Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Wenner Theo Kemp: ‘Skryf laat my handig voel’

Met sy roman ‘Strafjaart’ het Theo Kemp die Jan Rabie-Rapport-prys vir debuut- of tweede prosawerke ter waarde van R125 000 gewen.

Theo Kemp

Wat is die verrassendste ding wat jy tydens die skryf van Strafjaart oor die skryfproses en oor jouself geleer het?

As ’n mens in so ’n vervreemdende omgewing soos Pollsmoor werk, is al jou sintuie gespits. Jy mag nie enige vorm van dokumentering doen as jy daar iemand besoek nie, en jy moet leer om jou geheue te vertrou; om staat te maak op jou sintuie en jou instink.

Jy leer om jou dít wat jy nie kan afgeloer kry nie, te kan verbeel. Dit was ’n geweldige prikkel vir my kreatiwiteit.

Wat laat jou aanhou skryf, en spesifiek in Afrikaans?

Ek het tien duime en skryf laat my handig voel. Ander mense sal ná werk dalk in hul motorhuise timmer en breek en bou, maar ek skryf. Jy dwing jouself om daardie tyd vir jouself te gun waar jy in totale afsondering probeer om iets te bou of klein te kry. Ek kan die proses nie aanjaag nie. Nuuskierigheid en hardkoppigheid is vir my groot dryfvere.

Ek wil weet hoe ek die legkaart moet pas, ek sal aanhou probeer, selfs al voel ek soms moedeloos en uit die waters. Daar is nooit vir my ’n ander moontlikheid nie – Afrikaans is die enigste gereedskap wat ek werklik tot my beskikking het.

Hoe voed jy die kreatiewe vonk?

Ek lees baie, en moet bieg ek kan ook maar lekker binge op Netflix. Tog troos ek my daaraan dat dit alles maniere is om die kreatiwiteit te voed. As ek besig is met ’n skryfprojek soos nou, is ek ’n totale spons. Alles wat ek lees, alle gesprekke wat ek hoor en mense wat ek ontmoet, is potensiële drade vir my projek. Hoe ontvankliker ek myself toelaat om te wees om stories te vang, hoe kreatiewer gevonk voel ek.

Watter skrywers – lewend of dood – het die grootste invloed op jou lees- en skryfgewoontes gehad of die vernaamste rol in jou ontwikkeling as skrywer gespeel?

Marlene van Niekerk en Willem Anker was my mentors destyds en het bygedra tot my ontwikkeling as skrywer. Ek bewonder soveel skrywers vir hul vakmanskap. ’n Mens moet glo aan jou eie stem, maar jy moet ook leer deur te kyk hoe jou helde op groot doeke hul woorde skilder. As ek eendag groot is, wil ek so poëties-sensitief skryf soos ’n Ivan Vladislavic, so meedoënloos onderwerpe takel soos Jonny Steinberg, so gespierd skryf soos J.M. Coetzee. Ek wil so eerlik wees soos ’n Karl Ove Knausgård en my lesers inlok soos ’n Orhan Pamuk.

Wat gaan die prysgeld vir jou koop?

Ek is versot op kuns en ek wil eendag dit vir my kinders agterlaat.

Ek glo ’n mens moet simboliese dinge koop met geld wat vir jou spesiaal is, soos prysgeld.

Ek sal daarom so ’n klein skildery wil koop, en natuurlik my gesin uitspattig bederf met die kleingeld!

Waaraan werk jy tans, of wat is jou volgende skryfprojek?

Ek is regtig huiwerig om te sê ek werk aan ’n boek, want dan neem ek myself gans te ernstig op.

Ek is in hierdie stadium gefassineer met die dun membraan tussen lewe en dood; met die tussenwêreld wat daar bestaan.

Hopelik skryf ek nie dooierig oor die dood nie!

* Strafjaart is uitgegee deur Penguin en kos R280.

JAN RABIE-‘RAPPORT’-PRYS

Die ander benoemdes was Lize Albertyn-du Toit vir Die kinders van Spookwerwe (Human & Rousseau) en Ruan Kemp vir Gedeeltelik bewolk (Tafelberg).

Die keurpaneel was Alida Potgieter, Steward van Wyk en Danie Marais.

Rapport se resensent, Jean Meiring, sê: “Strafjaart is ’n bedrewe en uitdagende roman wat ’n mens met moeite neersit.

“Dis vaardige hande wat ’n verhaal so selfversekerd en by tye byna tartend vorentoe kan laat stu. Wat so in die vertel, met die volgehoue spel tussen feit en denkbeeld, lesers die grense van hul eie strafjaart kan laat beproef.”

Strafjaart was ook vanjaar op die kortlys vir die UJ-prys.

Uit die huldigingswoord

Met sy eerste twee romans, Skool (2010) en Strafjaart (2019), wys Theo Kemp hoe kragtig faksie (faction) ingespan kan word om die ingewikkelde Suid-Afrikaanse samelewing beter te probeer verstaan. Die hoofkarakters in albei verhale is wit, Afrikaanse mans wie se navorsing oor en ervarings met onderskeidelik die Suid-Afrikaanse skool- en tronkstelsel hulle nie net met gebroke oplossings vir ’n verskeurde samelewing konfronteer nie, maar ook met hulself – hul vooroordele en bevoorregte posisie in hierdie samelewing waaraan almal aandadig is.

Met Strafjaart raak die protagonis, wat ’n familielid in Polls­moor besoek, nog intiemer verstrengel met die lewens waarvan hy probeer sin maak as in Skool en word hy ook deegliker deur die teks geproblematiseer en bevraagteken. Later wonder hy: “Dalk moes ek hierheen kom om gekonfronteer te word met die oeroue vraag wat ons dink ons weet: Wie is slagoffer, wie is sondebok?”

Strafjaart speur daardie vraag vreesloos en aangrypend na en is ’n herinnering aan die waarde van letterkunde wat bereid is om die gefolterde getuie te wees van alles waarvan ’n samelewing in desperate ontkenning probeer leef. – Danie Marais

Meer oor:  Wenner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.