Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Word ‘Wêhn’ se impak oorskat?

Albert Grundlingh se sorgvuldige, sensitiewe biografie oor die lewe van Van Zyl Slabbert is ’n saaklike relaas oor stellig die belangrikste tydvak in die geskiedenis van hierdie suid- punt van ons donker kontinent, maar sekere aspekte het tog vir Johann Kriegler gepla.

Dakar 1987: Jaap Durand, Slabbert, Thabo Mbeki en Jakes Gerwel. Agter: André Odendaal en Ampie Coetzee. Uit Slabbert, man on a mission. Foto: Rashid Lombard

Slabbert: Man on a Mission – A Biography deur Albert Grundlingh. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R275.

Toe ek van dié publikasie verneem, het ek gewonder of ’n boek oor Van Zyl Slabbert nog die moeite werd is in 2021. Blykbaar was ek verkeerd. Die man is duidelik nie vergete nie, hoewel hy al voor die omwenteling van 1994 feitlik uit die openbare oog verdwyn het en nou reeds ’n dekade nie meer met ons is nie.

’n Historikus van Albert Grundlingh se formaat en ’n uitgewer met Jonathan Ball se statuur reken sy storie verdien om vertel te word; Hermann Giliomee, doyen van ons geskiedskrywers, wy ’n uitgebreide artikel aan ’n bespreking van die boek; en koerante staan aansienlike ruimte daaraan af.

Waarom dié belangstelling? Het Slabbert regtig so ’n noemenswaardige impak op die gebeure van destyds gehad?

Giliomee meen hy had min gelykes in sy ontleding van die tekortkominge van apartheid en dat sy rol in die agteruit- en uiteindelike tenietgaan daarvan hoogs onderskat word. Was hy dalk ’n belangrike tussenganger wat die uiteindelike skikking bevorder het, of het hy ’n ander rol voor, by of rondom Kodesa gespeel?

Op skool reeds troon Slabbert uit en by die Universiteit Stellenbosch word hy heel gou uitgeken as ’n wenner. Hy presteer akademies terwyl hy Province op agsteman verteenwoordig, op sigself ’n sonderlinge prestasie.

Ek sou meer wou gesien het van hom as private méns.

Skaars het hy afgestudeer, of etlike universiteite maak aanloklike aanbiedinge, daarna vry politieke partye na hom en word hy ’n hoogs wenbare volksraadsetel toegeken. Sy party gooi sy volle gewig agter hom, die bloulintkandidaat wen by die stembus en, siedaar, met spreekwoordelike tromroffel verskyn “Wêhn”, allerweë ’n menslike vuurpyl wat ’n maansending kon onderneem.

Die lewensloop van hierdie sonderlinge mens word in Slabbert: Man on a Mission sorgvuldig en sensitief uitgebeeld. Dit is ’n saaklike relaas van stellig die belangrikste tydvak in die ganse geskiedenis van hierdie suidpunt van ons donker kontinent. Bowendien, en belangriker, Grundlingh plaas sy protagonis volwaardig in hierdie voortstuwende konteks en verskaf ’n mens-georiënteerde tafereel in toeganklike taal. Daarmee word die leser bemagtig om self die bogenoemde vrae te probeer uitmaak en, hopelik, ook geïnspireer om die geskiedenis vraend te ondersoek.

Kennelik is dié biografie vakkundig verantwoord. Ter rugsteuning van sowat 250 bladsye teks is daar byna 1 200 eindnotas en ’n ellelange bronnelys, waaronder sowat 20 publikasies van Slabbert self, meer as 50 persoonlike onderhoude en e-posse tussen 2014 en laat verlede jaar, plus letterlik dosyne der dosyne ongepubliseerde bronne, argief- en mediaverwysings en bandopnames. (Ongelukkig weier uitgewers om die een of ander duistere rede om eindnotas regtig nuttig te maak deur byvoorbeeld die betrokke hoofstuknommer boaan bladsye te toon.)

Daar is egter enkele aspekte wat hinder. By geleentheid word koerantberigte en terugskouings ná die verloop van dekades as feitelik betroubare bewysplase gesiteer. Met sulke relase, veral van vergange gebeure, moet ’n feitebeoordelaar versigtig omgaan. Dis nie altyd duidelik of die skrywer hierop bedag was nie. Die ondervinding het ook geleer dat evaluering van ’n mens se karakter en sy beweegredes in sy handel en wandel baat by nugtere skeptisisme en tweesydige inligting. Luister oordeelkundig na sy ondersteuners, maar veral na wat sy teenstanders en kritici van hom dink. In die oorvloed gesiteerde bronne, asook dié in die bronnelys, is daar bloedweinig kritiese informante. Ek sou graag meer van Slabbert se opponente – buite maar veral binne sy eie party – wou gehoor het.

