Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Woorde vloei moeiteloos in derde Strandveld-roman

Lesers wat ouwêreldse verhale met allerlei intriges op verhoudingsvlak geniet, sal heerlik peusel aan S.D. Fourie se derde roman, ‘Noorman’, skryf Juliana Coetzer.

Noorman deur S.D. Fourie. Uitgewer: Penguin. Prys: R250.

Noorman is die derde roman uit die pen van S.D. Fourie wat in die Strandveld afspeel. Haar eerste twee gewilde romans, Die lanternswaaier (2011) en Die dooies leef (2014), volg op mekaar maar kan afsonderlik gelees word. Noorman staan ook op eie bene, al het kapt. Robert MacFarlane reeds in Die lanternswaaier sy verskyning gemaak.

Die Afrikaans in Noorman smaak kompleet soos outydse basaarpoeding met lieflike kontreiwoorde wat lesers op die tong kan rol: grippie (’n vlak voortjie) juts (ongeërg) en bittermondjie (’n klein bietjie swart koffie). Die woordelys aan die einde verskaf nuttige verduidelikings – ek het darem geweet “hokkies” is buitetoilette, maar sou nooit kon raai “koffie deur die vlak jaag” beteken om uit ’n piering te drink nie!

Op 13 Julie 1920 verskyn kapt. Robert MacFarlane onverwags op die plaas Hagelkraal om terug te eis wat syne was voor die Eerste Wêreldoorlog hom geroep het: sy vrou, Sofia. Of soos Fourie dit stel: “In die winter van 1920 eindig Robert MacFarlane se lewe vir ’n tweede keer en begin Jac Gerard se lewe van afsondering en selfverwyt op ’n klein gedeelte van die plaas Vredehoek in die Strandveld.”

Jac voer ’n nuwe bestaan op ’n stuk grond wat ’n barmhartige Samaritaan aan hom skenk, maar laat niemand op sy werf of in sy hart toe nie. Hy leef soos die meeste onwillige helde met ’n geheim saam waarmee hy niemand vertrou nie, selfs nie dié wat hulle oor hom ontferm nie. Die geheimsinnige man, treffend met sy gesig agter ’n hoed op die voorblad uitgebeeld, word die middelpunt in die lewe van almal wat met hom in aanraking kom.

Verhoudings vorm die kern van die boek en wemel van intriges en gevoelens vir en teen Jac. Niemand bly onaangeraak deur die man nie. Die eerste een wat deur die kors om sy hart breek, is Lewiesa, dogter van werkers op die naburige plaas, wat hom ná sy aankoms gesond dokter en hom “Noorman” doop – ’n 9de- of 10de-eeuse Noorse seerower volgens die woordelys. Dit is sy wat uiteindelik die langste pad met hom loop.

Maria is die getroude maar seksueel gefrustreerde buurvrou. Telkens wanneer haar oë te lank oor die lyf van die Noorman dwaal, raak sy swanger. Haar man, Jan, wat tydens die droogte in ’n water-twis met Jac verkeer, vermoed haar gevoelens vir die buurman wanneer sy haar onstuimige drange snags op hóm uitwoed, maar uiteindelik verloor sy beheer oor haar jaloesie.

Dan is daar die Levinsons: Abram, by wie Jac sy proviand koop en waar hy uiteindelik veilig genoeg voel om sy geheim te deel, en Sara, Abram se sensitiewe dogter wat haar aangetrokkenheid tot die Noorman nie kan wegsteek nie.

Jac trou ná baie jare, maar begeef hom aan die verkeerde kant van die wet wanneer die Nasionale Party die nuwe regerende party word. Die beskutte Strandveld, wat strek van die mond van die Kleinrivier tot die mond van die Breederivier, spring nie die rimpeleffek van die veranderde politieke bestel vry nie. Jac se gesin word in so ’n mate daardeur geraak dat die verhaal ’n onverwagse kinkel kry.

Dit is ’n skok om weer die kwetsende baas-en-klaas-woorde te lees wat daardie tyd algemeen gebruik is, selfs voor apartheid wet was. Gelukkig gee karakters soos Jac en die Levinsons balans aan die verhaal, mense wat deur hul menslikheid aangevuur word en nie deur wetboeke of die samelewing se ongeskrewe reëls nie.

Paternalisme steek ook kop uit, en hoewel die vroue in die boek deur die bank sterk en uitgesproke is, kon hierdie leser eenvoudig nie deernis vir Maria ontwikkel nie. Al is sy vindingryk met die leisels van die boerdery stewig in haar hand, is sy darem net te flink met al haar sluwe planne.

S.D. Fourie is ’n bedrewe skrywer, die tempo is vinnig en sy raak nie in detail verstrik nie. Haar woorde vloei sonder inspanning en laat jou met die gevoel dat Noorman ’n lekkerleesboek is wat jy nie hoef te ontleed nie.

Aanhangers sal beslis nie teleurgesteld wees nie, en nuwe lesers wat ouwêreldse verhale met allerlei intriges op verhoudingsvlak geniet, sal ewe lekker peusel aan die boek. Inwoners en oud-inwoners van die Strandveld sal weer ekstra waardering hê vir die herinnering aan hulle geliefde streeksuitdrukkings.

  • Juliana Coetzer is ’n skrywer, vryskutresensent en psigoterapeut van Vermont.
Meer oor:  Roman  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.