Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Werk van meester – dis eg Karsten

‘Anderman se vrou’, het die stemming van die beste Skandi-noir, maar troef lesers weer met Chris Karsten se meesterlike wendings en deurmekaarkrap van legkaartstukke, skryf Jonathan Amid.

Chris Karsten Foto: Wessel van Heerden

Anderman se vrou  deur Chris Karsten. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R300.

Chris Karsten is bekend vir sy Abel Lotz-trilogie – Abel se ontwaking (2010), Abel se lot (2011) en Die afreis van Abel Lotz (2012) – en die Ella Neser-drieluik, wat bestaan uit Die verdwyning van Billy Katz (2015), Die dood van ’n goeie vrou (2016) en Koms van die motman (2017). In 2014 kom hy vorendag met die dodelik vermaaklike parodie Die respektabele meneer Hartslief en in 2007 en 2013 verskyn twee kragtige romans, onderskeidelik Frats en ’n Man van min belang, wat elk met ’n voet aan wal van die letterkunde staan.

Karsten laat hom nie beperk deur resep of genre nie; sy oeuvre getuig van verskeidenheid, afwisseling en veerkragtigheid van vertelling met die klem op die mag en plesier van die taal. Opvallend is hoe baie van sy romantitels die woord “vrou” of “man” bevat. Anderman se vrou, die vervolg van die eerste roman in die Wim Kellerman-reeks, Seisoen van sonde (2009), stu hiermee voort. Dit dui op ’n belangstelling in die sosiale rolle van mans en vroue en ondersoek die betekenis van goed en sleg, rein en onskuldig of sondig en gekontamineer.

Kerneels Breytenbach het destyds in sy Rapport-resensie geskryf met Seisoen van sonde het Karsten moontlik die volgende groot speurroman geskryf ná Deon Meyer. Met die herlees van dié roman wat in 2010 met die ATKV-prys vir spanningslektuur bekroon is, was ek behoorlik geboei. Veral die momentum, gelade atmosfeer, keurige taalgebruik en forensiese fassinasie met detail het my enorme plesier verskaf.

'Anderman se vrou' is ’n ingewikkelde sielkundige riller en ’n diepsinnige ondersoek na die troebel aard van waarheid.

Wat uitstaan in hierdie donker, bykans Gotiese roman is drie uiteenlopende sterk punte: eerstens die daarstelling van ’n ongewone deernisvolle verhouding tussen die wetenskaplike en skoenlapperboer Wim Kellerman en die gefolterde Portis, wat in aanhouding gemartel is gedurende die laaste stuiptrekking van apartheid en wat jare later ’n parapleeg is onder Wim se sorg. Tweedens word ’n reeks booswigte onder leiding van Simon Pope geskep, elk met noue bande met die Bon Accord-staatslaboratorium. Hier is navorsing gedoen en buite-geregtelike “ondersoeke” deurgevoer, ook met verskeie onvoorsiene komplikasies en gevolge. Die weeskind wat later Jack Niemand gedoop is, word gekoöpteer om die skrikbewind van hierdie laboratorium in die buitewêreld voort te sit, en so word ’n kat-en-muis-speletjie tussen Kellerman en Portis en die Bon Accord-bende van stapel gestuur wat in Seisoen van sonde op so ’n manier afsluit dat ’n vervolg onafwendbaar was.

Die derde vlak van onderskeiding lê in die roman se gebruik van tyd en perspektief, veral hoe die meeste van die aksie oor die Paastyd afspeel en die verskeie betekenislae van die titel so geaktiveer word.

Karsten het in 2009 met dié roman profeties te werk gegaan: Deur die lens van misdaadfiksie antisipeer hy hoe die ontwykende waarheid oor wat regtig met soveel aktiviste gebeur het, ná die Waarheid-en-versoeningskommissie steeds sou bly spook.

