Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Wilde rit deur donker psige van verkragter

Misdaadfiksie

Merk

Rudie van Rensburg

Queillerie, R285

’n Leser sou kon vra of Merk werklik simpatie vir vroueslagoffers van geweld ontketen, maar die boek is nie bedoel as ’n dieptestudie nie. Dis ’n boeiende speurriller, skryf Neil van Heerden.

Rudie van Rensburg het nog ’n merkie op sy kerfstok.

Die veteraan-misdaadfiksie­skrywer se nuutste, Merk, behoort ’n waarskuwing te gee: Nie vir sensitiewe lesers.

Dié boek sal jou maag behoorlik laat draai, maar dit sal jou ook meesleur soos enige goeie riller wat sy sout werd is.

In Merk word die vroue van Kaapstad se noordelike voorstede deur ’n reeksverkragter geteister. Hierdie vent is berekend. Hy laat nie ’n enkele naspeurbare leidraad agter nie. Hy dra altyd handskoene en ’n balaklawa.

Hy gebruik telkens ’n kondoom. Hy is byna bedagsaam teenoor sy slagoffers. En wanneer hy met hulle klaar is, brandmerk hy hulle soos diere op die boud of been met die getal 399.

(Lesers gaan lekker kopkrap oor die betekenis van dié obskure syfer. Dit is een van vele prikkelende raaisels wat die outeur in die loop van die verhaal geplant het. Soos verloklike anonieme briefies in lesers se posbusse . . . Jy sal maar self agter die antwoorde moet aanlees.)

Watter tipe sadistiese maniak brandmerk sy slagoffers?

Kaptein Kassie Kasselman en adjudant Rooi Els is die gesoute speurduo wat die 399-verkragter moet probeer vastrek.

Kassie is pas terug by die SAPD se elite-Spookeenheid ná ’n lang siekteverlof. Hy het onlangs sy Lucky Strikes vaarwel toegeroep, maar die rooklus knaag nog kwaai aan hom.

Kassie knaag dus maar deesdae eerder aan ’n blok sjokolade (wat natuurlik nie help vir sy swellende middelmaat nie).

Die ondersoek begin weliswaar met ’n verkragtingsaak, maar kort voor lank het die speurders te kampe met klagtes van afloerdery, bekruipery, ontvoering, grafskennis, moord en ander, meer perverse oortredings. Ek sal liewer nie te veel verklap nie, maar wees gerus: Dit is ’n wilde, wulpse vaart, by tye walglik, en met vele onverwagse wendings.

Een van die dinge wat Kassie-hulle se ondersoek opkeil, is ’n plaaslike poniekoerant (Die Stem, nogal) wat elke laaste druppel sensasie uit die verkragtingstorie wil tap.

Kyk uit vir die aweregse redakteur, ene Snuif Hamersma, met die ouderwetse kruisbande, die olierige snor en die papierdun gewete. Dit is kompleet asof hierdie glibberige karakter uit ’n strokiesboek se bladsye geglip het.

Juis hierom gee die misdadiger in Merk ’n mens sulke koue rillings, want hy dring die mees private ruimtes van ’n geborge middelklasbestaan binne en versteur die sosiale orde.

Ek het in ’n vorige resensie van Ys (2018) kritiek gelewer op ’n Amerikaanse karakter wie se stem in ’n ietwat onoortuigende Afrikaans weergegee word.

Dit het myns insiens die karakter se outentisiteit geskaad.

In Merk kom die dialoog deurgaans oortuigend uit die verf.

’n Mens kan elke karakter in jou geestesoor hoor praat.

Kyk byvoorbeeld die volgende interaksie met een van Kassie se kollegas:

Die deur gaan oop en Piet loer in. “Die moederowerste sê julle kan maar kom.”

Hy fluit deur sy tande. “En vandag makeer daar nie skuim om daai marmotjie se bekkie nie. Dit bol spierwit innie hoeke, my bra’s.” (262)

“Moederowerste” brigadier Shaheena Fortuin reël dié slag vir Kassie-hulle hulp in die vorm van kaptein Lulu Wiersinga.

Lulu is ’n misdaadprofileerder en een van die laastes in haar soort in die SAPD.

Sy sorg vir heelwat interessante insigte betreffende reeksmisdadigers se sielkundige afwykings, maar ook heelwat komiese irritasie.

Haar beterweterigheid is een ding. Haar manier om die heeltyd te skerm vir haar abstrakte teorieë is ’n ander: “Niks is eksak nie, Kassie.” (86, 127).

Daarby is sy boonop ’n selferkende taalpedant wat dit nodig ag om ander mense gedurig te korrigeer.

Maar Lulu se irriterendste – en snaaksste – hebbelikheid is die oorweldigende reukwater waarmee sy haarself bespuit.

Kassie en Rooi deel met haar ’n beknopte kantoor, en wanneer ook al Lulu instap, omhul van swaar walms, stik Kassie omtrent aan sy sjokolade.

Van Rensburg se idee om ’n misdaadprofileerder te betrek, was ’n geslaagde ingewing en herinner aan die onlangse Netflix-reeks Mindhunter (2017). Daar is tewens ook in Merk verwysings na berugte Amerikaanse reeksmisdadigers soos David Berkowitz (318) en Jeffrey Dahmer (199).

Rudie van Rensburg kon nog nooit daarvan beskuldig word dat sy booswigte eendimensioneel is óf dat hul boosheid nie deeglik begrond is nie.

In hierdie jongste boek betree hy weer vreesloos die donker kerker van ’n versteurde reeksmisdadiger se psige.

Merk is geen uitsondering nie. In hierdie jongste boek betree hy weer vreesloos die donker kerker van ’n versteurde reeksmisdadiger se psige.

Die intertekstuele verwysing na Robert Louis Stevenson se Dr Jekyll and Mr Hyde op bladsy 123 is nie om dowe neute nie.

Reeksmisdadigers en psigopate lei dikwels ’n dubbele lewe: Bedags oënskynlik ’n normale lid van die samelewing, snags swig hy voor die beestelike drange van sy alter ego.

Juis hierom gee die misdadiger in Merk ’n mens sulke koue rillings, want hy dring die mees private ruimtes van ’n geborge middelklasbestaan binne en versteur die sosiale orde.

’n Mens kan maar net jou hoop vestig op helde soos Kassie en Rooi.

Tydig is Merk vir seker. Die roman – synde een waarin vroue verbete geteiken word – verskyn immers teen die agtergrond van ’n landwye epidemie van geslagsgegronde geweld.

’n Skeptiese leser sal miskien vra: Ontketen die boek werklik simpatie vir die lot van vroueslagoffers van geweld? Of is hulle grotendeels verhoogstukke in ’n manlike speurdrama?

Ek is nie seker nie. Maar miskien is dit ’n onredelike eis. Die boek is kennelik nie bedoel as ’n dieptestudie van slagoffers se trauma nie, maar per slot van rekening eerder as ’n boeiende speurriller. En in hierdie opsig tref Merk ongetwyfeld, wel, sy merk.

Neil van Heerden doseer Afrikaanse letterkunde aan Unisa.

Meer oor:  Rudie Van Rensburg  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.