Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Woordveertjies: Hier is die wenners

Die ontslape skrywer Harry Kalmer se laaste boek, In ’n land sonder voëls, het die ATKV-prosaprys gewen.

Dit is een van drie kategorieë van die AKTV-Woordveertjies wat Vrydag bekend gemaak is.

Dié pryse beloon al langer as ’n dekade skrywers, digters en dramaturge.

Harry Kalmer, wenner van die ATKV-prosaprys.

In ’n Land sonder voëls is ’n avontuurverhaal, ’n aksieverhaal, ’n intieme liefdesverhaal en uiteindelik ’n aangrypende, gestroopte en wreed eerlike geestelike reis van ’n skrywer wat vir oulaas die verlede wil opteken, maar moet vrede maak met verlies en sy brose self.

Dit is deur Penguin Random House uitgereik.

Kalmer, wat verlede jaar aan kanker dood is, het in sy leeftyd net een prys gewen: Vir sy Engelse vertaling van sy boek ’n Duisend stories oor Johannesburg. Die beoordelaars van die ATKV-prosaprys was Elmari Rautenbach, Riana Scheepers en Kirby van der Merwe.

Oor In ’n land sonder voëls sê hulle:

“Hierdie teks is ’n kragtoer. Kalmer besin oor ’n bestaan/oorlewing in dié donkerwordende wêreld deur die swaksiende “oë” van sy hoofkarakter. Die leser kan nie anders as om Kalmer, die skrywer, in die teks in te lees nie. Kalmer was reeds terminaal toe die teks voltooi is.

Chris Karsten

Chris Karsten het die prys vir spanningslektuur met sy sielkundige riller Anderman se vrou (Human & Rousseau) losgeslaan.

Anderman se vrou stel ondersoek in na die onsigbare motiewe wat een mens dryf om ’n ander onvoorstelbare leed aan te doen, maar dan is dit ook ’n nie-sentimentele liefdesverhaal wat die onverwagte vreugde van ’n tweede kans vier. Dit is ’n roman wat inlig én verras.

Die beoordelaars sê:

“Hierdie boek staan uit bo al die ander wat die baie goeie spanningslyn betref. Die skrywer skep spanning vanaf die eerste bladsy tot aan die einde van die boek. Dit is veral verfrissend dat die storie (met sy tentakels in apartheid) so heen-en-weer tussen Kanada en Suid-Afrika pendel.”

Carel van der Merwe

Die wenner van die prys vir niefiksie is Carel van der Merwe met Kansvatter: die rustelose lewe van Ben Viljoen (Protea).

Kansvatter bied ’n wonderlike openbarende blik op ’n fassinerende stuk Suid-Afrikaanse en Afrikaanse geskiedenis, wat boonop op verrassende maniere met ons huidige tydsgewrig resoneer. Dit bied die insig dat hoe meer dinge verander, hoe meer hulle dieselfde bly. Hierdie baksteen van ’n boek getuig van wye en diep navorsing (soos dit ’n oud-PhD-tesis betaam), maar bied die storie van Ben Cronje in elegante, hoogs leesbare prosa. Dis ’n boek wat groot plesier verskaf en wat ’n mens in een ellelange sitslag kan deurdraf, maar waarnatoe ’n mens telkens teruggekatrol word.

Die beoordelaars was Jean Meiring, Herman Wasserman en Bettina Wyngaard.

• Die volledige lys van wenners is beskikbaar by www.atkv.org.za.

Meer oor:  Atkv  |  Chris Karsten  |  Harry Kalmer  |  Skrywers  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.