Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Woorde wat hul storie ken

Woorde hul storie sien ken. Essays en rubrieke, deur Bernard Odendaal. Uitgewer: Naledi. Prys: R175. Resensent: Daniel Hugo

Dit is min mense gegun om ’n voltydse literêre lewe te lei. Bernard Odendaal is een van die gelukkiges. Hy was ’n poësiedosent aan die Universiteit van die Vrystaat en is deesdae die skryfskooldirekteur aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Daarby is hy skrywer van die digbundel Onbedoelde land (2007).

Die afgelope paar jaar het hy rubrieke en essays geskryf vir die webtuiste Versindaba, asook vir die Bloemfonteinse koerante Bloemnuus en Volksblad. Dié prikkelende stukke is nou gebundel in Woorde hul storie sien ken. Reeds met dié ongewone titel vestig Odendaal die aandag op ’n belangrike motief in sy skryfwerk: die taal in al sy verskyningsvorme, waaronder streektaal. Met genoegdoening lees ’n mens uitdrukkings soos “ou helfte van die middag”, “ordintlik”, “goeterse”, “komvandaan”, “omtes”.

Die skrywer skep self heelwat neologismes, soos “goegeloer” (’n internetsoektog met behulp van Google), “koueverskroeiing” vir “swartryp”, “liggieting” vir “sonskyn”, “veelal” of “meeral” vir “multiversum”, “internetskaats” vir “web surfing”, en “impulswildernis” vir die elektroniese media wat ons met inligting oorval.

Soos ’n mens van ’n digter kan verwag, is daar pragtige poëtiese taalgebruik op omtrent elke bladsy. My gunstelingstuk hieroor is die eerste een, “Laatwinterrit”, waarin ’n student die digter op sy eie terrein troef. Sy ry met hom saam van Bloemfontein na Potchefstroom en beskryf die landskap pragtig beeldend. Die Vaalrivier lyk vir haar byvoorbeeld soos “uitgerolde tinfoelie”. Op die ou end kan hy nie anders as om deur haar waarnemingsvermoë en digterlike formulerings geïnspireer te word nie. Die slotsin lui só: “Ek kyk déúr haar op na die sterreneste aan die nag se vertakkings.”

Die kuns van rubriekskryf is in die 1970’s deur Chris Barnard vervolmaak met sy Chriskras-stukke in Huisgenoot. In die titelstuk van Odendaal se bundel, “Die keer toe ek woorde hulle storie sien ken het”, vertel hy hoedat hy op skool deur sy Engels-onderwyseres aangemoedig is om vir ’n opstelwedstryd in te skryf. Hy wen toe, maar moet nou ná al die jare erken dat die treffendste passasies van sy Engelse wenopstel “oorgehewelde brokke” uit Barnard se rubrieke was. Dit is vir ’n skrywer die grootste kompliment denkbaar as hy geplagieer word. Dit het Bernard met Barnard gedoen.

Die bundel bestaan uit drie afdelings. Die eerste handel oor binnelandse en buitelandse reise, die tweede oor herinneringe aan die hoewe buite Bloemfontein waar hy grootgeword het (sy vrou noem hom ’n “plotrot”), en die derde bevat gemengde stukke. Van die nostalgiese skryfsels sê hy: “Mens se kop sypel vol vertes en verledes.” Een van die mooiste rubrieke in dié genre is “Ou veldflieke laat kry nostalgiestuipe”.

Soos dit ’n goeie rubriekskrywer betaam, skets hy grepe uit die lewe – selfs al handel dit ook oor die “stertkant van die werklikheid”, soos dit in een rubriek genoem word. Dit behels natuurlik ook dat die nuwe Suid-Afrika met sy geweld, korrupsie en bedreiging van Afrikaans onder die skrywer se skerp loep geneem word. Die ontstellendste stuk is “Woorde wat vlees moet word”. Dit verwoord Odendaal se onthutste reaksie op ’n koerantberig uit 2003 oor die massaverkragting van ’n jong vrou. Ons het al immuun geraak vir die gruwels waaroor ons in koerante lees. Dit kos ’n sensitiewe skrywer soos Odendaal om ons weer te laat meevoel met ons medemens.

Daar is ook heelwat humor in die stukke wat help om die ontsteltenis, verdriet en lelikheid te besweer. Hy en sy vrou reis in Griekeland, die sogenaamde wieg van die moderne Westerse beskawing. Sy kommentaar daarop is: “Dié wieg lyk deesdae na ’n ietwat slordige oumanskooi.” Die volgende vergelyking het my onkeerbaar laat grinnik: “Hy gee so ’n roggellaggie, soos ’n aansitter gekoppel aan ’n pap battery.”

Odendaal is in hart en niere ’n digterlike taalmens. Die mooiste sin in die bundel vir my is die volgende beskrywing van reën wat begin uitsak nadat dit lank weggebly het: “Dan begin die genade sing op die sinkdak; die geute begin die geluid namaak van ’n mooi woord soos ‘murmel’.”

Bernard Odendaal ken sy storie met woorde. Hy behoort woeliger daarmee te woeker en ons nie weer nege jaar te laat wag op ’n nuwe publikasie nie.

  • Daniel Hugo is ’n digter en vertaler.

Meer oor:  Daniel Hugo  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.