Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Wenners van Sanlampryse vir jeugboeke bekend
Carin Krahtz se omslag vir Blou is nie ’n kleur nie.

Verhale oor mishandeling, kuberboelies, die disintegrasie van gesinne, oorlewing in ’n post-apokaliptiese Suid-Afrika en verbode liefde . . . uitdagings waarmee jong mense van vandag worstel en kan identifiseer.

Dít word weerspieël in die wenners van vanjaar se Sanlampryse vir jeugboeke.

Skrywers van die wenboeke, wat die ryke verskeidenheid en talent in plaaslike jeugliteratuur bevestig, is Dinsdagaand in Johannesburg bekroon.

Die Sanlampryse word tweejaarliks toegeken vir nuwe manuskripte. ’n Rekordgetal van 134 inskrywings is vanjaar ontvang in die drie kategorieë: Afrikaans (33 inskrywings), Engels (55 inskrywings), Afrikatale (46 inskrywings in agt tale).

Jan Vermeulen se Soen.

Twee wenners (goud en silwer) is in elke kategorie aangewys. Prysgeld van altesame R90 000 is toegeken nadat Sanlam die prysgeld tot R20 000 vir goud en R10 000 vir silwer in elke kategorie verhoog het.

Die wenners is:

* Afrikaans

Carin Krahtz, skrywer van die gewilde Elton April-jeugverhale, wen goud vir Blou is nie ’n kleur nie.
Die storie gaan oor die disintegrasie van ’n disfunksionele voorstedelike gesin in Pretoria, gesien uit die oogpunt van die 16-jarige Vicky. Die beoordelaars het Blou is nie ’n kleur nie beskryf as ’n universele verhaal “wat jou op die krop van jou maag slaan”, maar wat getemper word deur

New Keepers van Jayne Bauling.

skerpsinnige dialoog en humor.

Carin woon in Centurion.

Jan Vermeulen kry silwer vir Soen, ’n speurverhaal “wat die leser deurgaans op die punt van sy stoel hou”. Dit gaan oor ’n gewilde en begaafde hoofseun wie se ongesonde obsessie met ’n jong onderwyseres hom byna sy lewe kos. Vermeulen het in 2002 goud gewen vir Geraamtes dra nie klere nie. Jan woon in Dispatch.

* Engels

Mamello van Lebohang Jeanet Pheko.

Lesley Beake wen goud vir Hap, wat deur die keurders beskryf is as “’n goed gestruktureerde, pragtige grootwordroman”. Dit vertel die verhaal van ’n probleemtiener wat van New York na Suid-Afrika kom om tyd deur te bring saam met haar pa, wat besig is met argeologiese opgrawings aan die Kaapse weskus. Hier identifiseer sy met die fossiel van ’n jong vrou wat sy Hap noem. Lesley woon in Stanford.

Jayne Bauling wen silwer vir New Keepers, wat volgens die keurders “die gevoel gee van ’n Lauren Beukes-roman gekruis met Hunger Games”. Dit speel af in ’n post-apokaliptiese toekoms en volg die wel en wee van ’n seun wat ’n reis na die Wildlands adverteer vir diegene wat avontuur soek. Bauling het in 2013 goud gewen vir Dreaming of Light. Jayne woon in Witrivier.

* Afrikatale

Dumisani Hlatswayo se Imibala Yothando

Goud is toegeken aan die Zoeloeskrywer Dumisani Hlatswayo vir Imibala Yothando (“die kleure van liefde”), wat deur die keurders beskryf is as “’n onneersitbare verhaal van liefde, verraad, jaloesie en grootword in die era van sosiale media”. Die hoofkarakter, Sinenhlanhla, word na ’n nuwe skool in Soweto gestuur waar sy deur ’n kuberboelie geteister word. Dumisani woon in Somerset-Oos.

’n Debuutskrywer, Lebohang Pheko, wen silwer vir Mamello (Sesotho). Mamello is ’n jong meisie wie se ouers haar verbied om skool toe te gaan, maar wat daarvan droom om ’n menseregteprokureur te word. Dié boek is deur die keurders beskryf as “’n perfekte verhaal van hoe ’n mens teëspoed in die lewe te bowe kan kom”, met die krag van onderwys en vergifnis as hooftemas. Lebohang woon in Virginia.

Die wenmanuskripte is deur Tafelberg ontwikkel en uitgegee, in sowel gedrukte as e-boekformaat. Manuskripte is anoniem gekeur sodat debuutskrywers op ’n gelyke voet met gevestigde skrywers kan meeding.

Lesley Beake se Hap

Die Sanlampryse word sedert 1980 toegeken. Nagenoeg 80 inskrywings is al vir skole voorgeskryf.

Inskrywings word nou ingewag vir die 2019-Sanlampryse vir Jeuglektuur. Inskrywingsvorms is beskikbaar by www.nb.co.za en die sluitingsdatum is 5 Oktober 2019.

Meer oor:  Sanlam  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.