Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Winnie Rust se laaste boek bekend gestel
Die omslag van Katryn, die laaste boek deur Winnie Rust (regs). Dit verskyn postuum.

In Winnie Rust se laaste roman verskyn paragrawe wat haar siening oor die lewe so getrou weerspieël dat dit ’n mens laat skrik.

Dié skrywer met die deernisvolle hart wat nooit gehuiwer het om te help waar sy kon nie, is op 11 Mei wreed vermoor. Die verdagte, ’n jong seun wat sy op verskeie maniere deur sy skoolloopbaan bygestaan het, is aangekeer en verhoorafwagtend in die tronk.

’n Koue rilling loop langs jou ruggraat af wanneer jy op dié paragraaf in Katryn afkom: “Wat sal dit baat om die skuldige tronk toe te stuur, Ben? Jy kweek daarmee ’n erger misdadiger. Die antwoord lê eerder in uitreiking en opheffing.”

Ook die volgende woorde tref diep: “Hy’t gesê, ons moet die sondaar nie veroordeel nie, maar die sonde. Hy’t gepleit dat ons deernis vir die mens moet hê in sy gevangenskap van woede en van verslawing.”

Rust se omgee het nie einde geken nie, maar in ’n sekere opsig haar einde beteken. Die verdagte was vermoedelik ’n tik-gebruiker. Haar deur het nietemin vir hom oopgestaan.

Katryn, wat Rust kort voor haar dood voltooi het en op 29 November bekend gestel word, speel in die 1860’s in Wellington, Rust se tuisdorp, af. Dit is die tyd toe die koms van die stoomlokomotief en die nuwe predikant, Andrew Murray, ewe groot nuus was.

Katryn, die enigmatiese kroegmeisie van die Masonic-hotel, en Blink Ben Marais van die spogplaas Wolwehoek, het in dié tyd geleef en dit is oor hulle wat die verhaal gaan, oor Blink Ben wat Katryn van die hotel nie uit sy gestel kan kry nie.

Olivia le Cordeur, kurator van die Wellington Museum,

en Christine Siebrits, voorsitter van Vriende van die Museum, sal op die bekendstelling gesels oor die tydperk en die wêreld waarteen die fiktiewe verhaal geplaas is.

Suzette Kotze-Myburgh sal ’n oorsig oor Rust se skryfwerk gee met verwysing na haar vorige publikasies –

Deur die liefde aangeraak: Gedagtes rondom die Christenvrou vandag (NG Kerk Uitgewers, 1983), Martha: ’n Verhaal oor Martha Solomons, Countess van Stamford (Hemel en See, 2004), Margie van die Seminary en ander verhale (Human & Rousseau, 2011) en Trek (Human & Rousseau, 2013).

Katryn is uitgegee deur Litera Publikasies.

* Die bekendstelling is op 29 November om 17:30 in die Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington.

Meer oor:  Winnie Rust
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.