Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Buys wen Helgaard Steyn-prys
Willem Anker Foto: Leanne Stander

En daar wen Willem Anker se grensroman Buys die vierde groot letterkundeprys in Suid-Afrika.

Die roman oor die historiese figuur Coenraad de Buys, ’n eenman-oorlogsmasjien wat vere vir enige vorm van grense voel, het pas die Helgaard Steyn-toekenning ontvang.

Die beoordelaars het eenparig hul bewondering vir Anker se roman uitgespreek. Dit is verlede jaar deur resensente en lesers as ’n grensverskuiwende werk ontvang.

Luidens die trust se verklaring is dit ’n roman “wat sweef tussen tonele van ekstreme brutaliteit en briljant liriese passasies, (en) word dit inderdaad ’n tipe mikrokosmos van en matriks vir die huidige, gewelddadige Suid-Afrikaanse samelewing”.

Die swerwer Buys is as die gevaarlikste man in die kolonie bestempel – die roman speel in die 18de eeu en die vroeë 19de eeu af in ’n Suid-Afrika waar dié legendariese trekboer gereeld met die gereg gebots het.

In ’n onderhoud met Litnet vertel Anker dat hy aangetrokke was tot die onoplosbare teenstrydighede in die karakter hoewel hy aanvanklik ’n weersin in die karakter gehad het.

“Daar was ’n klomp dinge wat my onmiddellik van die karakter afgesit het; sy rassisme, sy behandeling van die mense die naaste aan hom – selfs gerugte dat hy soos talle ander mense van sy tyd aan mensehandel deelgeneem het.”

Uitgewers het altesaam 30 titels vir die tydperk 2012 tot 2015 aan die beoordelaars voorgelê. Buys is in 2014 deur Kwêla Boeke uitgegee en Anker het reeds die Universiteit van Johannesburg se prys vir kreatiewe skryfwerk in Afrikaans, asook die WA Hofmeyr-prys en die kykNET-Rapport-boekprys vir fiksie in sy koker.

Die Helgaard Steyn-prys gaan op Dinsdag 22 November op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit aan Anker oorhandig word.

Die prys word in ’n vierjaarlikse siklus toegeken en roteer tussen die dissiplines: toonkunskomposisie, skilderkuns, letterkunde en beeldhoukuns.

Vorige wenners van die gesogte prys sluit in die komponis Peter Klatzow vir musiek, die kunstenaar Wim Botha vir visuele kuns en die skrywer Dan Sleigh vir romankuns.

Buys is Anker, dosent in kreatiewe skryfwerk en Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch, se tweede roman. Sy debuut Siegfried het in 2007 verskyn. Hy is ook welbekend en vereer as dramaturg en het die ATKV-dramaprys twee keer gewen, naamlik in 2012 vir Samsa-masjien en in 2010 vir Skrapnel. Hy voeg dit by die Sanlamprys vir Afrikaanse teater vir Slaghuis in 2006.

Anker kon Buys navors en skryf danksy die onverdeelde tyd wat die Jan Rabie/Marjorie Wallace-beurs hom gegun het.

Die Helgaard Steyn Trust het tot stand gekom uit die boedel van dr. Johan Heinrich (Jan) Steyn (1902-1983). Die trust is genoem na dr. Steyn se vader, Helgaard Steyn, ’n oud-LPR van Bloemfontein en die jongste broer van die laaste Republikeinse president van die Oranje-Vrystaat, Marthinus Theunis Steyn.

Die toekenning word om die beurt in Potchefstroom en Bloemfontein oorhandig. Volgens die boedelbepalings stel die rektore van die Noordwes-Universiteit en die Universiteit van die Vrystaat elk jaarliks ’n beoordelaar in die betrokke kunsdissipline aan; hierdie twee beoordelaars benoem ’n derde beoordelaar.

Vanjaar se beoordelaars was proff. Henning Pieterse (sameroeper, Universiteit van die Vrystaat), Hein Viljoen (Noordwes-Universiteit) en Louise Viljoen (Universiteit van Stellenbosch).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.