Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Wie bewaak dié wat bewaak?

In die senutergende ‘Blinde gode’ wys Dibi Breytenbach weer waarom sy een van ons mees onderskatte krimiskrywers is, meen Jonathan Amid.

Blinde gode deur Dibi Breytenbach. Uitgewer: Lapa. Prys: R285.

In die ensiklopedie van onderskatte plaaslike skrywers verdien Dibi Breytenbach ’n uitgebreide inskrywing. Sy werk voltyds as staatsaanklaer, maar is ook ’n uiters produktiewe skrywer wat soos Rudie van Rensburg met elke publikasie ’n al hoe groter indruk maak.

Ná haar indrukwekkende drieluik Saliger (2015), Vrediger (2016) en Heiliger (2017) – spannende, intelligente, oortuigende misdaadverhale met ’n sterk kern van regskennis en polisieprosedure – waag die skrywer weer haar hand aan ’n beplande drieluik, beginnende by Dowe gode (2018).

Dié roman het weer ’n sterk indruk gemaak. Opvallend was die onopgesmukte dog liriese styl, wat hierdie leser met tye geweldig aan John Irving laat dink het.

Verraad of dood, watter sny die diepste?

Dit is waarskynlik ’n totaal onverwagte vergelyking vir diegene wat nie bekend is met Breytenbach en haar werk nie, of vir lesers wat dalk nog die neus optrek vir misdaadfiksie, maar ek maak die vergelyking juis omdat Breytenbach, nes die geliefde Irving, ’n kenmerkende belangstelling het in die wyses waarop intieme verhoudings, en veral die verraad en dood van geliefdes, die gang van ’n ander mens se lewe kan bepaal.

Die belangstelling in ’n soort kosmiese stryd om reg en geregtigheid, en die onafwendbaarheid van pyn en lyding, bind dié twee skrywers, en so ook hul sonderlinge aanvoeling vir die absurditeit en verskriklike humor van ons feilbare bestaan.

Breytenbach is dus ’n gesoute krimi­skrywer met ’n duidelike affiniteit vir die soeke na geregtigheid en die najaag van antwoorde en vertroosting, maar een wat ook doelbewus karakters en karakterontwikkeling op die voorgrond van haar romans plaas. Dit moet moeilik wees vir enige skrywer wat poog om die resep van proseduregedrewe misdaadfiksie – moord, ondersoek, hindernisse, uiteindelike duidelike antwoorde – te vermeng met intens liriese en emosiebelaaide karakterstudies wat nie noodwendig vir die leser ’n gelukkige einde sal bied nie.

Tog is dit presies wat Breytenbach reggekry het met Dowe gode, ’n blitsblaaier dapper en bruisend met die gevoel van lewe te midde van dood en ontreddering, en wat sy nou voortsit met die tweede deel van die drieluik, Blinde gode.

Dowe gode het lesers bekend gestel aan Aella O’Malley, ’n intense vrou wie se naam warrelwind beteken. Sy is vasgevang in ’n verbete stryd om geregtigheid te laat seëvier te midde van grootskaalse korrupsie, burokratiese rompslomp, onenigheid, ’n gebrek aan belangstelling en toewyding, blinde kolle, binnegevegte, seksisme, rassisme, en nog veel meer. Wat ’n nagmerrie vir enige speurder, en ons weet boonop dat dit op voetsoolvlak in die werklikheid presies so gaan. O’Malley is groot fisieke en sielkundige skade toegedien deur ’n ondersoek wat uitgeloop het op die verraad van die enigmatiese Whistler en die dood van haar geliefde. Sy vra haarself af: “Verraad of dood, watter sny die diepste?”

Die protagonis word bevorder tot be­velvoerder van die plaaslike speurtak in Opathe. Haar taak in Blinde gode is om ’n nes van korrupsie, renosterstropery en inmenging in die strafregstelsel te ondersoek en natuurlik lank genoeg te bly lewe om daaroor verslag te lewer. Breytenbach zoem in op die psigiese wonde van O’Malley en die realiteit daarvan om as vrou sowel vooruitgang te maak as bloot te oorleef in ’n werksopset en landswye konteks waarin die minagting van vroue en ’n totale gebrek aan respek vir die wet en die regsproses die botoon voer.

Die samehang tussen Dowe gode en Blinde gode is indrukwekkend. Dié tweede aflewering is ewe senutergend en by tye oorrompelend danksy die akute emosionele aanslag van die skrywer. Wie bewaak die bewakers? Die Romeinse digter Juvenalis het 2 000 jaar gelede al dié vraag gevra. In 2019 is die antwoorde wat Breytenbach vir ons bied allermins gerusstellend.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.