Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Wie is aan wie se kant in dié boek?

Soos sy voorganger, ‘Die vertes in’, kombineer die skrywer Zirk van den Berg se opvolgboek, ‘Tweegevreet’, die kompulsiewe leesbaarheid van die heel beste misdaadromans met die diepgang en tekstuur van die geslaagde historiese roman, skryf Jonathan Amid.

Zirk van den Berg. Foto: Brenda Veldtman

Tweegevreet deur Zirk van den Berg. Uitgewer: Kwela. Prys: R290.

Wat moet in 1905 in die Hochnamib gebeur waar ’n boer oënskynlik deur ’n luiperd doodgemaak is? Wie moet sorg vir geregtigheid in misdade wat streng gesproke nie deur die reg as misdaad erken word nie? Bepaal jou naam jou karakter, of gee jy karakter aan jou ’n naam? Wie verdien ’n tweede kans in die lewe, en wie is geregtig daarop om te besluit wie vergewe mag word en wie nie?

Tweegevreet is die waardige vervolg van Zirk van den Berg se roman Die vertes in (2018). Hierin verken hy misplaaste bravade, ambisie, magsvertoon en die verwantskap tussen mens en landskap, en mens en dier.

Die karakters is volledig mens en nie bloot voetnotas in diens van uitgediende veralgemenings oor die mens se donker kant nie. Die menslike gesig van die geskiedenis – die tweegevreet van skepping en verwoesting, grense en grensverskuiwing, dwaasheid en dapperheid – word so beliggaam dat fiksie sekerlik tot verdere navorsing deur die leser self sal lei.

Lesers het die tenger, naïewe Siegfried Bock wat niks meer begeer as om homself in die wêreld daar buite te laat geld nie reeds in Die vertes in leer ken. Maar anders as in ’n titel soos Die vertes in, wat iets van ’n fisieke en geestelike reis suggereer (maar nie veel byt het nie), is Tweegevreet ’n konfronterende titel wat sekere lesers kan afsit, maar veel verklap oor die dualistiese aard van die mens en die raaisel van ’n vorm van verraad en miskenning laat hang. Soos die titel van Sidney Gilroy se debuutroman, Klikbek (2019; lees die resensie van sý opvolgboek hiernaas) is hierdie titel een wat die konfrontasie tussen mense, ideale en botsende wêreldbeskouings suggereer.

Dit is ’n loutere plesier om die Bock-karakter dop te hou soos hy ontwikkel en homself en ander telkens verbaas. Hy is nie meer iemand om te onderskat nie, ’n volronde, simpatieke karakter wat sterk genoeg is om die verhaal te anker en interessant genoeg om die leser se aandag te behou. Ook die skets van sy kollega Hans Stempsky is voortreflik, terwyl dié van Feld­webel Dudeck welkome komiese verligting bied.

Tweegevreet is eweneens fassinerend wat betref hoe die verhaal oorgedra word. Sonder om kil of afstandelik te wees en lesers te vervreem, kry die skrywer dit reg om die gepaste waarnemer vir hierdie verhaal van wraaksugtigheid en weerloosheid te skep. Dié sonderlinge kombinasie van die versugting na antwoorde, gekombineer met die smagting na vryheid, gemeenskap en om raakgesien en geag te word as mens, is wat diepte en dimensie verleen.

Hoewel die skrywer die wyse besluit geneem het om nie verskeie eerstepersoonsvertellers aan die woord te stel nie, is dit die presiesheid van die beskrywings en die woordekonomiese omgaan met taal wat die asem wegslaan.

Telkens word jy gedwing om terug te sit, diep asem te haal, en ’n bladsy ’n paar keer oor te lees. Ook moet jy mooi kophou met ’n verhaal wat ál meer indringend en intens raak soos dit ontvou – en omdat jy nooit gerus kan wees oor wie presies aan wie se kant is nie.

Daar is ’n veelkantigheid en nuanse aan die karakters. Hulle is nie net goed of sleg nie, maar hul karaktereienskappe word só geteken dat hul optrede sin maak, al is dit hoe verrassend of skokkend.

Moenie dit waag om selfs die mees periferale of skynbaar eenvoudige personasies gering te skat nie. Elke hoofstuk bied leidrade tot ’n sentrale raaisel wat verskeie lae bo-op mekaar balanseer. Presies wanneer Van Den Berg besluit om gegewens vir die leser te ontbloot, of die leser op ’n (verdere) dwaalspoor te bring, maak ’n groot indruk.

Moet ook nie wanneer nabetragting gedoen word oor hoe seepglad verskillende intriges hier inmekaar steek, vergeet van Van den Berg se misdaadroman, ’n Ander mens (2013), en sy vernuftige hantering van sprokieselemente in Ek wens, ek wens (2019) nie.

Die vertes in was dalk eerstens ’n historiese roman, maar ook daarin word sterk gesteun op raaisels wat ontrafel moet word. Benewens die vraag na die soort misdade wat in ’n diep onherbergsame landskap gepleeg word, is dit die groter metafisiese vraagstukke van identiteit, trauma en die soeke na betekenis wat (weer) in Tweegevreet belig word.

Die skrywer se Afrikaanse vertalings van Wilbur Smith se romans en meer onlangs Philip Kerr se Berlin Noir-trilogie het ongetwyfeld daartoe bygedra dat sy reeds vlymskerp prosa nóg sagter en meer melodieus op die oor val. Dit is nou hoe dit is met Zirk van den Berg die skrywer: Hy skryf uitmuntende romans in ’n taal wat jy hóór en wat jou toelaat om elke toneel voor jou te sien lewe.

Tweegevreet kan as ’n “boek van die eksistensiële” getipeer word. As historiese roman roep dit die tydsgewrig van die eertydse Duits-Suidwes-Afrika aan die begin van die 20ste eeu op met ’n gevoel dat daar vanuit die tyd en plek self geskryf word. Terwyl die gewildheid van genrefiksie net toeneem, is dit verblydend om ’n roman te lees wat soos sy voorganger die kompulsiewe leesbaarheid van die beste misdaadromans met die diepgang en tekstuur van die geslaagde historiese roman kombineer.

Jy lees ewe veel agter die intrige as agter die karaktertekeninge aan.

Tweegevreet herinner ons om die wreedste eise van die identiteitspolitiek van vandag – om onsself te groepeer in ’n “ons” en “hulle” – met minagting te verwerp. Wat beteken dit om ’n volk te tem? Wie oorleef hul drome en teen watter koste?

Lewens wat subtiel en gewelddadig ontspoor, bly onderhoudende leesstof, en Tweegevreet is ’n besliste hoogtepunt in ’n jaar wat reeds uitstekende fiksie opgelewer het.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Boeke  |  Zirk Van Den Berg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.