Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Wenners van Andrew Murray-pryse aangekondig

Die wenners van die Andrew Murray-pryse vir teologiese publikasies is die afgelope week bekend gemaak.

Wyle dr. Nico Smith se boek In Mamelodi het ek my God gevind (heruitgawe 2018, uitgegee deur Lux Verbi), is die wenner van die Andrew Murray-prys vir Christelike publikasies in Afrikaans vanjaar.

Dr. Nico Smith

Die beoordelaars skryf: “Smith se verhaal is uiters belangrik en relevant. Hierdie heruitgawe van sy boek het nodig geword omdat die kerk dalk nog nie voorheen gereed was om die verhaal te hoor nie. Smith se biografie is aangrypend eerlik en bedrieglik eenvoudig.”

Smith was ’n professor in teologie aan die Universiteit Stellenbosch wat uit sy pos bedank het om predikant in Mamelodi te word.

“Hy het sodoende die daad by die woord gevoeg en gedoen wat hy gepreek het: om apartheid en die onreg wat dit meegebring het, op grondvlak te bestry.”

Die beoordelaars is ds. Rethie van Niekerk, dr. Andries Cilliers en dr. Rudi Buys. Die prys beloop R25 000.

Rachel Sophia Baard se boek Sexism and Sin-Talk: Feminist conversations on the human condition (uitgegee deur Westminster John Knox Press) is die wenner van die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys.

Volgens die beoordelaars is dit ’n “asemrowende” boek om te lees.

“Die herbesoek van die doktrine van sonde vanuit ’n feministiese perspektief (met spesiale verwysing na die werk en invloed van Rosemary Raudford Ruether) en om dan eerder daarna te verwys as ‘sin-talk’, is baie nodig en verfrissend. Oor die aktualiteit van die boek kan daar geen twyfel wees nie.”

Die beoordelaars is dr. Jacob Meiring, prof. Etienne de Villiers en ds. Michelle Boonzaaier. Dié prys beloop R25 000.

Cas Wepener

Cas Wepener en Anandie Greyling is die redakteurs van Ongekaart – ’n Bronboek met roetemerkers vir oorgange (uitgegee deur Bybelkor), die wenner van die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir debuutwerk.

Die boek het in aanmerking vir die debuutprys gekom omdat sommige van die medewerkers hierin die eerste keer gepubliseer het.

Dit spreek ’n uiters aktuele leemte binne die godsdienstige wêreld aan: ’n wêreld op soek na merkers of rituele om betekenis aan die lewe te gee.

Die beoordelaars is dr. Juanita Greyvenstein, ds. Louis van der Riet en dr. Carike Noeth. Die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys beloop R10 000.

Prof. Bernard Combrink ontvang ’n spesiale Andrew Murray-prys. Hy is die voorsitter van die interkerklike taakspan wat verantwoordelik is vir die direkte vertaling van die Bybel in Afrikaans, wat later vanjaar verskyn.

Combrink het ’n reuse-aandeel gehad in die jare lange hervertalingsproses en het ’n groot bydrae gelewer tot die Nuwe-Testamentiese wetenskap. Hy wen R10 000.

Gideon van der Watt en Jacques Louw ontvang gesamentlik die Andrew Murray-FAK-prys vir Christelike musiek. Van der Watt is projekbestuurder en Louw die himnologiese redakteur van Sing Praises All You People, ’n liedboek in etlike Suid-Afrikaanse tale vir saamsing deur lede van die NG Kerkfamilie en ander gelowiges. Dit is gesamentlik uitgegee deur Christelike Lektuurfonds en Bybel-Media. Van der Watt en Louw deel die prys van R10 000.

Die Jaap Durand-Denise Ackermann-prys vir eenheid, versoening en geregtigheid word vanjaar vir die eerste keer gegee. Dit word toegeken aan prof. Piet Meiring, emeritus-professor in sendingwetenskap aan die Universiteit van Pretoria.

Hy het gedien op die Waarheid-en-versoeningskommissie, was moderator van die oostelike sinode en ekumeniese amptenaar van die algemene sinode van die NG Kerk, skrywer van etlike boeke en inisieerder van die destydse Jaar van Hoop van die NG Kerk. Die prys beloop R10 000.

Dr. Ernst Conradie is die wenner van die CLF-Elise Templehoff-prys vir omgewingsbewaring wat ook vanjaar die eerste keer toegeken word.

Dit word deur die Christelike Lektuurfonds (CLF) geborg. Conradie het reeds met etlike gesaghebbende publikasies die ekologiese krisis waarin ons verkeer vanuit ’n Christelik-teologiese hoek onder die kerklike aandag gebring. Conradie, verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het die Andrew Murray-prys vir teologiese publikasies in Afrikaans reeds twee keer gewen. Hierdie nuwe prys beloop R10 000.

Die formele toekenningsaand, wat gewoonlik in Mei – Murray se geboortemaand – gehou word, is weens die Covid-19-pandemie afgelas.

Vanjaar se wenners sal in Mei volgende jaar hul toekennings saam met volgende jaar se wenners ontvang.

Die wenners ontvang wel reeds vanjaar hul geldpryse.

Meer oor:  Cas Wepener
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.