Die leser sal ook self kan bepaal of die optekening van die jeugfaset in die biografie nie te opsigtelik goedgelowig toegeneë is nie, of die jong Slabbert werklik so godsdiensgerig was toe hy op Wits gaan studeer het, of Wilgenhof werklik so ’n intellektuele forum was, en hoe sterk sy ambisies en hoe diepgewortel sy lojaliteite was. Hy het vroeg in 1969 sy pos op Stellenbosch verruil vir ’n hoër een by Rhodes; feitlik onmiddellik teruggewip Stellenbosch toe, binne ’n japtrap ’n pos by die Universiteit van Kaapstad aanvaar; toe skaars grondgevat of hy’s Wits toe; in 1973 reeds met die Verenigde Party sowel as die Progressiewe Party “gesprekke” gevoer; intussen met ’n moontlike nywerheidsbetrekking geflankeer; en is in 1974 Volksraad toe.

Grundlingh sien hierdie gebeure as getuienis van Slabbert se lewenslange roeping, naamlik om die land uit sy politieke doodloopstraat te bevry, en Giliomee meen Grundlingh se relaas illustreer hoe Slabbert se studie hom voorberei en bekwaam het om sy “proselytising instincts” rasioneel uit te druk. Dis goed en wel, maar daar moet darem ook gevra word of dié spronge so ligtelik of toeskietlik gesien kan word. Was dit nie dalk eerder ’n voorspooksel nie van sy plotselinge politieke awol in Februarie 1986, toe hy tydens die parlementêre wantrouedebat uit die bloute aankondig hy bedank – as LV én as leier van die amptelike opposisie?

Enersyds kan met aansienlike regverdiging aangevoer word dat, wat ook al die beweegrede, hierdie afstanddoening van sy bevelspos – en meer bepaald die wyse en tydsberekening daarvan – sy party ’n onomkeerbare nekslag toegedien het waarvan die party en die grootste gros van sy steun nooit kon herstel nie.

Nog belangriker, dat die enigste noemenswaardige liberale politieke party se stem daardeur verdof en ’n noodsaaklike drukgroep by Kodesa by voorbaat stilgemaak is. Helen Suzman, wie se oordeel en geloofwaardigheid in progressiewe kringe haas onbetwisbaar is, het hom nooit vergewe dat hy die vaandel wat sy vroualleen jare lank gedra het, versaak en die boodskap gaan staan en verloën het nie.

Daarteenoor kan ’n mens dan die stigting van Idasa en die hele dialooggedagte en die Dakar-inisiatief in ’n heel ander – en ewewigtiger – lig interpreteer. Was Slabbert nie tog maar reg om die sinneloosheid van parlementêre teenstand teen of bevraagtekening van die PW Botha-bestuurde NP-Djagganat te verruil vir ’n soeke na dialoog oor die kleur- en ideologiegrense heen nie? Was dit nie waagmoedig en versiende om betekenisvolle gesprekvoering te soek met die werklike – buiteparlementêre – opposisie nie?

Hoewel daar destyds verskeie ander toenaderingsinisiatiewe agter die skerms was, en hoewel die uiteindelike vergelyk dalk meer aan internasionale realpolitik te danke kan wees as aan sulke pogings, kon die openheid van die Dakar-gesprek en die kaliber van die deelnemers tog seker êrens ’n steen losgewikkel het. Giliomee meen so en Grundlingh ook: Juis omdat Slabbert apartheid nie heelhuids as boos verwerp het nie, maar die beleid op sy eie teoretiese uitgangspunte aangepak en bevraagteken het, kon denkende Nasionaliste beweeg word om te besin.

Dit staan wel vas dat ’n gees van gesprek eerder as geweld algaande wyer posgevat het, veral ten tyde van die uitgerekte Kodesa-sage, en in wesenlike mate bygedra het tot die verrassend vreedsame oorgang. Ook dat daar in die laat 1980’s ’n merkbare gisting in saakmakende Afrikanergemoedere waarneembaar was. Het Slabbert en die invloedryke getuienis van die onkreukbare swaargewigte van Dakar dit veroorsaak of daartoe bygedra? Of was die bisarre Driekamerparlement en Slabbert se dramatiese afskeidsimptome (eerder as oorsake), en die Nasionale Party se broksgewyse en onopsigtelike aftakeling van apartheid überhaupt op fundamentele onderhandeling afbestem, en is alles toe deur die realpolitik en sameloop van omstandighede – hier te lande en wêreldwyd – in 1989 gepresipiteer? Grundlingh gee opnuut stof tot nadenke hieroor vir die ouer garde. Vir vrygeborenes en millenniërs vertel hy die verhaal glashelder en beknop – gepas vir diegene met ’n e-generasie-aandagspan.

