Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Welverdiende verering vir baanbreker

Ondanks enkele tekortkomings is ‘Johann de Lange 60’  ’n welverdiende verering van dié veelsydige en vernuwende skrywer wat in 2011 die Hertzogprys ontvang het, meen Ronel de Goede Foster.

Johann de Lange

Johann de Lange 60: ’n Huldiging, onder redaksie van Daniel Hugo. Uitgewer: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Prys: R260.

‘Gewaagd”, “grensoorskrydend”, “kompromisloos” en “indrukwekkend” is van die woorde wat al gebruik is om Johann de Lange se werk te beskryf; hy is ’n “baanbreker”, “taboedeurbreker” en “oopskrywer van die homoseksuele vers”.

Die huldigingsbundel Johann de Lange 60 is die vyfde in ’n reeks van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ter ere van verskeie Hertzogpryswenners – ’n edele projek.

Met 13 digbundels op sy kerfstok, twee kortverhaalbundels, ’n dagboek en etlike bloemlesings en vertalings is Johann de Lange sekerlik een van die mees produktiewe en veelsydige skrywers in Afrikaans. Sy digdebuut, Akwarelle van die dors (1982), is met die Ingrid Jonker-prys bekroon en Wordende naak (1990) met die Rapport-prys. Vir sy agtste digbundel, Die algebra van nood (2009), ontvang hy in 2011 die Hertzogprys. Hy is ook die enigste digter onder die sogenaamde Tagtigers wat tot dusver met dié prestigeprys bekroon is.

Daar is nou gay-kuberseks en kuber-cruising in virtuele en private ruimtes.

Daniel Hugo en sy medewerkers se erebundel weerspieël die veelsydigheid van De Lange se skrywerskap. In die bondige voorwoord som Hugo sy digterskap netjies op met verwysing na sy rol as vernuwer ten opsigte van die gay-erotiek, en daarnaas sy besondere tegniese vaardighede. Sy “binnenshuise studeer- en stoomkamerverse” word in elke digbundel aangevul deur “pragtige natuurgedigte en huldigingsverse vir geesgenote in die literatuur en kunste”, aldus Hugo.

Ter oriëntering van die leser word Johann de Lange 60 geopen met ’n interessante bio-bibliografiese oorsig deur Erika Terblanche, ’n aanpassing van haar “Skrywersalbum”-artikel op LitNet. Die inligting word later in die boek aangevul deur ’n persoonlike bydrae waarin Christo van der Westhuizen vertel van De Lange se redakteurskap van die Avbob-poësieprojek, asook sy mentorskap: “As mentor het hy min genade, maar hope geduld.”

Antjie Krog se eerbetoon, “veel liefs”, is ’n kreatiewe teks geskep in navolging van Fleur Jaeggy, ’n Switserse skrywer wat in Italiaans skryf. Dit bestaan uit ’n collage van teksfragmente wat Krog – in haar eie woorde – “geplunder, afgeskryf, gesteel, oorgedig, bygelieg, verraai, verdraai” het uit die werk van De Lange en ander skrywers. Die stramien van hierdie meevoerende, oorrompelende en onthutsende teks is die lewe en skryfwerk van De Lange.

Ses portuurgroep-geëvalueerde vakartikels verskyn in die huldigingsboek. Die eerste drie handel oor De Lange se poësie.

Joan Hambidge se verrykende essay, “Die gesprek tussen digters: Woord en wederwoord versus wederwoord en woord”, handel oor die komplekse wisselwerking tussen literêre “mentor” en “student” – ’n verhouding wat dikwels omgekeer word. Die netwerk van gedigte en bundels wat De Lange en Hambidge aan mekaar opdra en waarin hulle by mekaar aansluit of van mekaar verskil, is steeds uitbreidend.

So byvoorbeeld dra De Lange sy Hertzogprys-bekroonde bundel aan Hambidge op, terwyl Hambidge vier bundels aan hom opdra. In hul sinergistiese verhouding sien hulle mekaar as “boksmaat” en “skermmaat” (in die woorde van Van Wyk Louw). Verskeie gedigte uit hul oeuvres word as bewysmateriaal aangebied.

Neil Cochrane en Tanja Botha se stimulerende artikel is getitel “Representasies van gay-kuberseks en digitale cruising in die poësie van Johann de Lange”.

Twee gedigte uit Vaarwel, my effens bevlekte held (2012) en een uit Stil punt van die aarde (2014) word ontleed. Hierdie tekste word gekenmerk deur sowel ’n tematiese voortsetting van die wyse waarop De Lange gay-seksualiteit in sy vorige werk uitbeeld, as ’n verskuiwing: In plaas van die voorstelling van seksuele belewenisse in werklike en openbare ruimtes is daar nou gay-kuberseks en kuber-cruising in virtuele en private ruimtes.

Daniel Hugo verken enkele literêre verwysings in Weerlig van die ongeloof (2011), ’n bundel met 102 kwatryne. Die intertekste behels regstreekse vertalings of vrye bewerkings van ander skrywers se werk, asook herskrywings van sy eie gedigte.

