.

Die resultaat is ’n merkwaardig boeiende kruising tussen intieme reisjoernaal en meesleurende geskiedskrywing met ’n uitstekende klankbaan. Daar is ’n baie lekker lang speellys agterin die boek, maar die storie gaan eintlik net oor musiek in so verre dit met sosiopolitieke kwessies verband hou.

De Vries loop die spore van die blues na deur die geskiedenis van die Amerikaanse Burgerregtebeweging tot by die aankoms van slawe in Amerika. Hy begin sy reis in Atlanta, Georgia – deesdae die LGBTQ+-hoofstad van die Diep Suide en ’n mekka vir hip-hop. Daarna besoek hy die plekke wat sinoniem is met die musiekvorme wat onder Amerika se invloedrykste kulturele uitvoerprodukte tel: Nashville (country) en Memphis (rock ’n roll en soul) – albei in Tennessee – Clarksdale, Mississippi (die blues) en New Orleans, Louisiana, die stad vanLouis Armstrong en jazz.

De Vries word hiermee ’n musiek- en burgerregtetoeris en spoorsnyer. Oral soek hy na die spoke van historiese en kulturele keerpunte en oral word hy verras deur gewaarwordings en werklikhede wat al die algemeen aanvaarde mites ondergrawe – van die Lorraine-motel in Memphis waar Martin Luther King vermoor is tot die stowwerige kruispad buite Clarksdale waar die blueslegende Robert Johnson kwansuis sy siel aan die duiwel verkoop het.

Onderweg verken hy die groot ooreenkomste tussen die Amerikaanse Suide en sy aangenome land uit ’n groot verskeidenheid van perspektiewe. En daar is baie ooreenkomste: kolonialisme, slawerny, die uitwissing van die inheemse bevolking, vernietigende burgeroorloë tussen wit setlaars, onderdrukkende wette wat goedkoop swart arbeid verseker, politieke moorde, fanatiese geloof in wit meerderwaardigheid, stoere anti-kommunisme op regeringsvlak, en wit, manlike oorheersing.

De Vries slaag uitstekend daarin om te wys hoe hierdie geskiedenis, wat in soveel fenomenale musiek beslag gekry het, ook die hede in ’n wurggreep hou en steeds uitspeel in kwessies oor die skreiende ekonomiese ongelykhede tussen wit en swart.

Na aanleiding van sy gesprekke met radikale swart stemme soos die #BlackLivesMatter-leier in Atlanta Mary Hooks of die #FeesMustFall-aktivis in die Kaap Ramabina Mahapa sou hy skerper kritiek kon uitspreek teen die polariserende identiteitspolitiek van die hede en die “othering” waarmee dit dikwels gepaard gaan. Hy sou ook meer aandag aan die belangrike verskille tussen Suid-Afrika en die Amerikaanse Diep Suide kon gee. De Vries skryf egter nie om enige persoon of saak te regverdig nie. Sy boek is ’n weerlose poging om te verstaan. By die boekbekendstelling het hy gesê die woord “understand” kom 59 keer in sy manuskrip voor.

Aan die einde van sy soeke bly De Vries ’n oortuigde multikulturalis. Hy glo steeds nie wit is al wat hom of die musiek waarvan hy hou, kenmerk nie: “All those meetings and interviews . . . showed me how absurd the idea of identity is, whether invented by the left or the right . . . Apart from pale, male and heterosexual, I’m a hundred other things that are equally important.”

Maar saam met die leser wen hy ook nuwe begrip vir swart pyn: “Following the current identity politics doctrine, I shouldn’t even have been allowed to write this book. Or, at least, it would be expected that I would have restricted my research to the crazy ideas of a white woman in a cemetery in Selma and a couple of melancholic, somewhat bitter white men at a flea market in Jackson. [ . . .] But then I would never have stumbled upon the similarities between country and blues, and I would have dismissed those talking about ‘black pain’ as cry-babies.”

Maak nou self sin van jou vel en bevoorregting, net soos my mense eeue lank moes probeer sin maak van ons velkleur en die onreg wat daarmee gepaard gaan, is wat die kritiese swart stemme van die hede hard en duidelik vir wit mans sê. As jy wil werk maak hiervan, is De Vries se boek ’n uitstekende, vergewensgesinde plek om te begin.

  • Danie Marais is ’n digter en joernalis van Stellenbosch en die Toyota US Woordfees se publisiteits- en filmfees­koördineerder.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.