Om Seisoen van sonde tien jaar later te herlees as voorganger van Anderman se vrou beteken ook om opnuut sin te maak van ons manier van dink oor die verlede. Op metavlak word die leser uitgedaag om verskeie drade te verbind en raakpunte raak te sien tussen die twee Wim Kellerman-romans en die ander romans in Karsten se oeuvre in ’n poging om kop te hou met sy verrassende, vernuwende aanslag.

Anderman se vrou is ’n ingewikkelde sielkundige riller en ’n diepsinnige ondersoek na die troebel aard van waarheid. Dit is naat vir naat aanmekaargestik sodat dit onontbeerlik is om eers Seisoen van sonde te herlees. Soveel ruwe krag lê opgesluit in dít wat uitsluitlik deur subteks weergegee word, of wat terugskouend sin maak met Seisoen in gedagte. Die skrywer doen verslag oor die verbrokkeling van die liefde, begeerte en onbetaamlikheid, verlange en lyfgesange. Vriendskap, veral tussen gewonde mans, kom sterk aan bod, terwyl maniere van omgee – én maniere om die ander te skaad – algaande deurskemer.

Die lewenstaak van Portis en Wim – om die meesterbrein Simon Pope op te spoor ná sy klaarblyklike “dood”, en om antwoorde te kry oor presies wat gebeur het met die sogenaamde Bonteheuwel-vyf – lei Wim na Kanada, waar die grootste deel van die roman afspeel en die skrywer geruime tyd gewoon het. Dit is ’n heerlikheid om te beleef hoe hy ná sy onlangse terugkeer na Suid-Afrika dié nuwe wêreld vir lesers oopskryf. Kellerman en Rachel Pope se verhouding word een van die roman se grootste tergende raaisels. Ek voorspel uiteenlopende reaksies op die roman se hantering van hierdie verhouding, asook op die klimaks en slot.

Die konfrontasie tussen Kellerman en Simon Pope, wanneer en hoe dit gebeur, is allesbehalwe voor die hand liggend, en so ook hoe Karsten die eie stryd van Pope, sy verhouding met vrou en verlede, en sy eie begeertes hanteer. Grys gebiede, ambivalensie, suggestie en dinkwerk word voor die leser se deur geplaas.

Die skrywer skryf sonder oordeel oor die gevoelslewe van misdadigers en slagoffers. In hierdie eiesoortige episodiese misdaadroman word die leser self ’n medepligtige; hierdie sondes is nie noodwendig almal teen die wet nie.

Ek kon minstens ses verskillende vertel-instansies raaklees, en veral vroeg in die roman verg dit nogal konsentrasie en ’n behoorlike dophou van die gegewe datums, om kop bo water te hou. Dit is amper onmoontlik om Anderman se vrou met sy magdom verskuilde, versteekte (vals) leidrade en gelade atmosfeer te lees sonder om terug te dink aan vorige wenners uit die Karsten-stal: die geniale ondersoek na die moordenaar van die “goeie vrou” Clara Heyns; Koms van die motman se “interludes” oor die nommer-bendes en Nongoloza; die navorsing van die mariene bioloog Luca Thom oor seepokke in ’n Man van min belang; die brokkies oor sterrekunde, Middeleeuse argitektuur, forensiese oudits en kuberboelies.

Die tempo is nie moordend nie. Karsten geniet dit om lesers telkens te troef met onverwagse wendings, die deurmekaarkrap van legkaartstukke en om sekere detail aan die leser se verbeelding oor te laat. Karsten stel belang in die teenstrydigheid van die menslike aard, die wisselwerking tussen onthou en weerhou, vertel en verswyg. Die leser moet antisipeer, aantekeninge maak, moontlikhede opweeg met die feite so gerangskik dat twyfel alles inkleur.

Anderman se vrou het die stemming van die beste Skandi-noir, tegelyk teer, mee­doën­loos en meesterlik, maar terselfdertyd eg Karsten.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Chris Karsten  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.