Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Wie mag wie se stories vertel?

Die opskudding oor Jeanine Cummins se roman ‘American Dirt’ het Jonathan Amid herinner aan ’n gesprek oor kulturele toe-eiening wat veral plaaslik broodnodig is.

American Dirt deur Jeanine Cummins. Uitgewer: Tinder Press. Prys: R295.

Jeanine Cummins se roman American Dirt het in plaaslike boekwinkels geland nog voor ons veel geweet het van die Covid-19-virus en uitdrukkings soos “grendelstaat” en “staat van inperking” deel geword het van ons daaglikse lewe. Om die storie in een sin op te som: ’n Mexikaanse ma en haar begaafde seun reis onder die voorwendsel van immigrasie na die grens nadat ’n dwelmbaas of -kartel die res van hul familie by ’n feesviering uitgewis het.

Die roman – deels familiedrama, deels aksieverhaal, deels geskoei op aktivisme-deur-fiksie – het skynbaar die ganse Amerika aan die gons gehad nadat Oprah Winfrey dit in Januarie gekies het vir haar befaamde boekklub.

Die Oprah-watermerk is gewoonlik genoeg om fiksietitels tot boaan die topverkoperlyste te stoot, maar Winfrey moes haar ook al distansieer van haar keuses, soos in 2006 met James Frey se ewe omstrede A Million Little Pieces (2003).

Frey het deurgeloop nadat hy erken het dié dwelmrehabilitasie-memoires is nie ten volle op die waarheid gegrond nie en dat hy sekere feite, karakters en verhale uit die duim gesuig het.

Sedert die publikasie van American Dirt het Cummins, Winfrey, die uitgewer van die boek en ’n reeks skrywers wat die boek hoog aangeslaan het in jubelende blakerteks – van Don Winslow tot Stephen King – lelik deurgeloop.

Eers was daar die gebruiklike Twitter-storm. Die opvallendste kritiek teen Cummins het gegaan oor die feit dat sy tot 2016 as “wit” geïdentifiseer het en dus nie geskik is om die storie van Mexikaanse mense te vertel nie.

Die feit is dat gesprekke oor kulturele toe-eiening en letterkundige toe-eiening die afgelope tyd woed.

Verder is die skrywer se bona fides bevraagteken as “stem vir gemarginaliseerdes” en as spreekbuis vir kwessies rakende die ervarings van “Latinx”-persone, wat verwys na diegene van Latyns-Amerikaanse afkoms en wat gebruik word as ’n genderneutrale of nie-binêre alternatief vir Latino of Latina.

Benewens die groter gesprek oor wie die reg het om stories deur fiksie te vertel, wie die mees geskikte (of ongeskikte) is om minderheidsgroepe in fiksie uit te beeld, en wie die mark vorm vir fiksie wat hedendaagse kwessies soos ras, klas, gender en die vlugtelingkwessie verken, het die publikasie van American Dirt ook gelei tot verskeie gesprekke en aanlyn artikels wat die vraag van verteenwoordiging en bemagtiging in die publikasieketting ondersoek het.

Die onmiddellike uiteinde van die weke lange gesprekke oor American Dirt was dat die uitgewer sy aandeel aan die fiasko erken het.

Die uitgewer en skrywer het erken hulle het veral in die bemarkingsveldtog van die roman fouteer en toegegee dat die Amerikaanse uitgewersbedryf nog veel meer moet doen om minderheidsgroepe soos Latinx in diens te neem, sowel as om skrywers wat hulle “eie” stories wil vertel te bemark en ondersteun.

Hoekom is hierdie opskudding relevant vir die plaaslike konteks? Die eerste en dalk belangrikste rede is die feit dat gesprekke oor kulturele toe-eiening en letterkundige toe-eiening die afgelope tyd woed.

Daar is ’n broodnodige gesprek en dieper ondersoek wat nog plaaslik moet gebeur oor die opkoms van sogenaamde bruin skrywers wat spesifiek in Kaaps skryf en die mark vir hul skryfwerk, asook die meer onlangse tendens van hoofsaaklik wit, manlike krimi-skrywers wat skryf oor die subjektiwiteit en wedervaringe van bruin en swart hoofkarakters, veral mans.

Om terug te kom na American Dirt: Die aanbeveling van die roman as ’n moderne The Grapes of Wrath moet met minagting verwerp word. Daarvoor is Cummins se aanslag heeltemal te onsubtiel, dramaties en by tye sentimenteel.

Maar uiteindelik is Cummins se skepping ook ontroerend (hoe dan anders?). Die vermenging van “storie” en “werklikheid” bied veel stof tot nadenke.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  A Million Little Pieces  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.