Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Woordryke, uitwaaierende verse

Op die vingerpunte van die heelal deur René Bohnen. Poësie. Uitgewer: Naledi. Prys: R175.

Op die buiteblad van Op die vingerpunte van die heelal is ’n fyn netwerk van lyne en knooppunte afgebeeld. Dit lyk inderdaad soos die beeld van die hemelruim wat ’n mens sien in ’n sterrewag wanneer uitgezoem word tot miljoene jare gelede. Trouens, daar word gesê dat daardie fyn netwerk van die heelal net soos breinweefsel onder ’n mikroskoop lyk.

Hierdie bundel is René Bohnen se derde en daar is ’n bepaalde selfversekering waarmee die digter skryf. Die eerste gedig gaan oor vlinders wat oor die aarde uitge­asem word deur God. Hulle fladder oor alles, “oor bedelaars, bos­slapers en biljoenêrs – (…) oor glasgeboue, gaswerke, die bakens en landmerke” (bl. 1). In die gedig word dan verder getoon hoe die vlinders oral teruggevind word, op markte, in fabrieke, tussen en op alle soorte mense. Hulle is “fladderend pelgrims, kapoklig/ onderweg na die see” (bl. 2). Maar by die kruisings waar alle soorte mense ontmoet, “lê ’n klomp vergruisdes (…) soos die vervulling van ’n profesie”.

Samevattend kan gesê word daar is sowel ’n voorliefde vir die momentopname in die gedigte as vir besinning en dat die bundel ’n aantal tydgenootlike kwessies betrek.

Die vlinders word hier uitgebeeld as nietig en mooi en alomteenwoordig, ongesien maar betekenisvol. Hulle word ook simbool van die nietigheid van die mens, want net soos die vlinders is die mens ook onherroeplik verganklik.

Die opnoemtegniek wat die digter in hierdie gedig gebruik, kom in baie ander gedigte voor. Daar is veral heelwat gedigte wat oor plekke handel en dan word die plek se eienskappe in reekse metafore en opgestapelde visuele beelde beskryf. Johannesburg word “jozi op ’n riff”, ’n stad soos ’n hoer met ligte en messe en sluiers en maskers en kinders wat in stormwaterslote speel. Telkens word die omvattende en die detail teenoor mekaar geplaas. Sunninghill bestaan in sy besige strate, maar ook in die kat wie se poot “ ’n kleinletter p” vorm.

Die gedigte beklemtoon kontraste ook op ander maniere. Die lentenag in Tshwane is “omstrede” in “Foktober, die rooiste maand vanaand”.

’n Ander deurlopende onderwerp is gedigte oor skilders en ander kunstenaars soos fotograwe en beeldhouers, soos in die gedig oor Rothko, wat afsluit met ’n aanhaling van Rothko: “. . . we all had ­nothing to lose and a vision to gain”, die vers oor die naïewe skilderes Séraphine Louis, ook oor ­Matisse, Louis Wain (wat allerlei soorte katte geskilder het), die fotograaf Diane Arbus, Toulouse-Lautrec, Camille Claudel en Goya.

Samevattend kan gesê word daar is sowel ’n voorliefde vir die momentopname in die gedigte as vir besinning en dat die bundel ’n aantal tydgenootlike kwessies betrek.

Die digter moet ook veel versigtiger omgaan met byvoeglike naamwoorde – die gedigte dra soms net te swaar daaraan.

Daar is ook die deurlopende verwysings na die kunste en baie van die gedigte bevat meer of minder verskuilde poëtikale uitsprake, van die “roggelrooi gedig” wat Jozi is tot by “(v)oëls kyk is ’n ander manier van gedigte skryf” en die digter wat met haar vingers “votums op papier bly fluister”.

In hierdie bundel vind ek ’n aanvoeling vir inkantasie en improvisasie, maar ek mis wel die dissipline van die denke, soos in die wiskunde, daaragter. Die digter kan gewis vry en uitwaaierend en uitwoekerend skryf, maar hier gaan dit soms te ver.

Daar is beelde wat nie oortuig nie, soos Jozi waarvan gesê word: “sy is ’n roggelrooi gedig op ’n sebra se lyntjiesrug”, “ons stap in snydende sirkels om drake”, “ons hande kleef soos honger seekatte om selfone”, “die aardmantel breek soos ’n verbond”. Dit klink op, maar by nadere deurdink kom ’n geforseerdheid en bedagtheid na vore wat nie oortuig nie.

Die digter moet ook veel versigtiger omgaan met byvoeglike naamwoorde – die gedigte dra soms net te swaar daaraan. Vanselfsprekend is die verhouding tussen poëtiese uitbouing en gedagte-inhoud ’n baie moeilike ding en waar sommige digters dit gemaklik hanteer, is dit vir ander ’n moeiliker verhouding om te beheer.

Nogtans sal lesers wat hou van woordryke uitwaaierende verse hierdie bundel graag lees.

  • Heilna du Plooy is ’n professor by die navorsingseenheid tale en literatuur aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.
Meer oor:  Poësie  |  Digkuns  |  Boeke  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.