Hugo begin by die eerste kwatryn, getitel “Alle bewussyn is pyn” – ’n uitspraak wat De Lange “leen” uit sy eie gedig oor Eugène Marais in Wat sag is vergaan (1995) en wat verband hou met ’n essay van laasgenoemde, “Euforiese vergiftiging” in Die siel van die aap.

Van Marais af waaier die bespreking uit na ander verwysings in die kwatryne. Hugo se vernuftige bydrae lewer bewys van De Lange se besonderse kreatiwiteit en vakmanskap.

Die volgende drie vakartikels handel oor De Lange se bloemlesings, sy prosa en sy vertalings.

Bernard Odendaal bespreek in ’n gedeë artikel die rol van De Lange as bloemleser. In die laat 1990’s stel hy twee provokerende publikasies met erotiese tekste saam: Soort soek soort: ’n Versameling alternatiewe ervarings (verhale) en Die dye trek die dye aan: Verse oor lyflike liefde, laasgenoemde in samewerking met Antjie Krog. Ná 2000 tree De Lange op as bloemleser van die werk van enkeldigters soos Lina Spies en Wilhelm Knobel. Ook ’n selfbloemlesing, Judasoog (2010), sien die lig.

Odendaal toon telkens oortuigend aan in welke mate De Lange se versamelbundels tot die kanoniseringsproses bydra – aanvanklik ter bevordering van die (gay-)erotiek as tematiese fokus, en later ter versterking van individuele digterskappe (ook sy eie).

Francois Smith ondersoek die prosa van Johann de Lange: twee kortverhaalbundels, Vreemder as fiksie en ander konterfeitsels (1996) en Tweede natuur (2000), en ’n versameling dagboekinskrywings, Gulp: Kaapse paragrawe (2017).

Smith beklemtoon twee aspekte in sy insigryke artikel: die “volgehoue en gedurfde ontginning van gay-seksualiteit” in De Lange se prosa en die “ekstreem postmodernistiese aard” van veral sy prosadebuut.

Hierdie aspekte dien volgens hom as meganismes wat die heersende norme, oorgelewerde tradisies en vaste oortuigings van die samelewing openbaar as kulturele konstruksies wat op hetero-beginsels gegrond is.

Die titel van Tony Ullyatt se artikel is “The art of failure or the art of choice? Johann de Lange’s translations of four poems by Wilma Stockenström and Allen Ginsberg’s ‘Howl’ ”. Ullyatt betoog dat ’n vertaler se strewe na “volmaaktheid” eintlik neerkom op niks meer nie as die bes moontlike “mislukking”. Meer positief gestel is dit ’n poging tot “voortreflikheid” waarby keuses deurentyd ’n deurslaggewende rol speel. Met groot deeglikheid ontleed Ullyatt verskillende voorbeelde van De Lange se uitmuntende vertalings.

Die publikasie sluit op ’n hoogtepunt af met De Lange se intrigerende vertaling van Ginsberg se “Howl”, onder die titel “Skryn”. In ’n voetnoot verduidelik hy dat hy met die vertaling ’n jaar voor Ginsberg se dood in 1997 begin het en dat dit nog steeds “ ’n werk onder konstruksie” is. Hy bestempel “Howl” as ’n “[p]rofetiese kreet wat vandag selfs nog meer relevant is as toe dit geskryf is in 1955”.

Wat die samestelling van Johann de Lange 60 betref, is die balans ongelukkig skeefgetrek. Dat slegs drie vakartikels oor De Lange se poësie handel, laat nie reg geskied aan sy omvangryke digterskap nie – dit waarvoor hy die Hertzogprys ontvang het. Die drie vakartikels oor sy prosa, sy bloemlesings en sy vertalings is saam sowat dubbel die omvang van die drie artikels oor sy poësie. In die lig van die feit dat die boek ook die dunste in die Akademie-reeks is, sou ’n bykomende artikel of twee oor De Lange se digkuns welkom gewees het. Onderwerpe en temas is daar legio, soos byvoorbeeld sy natuur- en ekologiese poësie, sy gedigte oor ikone, sy gedenkverse en sy religieuse gedigte.

In teenstelling met die ander publikasies in die reeks ontbreek die De Lange-huldiging ’n beskrywende subtitel en – groot teleurstelling – ’n bibliografie van sekondêre bronne. Benewens tipografiese probleme (veral wat onvolledige oorloopreëls boaan bladsye betref) is daar enkele setfoute (met ’n kostelike een op bladsy 147). Pluspunte is die treffende voorbladfoto deur Edrea du Toit, asook 16 foto’s van De Lange sedert die 1970’s waarvan 11 in kleur is.

Ondanks dié besware is Daniel Hugo en sy medewerkers se Johann de Lange 60 ’n welverdiende verering van hierdie veelsydige en vernuwende skrywer.

Die vyf ander bundels in die reeks fokus op Breyten Breytenbach, Adam Small, P.G. du Plessis, Pieter Fourie en Reza de Wet. Dit kos R260 per boek of R1 400 vir die stel van ses en kan regstreeks by die Akademie bestel word. Stuur ’n e-pos aan Hanlie Willemse by finansies@akademie.co.za.

  • Ronel de Goede Foster is ’n emeritusmedeprofessor van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Daniel Hugo  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.