Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Wenners van die ATKV-Woordveertjies
Elsa Joubert Foto: Natalie Gabriels

Die skrywer Elsa Joubert het Vrydagaand in Stellenbosch die ATKV-Woordveertjies se prys vir die beste nie-fiksie gekry vir haar boek Spertyd, terwyl Etienne van Heerden met sy roman Die wêreld van Charlie Oeng die ATKV-prosaprys losgeslaan het.

Die digter en kunsskrywer Johan Myburg se digbundel Uittogboek het die prys vir poësie ontvang, terwyl DEURnis, ’n teaterprojek deur Theatrerocket met een speler en een gehoorlid, die prys vir die beste dramateks gewen het.

Die span van DEURnis het ook vroeër vanjaar ’n Blou Fiësta (vir innovering) van die Fiëstapryse ontvang.

Benewens die romans, digbundels en dramatekste wat bekroon is, vereer die ATKV vanjaar ook vier groot rolspelers in die Afrikaanse uitgewersbedryf vir hul uitsonderlike bydrae tot die Afrikaanse boekbedryf. Hulle is Marietjie Coetzee, Cecilia Britz, Alida Potgieter en Hettie Scholtz.

“Ons wil uitnemendheid en kreatiwiteit rondom die Afrikaanse woord bekroon,” sê Nita Cronjé, bestuurder: kunste en produksies by die ATKV.

“Ons vereer bydraes oor ’n breë spektrum. Van woordeboeke tot prosawerke.”

Etienne van Heerden

Sy sê die hoofdoel van die pryse is om ’n liefde en passie vir lees by mense te kweek.

“Dit moet vir skrywers bemoedigend wees om werk te kan skep en mense aan die lees te kry. Dit is ook wonderlik om te sien hoe baie werk verlede jaar die lig gesien het.”

Volgens Cronjé is 12 digbundels en 23 dramatekste vanjaar ingeskryf.

Die ATKV-Woordveertjie vir Leesbevordering gaan vanjaar aan Pets as Therapy (PAT).

Croné sê dit is ’n inspirerende kategorie wat bewys watter verskil ’n unieke leesprogram kan maak in die lewens van kinders en bejaardes, sê Cronjé.

Met PAT Suid-Afrika se Lees-Ukufunda-Read-program word honde ingespan om ondersteuning te bied aan kinders wat sukkel om te lees. Die kinders lees hardop vir opgeleide honde voor en verbeter so hul lees- en kommunikasievaardighede. Die honde praat nie terug nie, raas nie met die kinders nie en lag ook nie as woorde verkeerd uitgespreek word nie.

Volgens Cronjé word die unieke metode om ’n liefde vir lees en boeke te bewerkstellig, suksesvol by ’n paar skole toegepas en met dié prys sal die kollig hopelik opnuut op die werksaamhede van hierdie wonderlike organisasie val.

Die lys wenners van die ATKV-Woordveertjies 2018:

ATKV-prosaprys

Die wêreld van Charlie Oeng deur Etienne van Heerden.

Die wêreld van Charlie Oeng deur Etienne van Heerden (Tafelberg)

Liefdesroman

Mentje, kind van Pas-Opkamp deur Irma Joubert (LAPA Uitgewers)

Poësie

Uittogboek deur Johan Myburg (Protea Boekhuis)

Romanse

Alles is perfek deur Dina Botha (Romanza)

Spanningslektuur

Kamikaze deur Rudie van Rensburg (Queillerie)

Dramateks

DEURnis deur Henque Heymans, Corné Joubert, Johann Smith, Shareen Swart en Braam van der Vyver

Nie-fiksie

Spertyd deur Elsa Joubert.

Spertyd deur Elsa Joubert (Tafelberg)

Woordwys-prys vir woordeboeke en taalgidse

Verklarende politieke woordeboek/Explanatory Dictionary of Politics (2017)

Samestellers: Albert Venter, Susan Botha, Louis du Plessis en Mariëtta Alberts. Uitgegee deur Juta.

Leesbevordering

Pets as Therapy: Lees-Ukufunda-READ-program

ATKV-Kinderboekpryse

Die wenners in die ATKV-Kinderboekpryse het ook hul pryse by ATKV-Woordveertjies ontvang. Dié kompetisie word jaarliks aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke te bekroon wat in die voorafgaande kalenderjaar verskyn het. Die boeke wat vir dié pryse in aanmerking kom, word deur die kinders self beoordeel.

Voorleeskategorie: Gr. RR tot 1

• Skrywer: Louise Smit (Human & Rousseau) – Bennie Boekwurm se tonnelhuisie

• Illustreerder: Johann Strauss (Human & Rousseau) – Bennie Boekwurm se tonnelhuisie

Selfleeskategorie: Gr. 2 tot 3

• Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Professor Fungus en die monsterformule

• Illustreerder: Johann Strauss (LAPA Uitgewers) – Professor Fungus en die monsterformule

Selfleeskategorie: Gr. 4 tot 5

• Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Zackie Mostert en die super-stinkbom

• Illustreerder: Elsbeth Eksteen (LAPA Uitgewers) – La di da, Lulu

Selfleeskategorie: Gr. 6 tot 7

• Skrywer: Cecilia Steyn (Human & Rousseau) – #PresiesAnders: Eksperimente en eerste soene

Selfleeskategorie: Gr. 8 tot 10

• Skrywer: Marion Erskine (Human & Rousseau) – Vlerke vir almal

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.