Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Wenkbroue lig – tog nie soos bedoel

Liefdesverhaallesers en ‘Fifty Shades of Grey’-aanhangers sal heerlik smul aan Vita du Preez se erotiese roman ‘Klaskamer’, maar Annelise Erasmus twyfel of dié soet vanieljekoek hulle enigiets oor BDSM sal leer.

Klaskamer deur Vita du Preez. Uitgewer: Wenkbrou. Prys: R285.

’n Aanhaling uit die fliek Midnight in Paris flits deur my kop toe ek Klaskamer uit die koevert haal: “If it’s bad, I’ll hate it because I hate bad writing, and if it’s good, I’ll be envious and hate all the more. You don’t want the opinion of an­other writer.”

Ek is ’n skrywer, maar ook ’n kink, soos mense wat by BDSM betrokke is in hierdie roman genoem word. Die leefstyl en filosofie daaragter is deel van my studieveld.

As skrywer herinner ek myself ’n mens durf nie appels met pere vergelyk nie. Klaskamer is eerstens ’n liefdesverhaal en Vita du Preez ’n gevestigde en gewilde skrywer wat haar lesers én die genre baie goed ken.

Die mooie Emma Louw gaan werk as au pair op die skatryk Daniel Swart se Karooplaas waar sy uitvind hy is ’n kink wat sy donker seksuele begeertes agter die geslote deur van die klaskamer (’n vertrek op die plaas) wil uitleef. Du Preez klits die gewilde, beproefde bestanddele van die liefdesverhaalresep by haar storiemengsel in tot die aanloklike geur naderhand die leser se mond laat water vir wat gaan kom.

Maar wanneer sy ’n “nuwe” bestanddeel byvoeg om die verhaal ’n kinkel te gee, begin dinge verkeerd loop.

Die loktekssin op die agterblad moes my gewaarsku het: “Medici, maatskaplike werkers en sielkundiges doen tans ál meer navorsing hieroor. Die kink-gemeenskap is besig om uit die skadu’s te tree. Die goed ontstel mense.”

Inderdaad.

Klaskamer verskyn onder Lapa se nuwe druknaam Wenkbrou vir stories wat nie mooi in ’n spesifieke genre pas nie en “gravitas” het. Ongelukkig het Klaskamer net so min gravitas as wat die skrywer kennis van BDSM het.

Du Preez trap in al die slaggate waarin E.L. James met haar Fifty Shades of Grey-trilogie getrap het. Sy skryf in die outeursnota Klaskamer is haar “poging om die deure van die kink-wêreld vir die Afrikaanse leser te probeer oopmaak”.

Hierin slaag sy nie.

Net soos miljoene mense Fifty Shades of Grey verslind het, is ek oortuig hulle gaan ook heerlik smul aan dié nuwe Afrikaanse vanieljekoek, maar dit beteken allermins hulle gaan ná die leeservaring meer van BDSM af weet. Trouens, hul verkeerde aannames daaroor gaan versterk word.

Dis piekfyn dat Du Preez haar storie geskryf het soos sy hom wou skryf, maar dis gewoon onwaar om voor te gee dit gaan in die proses deure oopmaak.

’n Skrale internetsoektog van vyf minute wys wat die grootste deel van die BDSM-gemeenskap van James se boeke gedink het. Die kommentaar, wat ongelukkig ook op Klaskamer van toepassing is, sluit in dat die skrywer voorgee sy sal BDSM oopkop en positief benader, maar sy beskryf dan eintlik ’n toksiese, gewelddadige persoon en verhouding; die skrywer verstaan nie die nuanses van die spel nie en stel nie BDSM realisties voor nie; en die skrywer sinspeel (baie sterk) daarop dat iemand wat BDSM beoefen, getraumatiseerd en geskaad is en genees moet word.

Om BDSM goed genoeg te verstaan om daaroor te skryf, moet jy as skrywer jou hande vuil maak. Jy moet vreesloos wees. Jy kan nie eenkant staan en net met jou vingerpunte die laken oplig om te loer wat aangaan nie. Om dit korrek oor te dra kan jy dit nie in die geykte voorskriftelikheid van ’n liefdesverhaal probeer versag nie.

Om BDSM te verstaan, moet jy jou navorsing op die grootste BDSM-webwerwe in die wêreld doen (dus nie in Intiem of Sarie nie); jy moet “transgressive” seks verstaan; jy moet weet dat daar seksuele persoonlikheidstipes is en dat jy iewers op die skaal gebore word.

Jy moet die invloed van biologie sowel as die sosiale omgewing verstaan.

Jy sal weet dat ’n dominatrix jou nie gaan toelaat om haar te slaan nie. Jy sal weet dat dominant nie ’n sinoniem vir pedanties en obsessief is nie.

As jy meer gedoen het as om net vinnig onder die laken te loer, sal jou heldin nie amper haar bewussyn verloor net omdat twee vingers haar penetreer nie en sou jy nooit ooit geskryf het dat net gay mense anale seks beoefen nie.

Klaskamer het my wenkbroue tot in my haarlyn laat lig, ongelukkig om die verkeerde redes, maar Fifty Shades of Grey-aanhangers sal dit waarskynlik baie geniet.

  • Annelise Erasmus is die skrywer van drie erotiese boeke en stigter van die Afrikaanse erotiese webwerf Kombiekiehier.
Meer oor:  Klaskamer  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.