Ek het Van Zyl Slabbert geken en bewonder, by geleentheid met hom saamgewerk, sy geselskap geniet, hom beskou as ’n sonderlinge en veelsydige intellektueel, ryklik bedeel met ’n sak vol talente. Hy was aantreklik en imponerend van voorkoms, liggaamlik en intellektueel atleties, oorbedeel met sjarme, mensvaardig, ’n welluidende en oortuigende redenaar, gevat, retories vlugvoetig, geestig, akademies deeglik onderlê in ’n basiese geesteswetenskap. Hy was nie alleen ’n formidabele verhoogpersoonlikheid nie, maar in die spreekwoordelike besige vertrek sou jy hóm altyd raaksien. Net soos Mandela, staan hy in enige groepfoto uit.

Maar ’n heilige was hy beslis nie, ook nie onfeilbaar in sy strategiese visie en politieke aanvoeling nie. Grundlingh wyt die verwelking van die gesindheid tussen Slabbert en Mbeki aan magspatologie by Mbeki ná die ANC se bewindsoorname. Die onafwendbare werklikheid is egter dat Slabbert hom uit die staanspoor misreken het met die ideologiese onversetlikheid van die ANC en in besonder van Thabo Mbeki. Selfs ná die oorgang moes hy toe met oplaaiende ontgogeling bewus geraak het van sy relatiewe randstandigheid. Die openbare opdragte wat wel na sy kant gekom het, was kortstondig en betreklik onbelangrik. (Dis ironies dat die kieswetwysigings wat sy taakspan in 2003 aanbeveel het, nóú eers werklik aandag gaan geniet.)

Slabbert was ook nie die uníéke ontredderaar van teoretiese apartheid en ontbloter van die onmenslike werklikheid, soos Grundlingh en andere dit het nie. Die onderbou van Verwoerdiaanse apartheid het teen PW Botha se bewindsaanvaarding reeds wesenlik begin wankel, en die klassieke spanning tussen diktatoriale verslappings en stygende verwagtinge was waarneembaar. Die skrif was aan die muur. Die vraag, vir dié wat oë gehad het om te sien, was onmiskenbaar – nie óf nie, maar hóé en wannéér daar tot ’n vergelyk gekom kon word. Mandela het dit geweet. PW Botha en sy binnekring het dit geweet – hul probleem was, om FW de Klerk se beeld te gebruik, hoe om die leeu uit die veekraal te kry. Intussen is die land vasgevang in ’n makabere spel met luidkeelse haka’s, maar heimlike vredesvoelers.

In daardie samehang het Slabbert bepaald ’n rol gespeel, maar die trefkrag daarvan moenie oorskat word nie. Ek wil met eerbied ook van die skrywer verskil oor die roeping, die sekulêre sending, waardeur ons protagonis aangevuur sou gewees het. Grundlingh soek kontinuïteit in ’n diskontinue loopbaan. Hy vind dit in ons man se sendinggedrewenheid en postuleer dat hy die kansel van die akademie verruil het vir die katedraal van die parlement. Dit is, met eerbied, net ’n bietjie te spitsvondig en toeskietlik. Bykans die hele slothoofstuk word gewy aan die ontwikkeling van dié tema en ofskoon ek reëlreg daarvan verskil, meen ek nie dit doen afbreuk aan die waarde van die boek as ’n bydrae tot ’n belangrike faset van ons oorgangsgeskiedenis en diegene wat daarby betrokke was nie. (’n Mens aanvaar dis ’n biografie van ’n openbare figuur, maar sou darem effens meer wou gesien het van Van Zyl Slabbert as private méns, maar dis bloot ’n persoonlike voorkeur.)

Deesdae wroeg ons oor ’n wetgewer wat sy grondwetlike toesigplig versaak en waar die kiesstelsel dientengevolge klakkeloos deur onkundiges aangegryp word as die oorsaak van gewetenloosheid by parlementslede. Ons sal almal daarby baat om opnuut te gaan kyk hoekom Slabbert in die benouing van destyds ander uitweë loop soek het. Sinvolle oorweging van Albert Grundlingh se bespreking van die lewe van Van Zyl Slabbert is daarvoor ’n gepaste beginpunt.

  • Johann Kriegler is ’n afgetrede regter van die konstitusionele hof.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.