Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Woorde soos vrugte van die soetpeulboom

Woordeboek van die Afrikaanse Taal Deel XV

Hoofredakteur: Willem Botha

Eindredakteur: Frikkie Lombard

WAT, R450

Grafika: hanlie malan

Dit bly steeds ’n opwindende oomblik wanneer ’n mens die nuwe band van ’n woordeboek vir die eerste keer in jou hande hou. En soveel te meer in hierdie geval, waar die era van die hardeband-WAT nou byna tot ’n einde loop.

Deel XV van die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse taal) het onlangs verskyn, ses jaar na die vorige band in 2013. Nog een band tot die einde van S word beplan, en vanaf die letter T sal die WAT uitsluitlik aanlyn beskikbaar wees.

Hierdie band strek van SKOOL tot SRI, met ongeveer 9 000 lemmas. Weereens ’n pragtige, stewig gebinde uitgawe, leesbaar en gebruikersvriendelik. In die toeligting by die gebruik van die woordeboek word onder meer die beleid verduidelik vir die hantering van beledigende en sensitiewe leksikale items.

Daar word hier rekening gehou met die kategorieë rassismes, seksismes en sensitiewe leksikale items wat gestigmatiseerde seksuele verskynsels, praktyke en voorkeure aandui (bv. snol, sodomieter), leksikale items waarmee gestigmatiseerde fisieke of geestelike toestande en verskynsels benoem word (bv. soetskeel, spasties), leksikale items wat politieke en sosiale verskille benoem (bv. Slams, Snees), en plat en vulgêre items, skeltaal en vloeke (bv. skyt, snot).

By elkeen van hierdie lemmas word die gebruiker teen die kwetsende aard daarvan gewaarsku en verwys na die gebruiklikste neutrale sinoniem. (Interessant genoeg is die woordeboek-beleid om by rassismes nie sitate te verstrek nie.)

Blaai ’n mens deur die WAT is jy weereens verbluf deur die rykdom van die taal en kom jy soos altyd af op kosbaarhede, onverwagshede. Hoe is dit móóntlik dat die Afrikaanse woordeskat so omvattend is (net die letter S regverdig al drie woordeboekbande!) en dat ’n mens so weinig van hierdie rykdom merk by die oorgrote meerderheid gebruikers van Afrikaans?! Hoe is dit dan dat die omgangstaal deesdae so verskraal geraak het?! (Is dit ’n troos dat dit met Engels ook die geval is?!)

Niemand word meer deesdae beskryf as ’n snoeshaan nie (’n verwaande en aanmatigende manlike persoon), terwyl daar heelwat van hulle in die omloop is. Dit geld ook vir ’n slonskous, ’n slapperd. Niks is ooit meer soberend nie (terwyl daar heelwat is om oor versober te raak), en dit geld ook vir sorgbarend.

Niemand staan meer sprakeloos nie. Wat het geword van ’n sprankie hoop? Somberheid is ’n pragtige gemoedsomskrywing. Soetlik is ’n nuttige woord om veel van wat ons meemaak te omskryf (hou dit maar in gedagte). Souteneur vir pimp. Sonderling (in plaas van die erg verslete vreemd of weird). ’n Soenvaste lipstiffie. Iemand is snaargespanne, of sliertharig.

Idiome lyk my is besig om vinnig uit Afrikaans te verdwyn.

Skryfwoede (’n kwalik beheerde skryflus). Skreebalies kom mens nie meer teë nie. Spieëlgetrou (waarheidsgetrou). ’n Spekstorie (’n liegstorie). ’n Sokkel (suilvoet). Snuffelmark. En dan net sommer pragtige woorde soos soetrandjiesdoos, ’n soetmelkbos en ’n soetpeulboom, soetvleisklier (pankreas), spinnejapie, smutsvingergras, skurwejan (krokodil).

Idiome lyk my is besig om vinnig uit Afrikaans te verdwyn, helaas, terwyl idiome in ’n groot mate die skering en inslag vorm van ’n taal. ’n Speek in die wiel wees, van elke slag en soort (’n wye verskeidenheid), die spoor byster of kwyt raak, ’n snotpsalm aanhef (begin huil).

Soos in die vorige bande, is die gebruik van voorbeeldmateriaal sowel vinding- as verbeeldingryk. Kyk maar agterin na die lyste en lyste bronne waaruit aangehaal word – van Jan van Melle tot Breyten Breytenbach, van Gustav Preller tot Deon Meyer.

Daar word aangehaal uit literêre werke, prosatekste sowel as digbundels, uit tydskrifte, nuusblaaie, vaktydskrifte en -publikasies. Daar is voorbeelde wat strek vanaf die negentiende tot die een-en-twintigste eeu, wat ’n waardevolle oorsig bied oor die veranderende taallandskap van Afrikaans deur die dekades.

Maar wat mens verál opgewonde maak by hierdie band, is die Addendum – vir die eerste keer sedert die verskyning van die WAT in 1950, is daar hierdie bylaag met alle bygewerkte woorde van A tot Skooi.

Hieronder tel onder meer nuutskeppings (katelknaap, kroegkruip, oogpoeding). Koswoorde (charcuterie, chorizo, hummus, bunnychow, panzanella, macchiato). Eietydse terminologieë (Ebolavirus, emoji, hutsmerk, koolstofvoetspoor, kwerekwere, paleodieet, pantsula, rugsakreis, helikopterouer, homofobie, izibongo, oorbruggingsjaar, glasnost, grondhervorming, grensoorlog, gender). Tegnologiese terme en vakkundige terminologieë (DVD, aanraakskerm, hommeltuig, kubermisdaad, hidrobreking, google, spam, RNS-virus, ammoniumchloried, mioloog). Siekteterminologieë (karpaletonnelsindroom, prikkelbaredermsindroom, aandagafleibaarheid-en-hiperakitiwiteit-sindroom).

Asook meer informele, geselstaal (rymklets, romkom, hoesit, heita, afslek). Daar is heelwat woorde wat al lank in gebruik is, maar pas nou in die addendum bygewerk is (kommin, gatslag, gay, fokof, fokop, dêmmit, folkmusiek).

Hoewel dit dus sorgbarend is dat die woordeskat van die algemene taalgebruiker (skynbaar) verskraal, is dit verblydend dat daar soveel nuwe woorde in Afrikaans opgeneem word – ’n refleksie van ons veranderende, eietydse wêreld. Dit wil wel voorkom asof die Nederlandse taalinvloed steeds minder en die Engelse taalinvloed steeds meer word.

Dit is ’n reusetaak om so ’n woordeboek te maak, dit verg jare lange geduld en toewyding. Dit vra vir noukeurigheid, vernuf en goeie oordeel in die deurwerk van die massa materiaal wat uiteindelik gesif en in die woordeboek neerslag moet vind. Dit is ’n diens aan die Afrikaanse taal en die gebruikers daarvan – ’n diens van onskatbare waarde – en hiervoor verdien drr. Willem Botha (hoofredakteur) en Frikkie Lombard (eindredakteur) en hulle span die hoogste lof.

Ingrid Winterbach is ’n bekroonde skrywer en kunstenaar.

Meer oor:  Willem Botha  |  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.