Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Woorde kan wonde laat wyk

Ondanks ’n paar gruwelfoute is Lizette Rabe se sakpas-skryfterapiegids ’n waardige toevoeging tot die Afrikaanse boekeskat, skryf Kobus Burger.

Om tot verhaal te kom: Verwerk trauma en verlies deur skryfterapie deur Lizette Rabe. Uitgewer: Lapa. Prys: R260.

‘Solank as wat jy dit gereeld wegskryf, kan niks jou regtig seermaak nie,” het die Amerikaanse skrywer Shirley Jackson eens gesê. Die terapeutiese waarde van skryf is egter veel komplekser en dit is waarom Lizette Rabe se skryfterapiegids so ’n waardige toevoeging tot die Afrikaanse boekeskat is.

Skryfterapie neem verskeie vorme aan. Daar is onder meer Julia Cameron van The Artist’s Way-faam se “oggendbladsye”, dr. Lucia Capacchione se tegniek om met die linkerhand te skryf en die “innerlike kind” vrye teuels te gee, en dr. James Pennebaker se gestruktureerde, wetenskaplik gefundeerde skryfterapie van 20 minute per dag.

Rabe het een van haar seuns aan selfdood verloor. As joernalistiekprofessor en voormalige redakteur van die tydskrif Sarie het sy haar gewend tot dit wat sy ken: skryf. Sy het ook Pennebaker se navorsing ontdek en lig dit in haar gids uit.

Haar uiteensetting van die Pennebaker-tegniek is egter nie volledig nie – lees gerus Writing as a Way of Healing: How Telling Our Stories Transforms Our Lives (1999) deur Louise DeSalvo vir ’n volledige lys moets en moenies.

Komplekse en moeilike emosies is deel van die skryfproses en die skrywer moet soms ondersteuning en terapie kry. Terapeutiese skryfwerk is gewoonlik helend sonder dat enigeen dit ooit hoef te lees, is van DeSalvo en Pennebaker se raad. Dit is belangrik dat die voornemende skrywer die volledige lys moets en moenies bestudeer. Skryfterapie, soos Rabe tereg waarsku, is allermins ’n kitsoplossing.

Rabe gooi haar net veel wyer en ná die basiese skryfwenke bespreek sy verskeie vorme van skryf – van blogs, e-posse en Facebook tot memoires en gedigte. Haar eie e-posse aan haar groep “kuberengele” is besonders en aangrypend – een van die boek se hoogtepunte. Sy skryf ook oor die nut van “krabbels” (doodles), gedigte en die vertaling van gedigte.

Die boek sprankel van die aanhalings uit die wêreldletterkunde wat Rabe keurig in Afrikaans vertaal het. Een hoofstuk word selfs aan inspirasie gewy.

Dit is jammer dat gruwelfoute soos die spelling van Virginia Woolfe (sic) se van deurgeglip het. Daar is ook aaklige breekfoute soos “spasief-oute” (bl. 54) en op dieselfde bladsy verwys sy na die reël wat tussen werkwoorde toegepas word – wat op bl. 46 reeds verbreek word met “om uit jou diepste talent te tap moet jy kalm en rustig wees . . .” wat sonder ’n komma tussen die werkwoorde geskryf is.

Hierdie leser het ook die deduktiewe skryfwyse en veral die oormatige gebruik van “Dus:” om ’n paragraaf mee te begin steurend gevind.

As akademikus het Rabe haar oortref met navorsing, leeslyste (sien veral hoofstuk 20 – “Lees as inspirasie vir skryf”; en hoofstuk 21 – “Om te lees”, wat selfs ’n lysie met agtergrondmusiek vir skryf insluit) en bronnelys. Om tot verhaal te kom kan ongetwyfeld vir die leser nuwe deure oopsluit.

Net ’n waarskuwing: Rabe onderskei nie alslag tussen kreatiewe en terapeutiese skryfwerk nie. Sommige terapieskrywes oor traumatiese gebeure moet soms verbrand of opgeskeur word. Dit is nie vir ander oë (selfs nie eens geliefdes s’n nie) en nog minder vir publikasie bedoel. Die praktiese skryfwenke hanteer daarom nie alslag die “veiligheid” van die skrywer, sy/haar emosies en die plofbare en/of sensitiewe skryfwerk nie.

Pennebaker en DeSalvo sê grammatika, spelreëls en punktuasie is nie van belang nie, hoewel Rabe dit in detail behandel. Dit is belangrik vir die oog op publikasie (of die voltooiing van ’n manuskrip), maar nie vir skryfterapie nie.

Rabe haal Ben Okri aan wat gesê het stories kan die hart groter maak. As dié sakpasgids daartoe kan bydra, sal dit nie net tot meer storievertellers (en/of boeke) lei nie, maar ook lesers en skrywers wat ruimte kan skep vir die wêreld met al sy seer en verdriet. En boonop met woorde ’n nuwe pad oopskryf oor die letsels van trauma.

  • Kobus Burger is uitvoerende regisseur van drama by RSG.
Meer oor:  Lizette Rabe  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.