Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Woordvirtuoos se futuristiese leksikon slaan asem weg

Kortverhale

Die nag ruik na spoed

Schalk Schoombie

PROTEA, R200

Vir skrywers soos L.P. Hartley en Karel Schoeman “is die verlede ’n ander land, die mense doen dinge anders daar”.

Toekomsfiksie spekuleer eweneens ook oor ’n ander land waar mense dinge anders blyk te doen. Wat betref die verlede, die hede of wat ook al in die verskiet lê, is daar ’n gemene deler. Want anderkant rekenaarbeheerde en fantasiewêrelde is daar nog altyd die mens wat sentraal staan in enige besinning daaroor.

Reeds met C.J. Langenhoven se Loeloeraai het die Afrikaanse letterkunde homself met wetenskapsfiksie besig gehou. Verbeeldingsvlugte oor die toekoms is nie ’n maklike genre nie. Daarby is dit ’n genre wat die risiko loop om in oppervlakkighede te verval. Ek wil my verstout om te sê dat die gemiddelde leser nie altyd waaghalsig genoeg is om onderhoudende toekomsfiksie aan te durf nie.

In die onlangse verlede egter het die Afrikaanse letterkunde groot sukses met spekulatiewe verhale behaal. Deon Meyer se Koors, Harry Kalmer se In ’n land sonder voëls en Carina Stander se Die berg­engel is uitstekende voorbeelde. Gordel vas, met Schalk Schoombie se Die nag ruik na spoed klief die leser deur die klank-, of is dit woordgrens, die toekoms in.

Schalk Schoombie wys daarop dat die dosyn stories in hierdie bundel kortverhale oor ’n tydperk van drie dekades geskryf is.

Onder die opskrif “Laastens”, die skrywer se naskrif, wys Schalk Schoombie daarop dat die dosyn stories in hierdie bundel kortverhale oor ’n tydperk van drie dekades geskryf is. Wat my opgeval het, is die hand van ’n deurwinterde joernalis en ervare skrywer wat wyd gelees het en behoorlik nagevors het. ’n Skrywer wat gewaak het teen oorhaastige publikasie.

Alhoewel die bundel deurgaans van hoë gehalte getuig, sal lesers soos hierdie resensent meer van sommige stories as ander hou. ’n Pluspunt is die uiteenlopendheid van die stories en dat daar geen sprake van verveling is nie. Die treffende voorplat wat toekomstige moderniteit veronderstel, is nie ’n vals belofte nie.

By veral “Die geheim van vuur” en “Die beraad van dimensies” is daar ’n supersoniese moderniteit wat groot plesier verskaf het.

As woordvirtuoos bied Schoombie met hierdie verhale ’n futuristiese leksikon wat ’n mens se asem wegslaan. Dat Afrikaans tot so iets in staat is, bevestig dat die toekoms met gemak in Afrikaans onder woorde gebring kan word.

“Die geheim van vuur” worstel met die gesigloosheid van ’n gewelddadige apokalips waar verwoesting en selfverwoesting dalk met hoop getroef kan word. Sinne soos “Die Metabod. Gevaarliker as die Morbot. Saamgeflans uit vlees en bloed, kraakbeen en aluminium, kamera en mikroskyf, breinvlies en sening” (bl. 56) lanseer die leser op ’n futuristiese verbeeldingsvlug sonder perke.

“Die beraad van dimensies” is ’n sonderlinge leeservaring. Rekenaars beheer die wêreld en van mense of menslikheid is daar geen sprake nie. Dit is ’n teks wat as avant-garde beskryf kan word. Ons lees van ’n grotstad van digi-biblioteke en ’n Opperbibliotekaris as die Bewaarder van Digitale Dokumentasie – ’n karakter wat homself as al die ander karakters se Supergeheue beskou. (’n Heerlike en toevallige raakpunt met Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld). Wat in hierdie verhaal aan bod kom, is die hunkering na ’n nuwe Genesis-oomblik wat die herlewing van menslikheid veronderstel.

Die titel van hierdie bundel word ontleen aan die verhaal “ ’n Boer maak altyd ’n plan”. Twee mans reageer verskillend op verlies nadat hulle geliefdes aan die dood afgestaan het. ’n Groot lekkerte van hierdie storie, soos in omtrent al die ander verhale, is hoe die argaïese en moderne naas mekaar staan. Verbeel jou ’n koolstoof naas ’n hologram!

’n Veelheid van temas word in die 12 stories onder die loep geneem. Die moontlikhede van die mediese wetenskap. Volmaakte skoonheid en die kloning daarvan. Geheueverlies. ’n Behavioristiese oorweging van hoe die omgewing en die gemeenskap die mens maak of vorm. In die magiese “Tussen die lyne” die erkenning van die wiel as die eerste tegnologiese wonder.

Vreemdmakend surrealistiese ervarings en tegnologiese innovering is die boublokke van die twaalfstuks stories. Wat die verhale bind, is die mens se soeke na wetenskaplike deurbrake. Paradoksaal word die mens se verlies aan beheer oor sy selfgeskepte rekenaarbeheerde wêreld geïroniseer. ’n Hunkering om die dood te fnuik en om vas te hou aan ons kontak met geliefdes kom ook aan bod.

Behalwe vir Die nag ruik na spoed se lekkerlees-aanslag, kan die bundel se tekste as seminale leesstof beskou word wat die ernstige leser van letterkunde se nuuskierigheid oor wetenskapsfiksie behoorlik sal prikkel. Intertekstuele verwysings na internasionale futuristiese literatuur verleen verdere substansie aan die bundel.

Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.