Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Zephany’ wag vir grootmaak-ma om uit tronk te kom

Miché Solomon (22), tot Dinsdag in die publiek slegs bekend as Zephany Nurse wat as baba uit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gesteel is, wag saam met haar grootmaakpa vir een ding – die dag waarop haar grootmaakma uit die tronk kom sodat hulle almal weer saam kan wees.

Die omslag van die boek Zephany. Foto: Verskaf

Solomon se traumatiese ervaring toe sy as 17-jarige uitgevind het dat sy nie haar grootmaakouers, Lavona en Michael Solomon, se kind is nie, word vertel in die boek Zephany – Twee ma’s. Een dogter. ’n Ongelooflike ware verhaal.

Hierin vertel Solomon haar verhaal aan Joanne Jowell, skrywer van die boek.

Reeds vroeg in die boek is dit duidelik dat Solomon aanvaar daar is twee ma’s in haar lewe. Sy noem in die voorwoord sy dra die boek op aan Lavona (Solomon), asook aan Celeste (Nurse).

Solomon is eerlik oor haar liefde vir haar grootmaakma. Sy noem dat sy Lavona kort nadat sy gevonnis is in die Worcester-tronk gaan besoek het en dat sy en Michael deesdae twee tot drie keer per maand spesiaal Worcester toe ry.

Lavona is in 2016 tot tien jaar tronkstraf gevonnis.

Sy noem hoe sy haar ma met baie vrae gekonfronteer het toe sy haar in die tronk kon gaan besoek. Verder noem sy dat haar “daddy”, soos sy deurentyd in die boek na Michael Solomon verwys, steeds glo in Lavona se onskuld.

Lavona het in haar verweer aangevoer dit was nie sy wat Zephany uit die hospitaal gesteel het nie, maar dat ’n ander vrou (in haar verhoor in die hooggeregshof in Kaapstad het sy dié vrou Sylvia genoem) die baba gesteel en by die Retreat-stasie in haar hande gestop het.

Solomon sê in die boek al wat vir haar belangrik is, is dat sy grootgemaak is deur ’n vrou wat graag ’n kind wou hê en dat sy dankbaar is vir hoe sy grootgemaak is.

En dan erken sy die Solomon-huishouding wag vir Lavona om haar vonnis uit te dien en terug te keer.

In die boek is daar die twee jong vroue: eerstens Zephany Nurse, wat op 28 April 1997 in die Groote Schuur-hospitaal gebore is met Celeste en Morné Nurse as ouers. Twee dae ná haar geboorte verdwyn die baba uit die hospitaal.

Dan is daar Miché Solomon wat grootgeword het in ’n gelukkige huis as die enigste kind van Lavona en Michael Solomon.

Solomon verduidelik waarom sy die hooggeregshof in Pretoria genader het om haar regte naam, Miché Solomon, bekend te maak.

Een daarvan is dat hulle net soveel anders as sy is.

Sy het in ’n beëdigde verklaring ter ondersteuning van die hofaansoek gesê sy het vier jaar gehad om haar geskiedenis te verwerk en dat die interdik wat regter Eberhard Bertelsmann destyds toegestaan het om haar identiteit te beskerm, nou opgehef moet word. Die hof het dié week in haar guns bevind.

In haar boek sê Solomon sy het lank genoeg haar naam geheim gehou.

Sy het ’n wankelrige verhouding met haar biologiese ouers – die redes hiervoor noem sy duidelik in die boek. Een daarvan is dat hulle net soveel anders as sy is.

Sy skryf ook sy het gevoel sy kon nie van haar biologiese ouers se probleme wegkom nie.

Solomon vertel hoe haar biologiese ma in haar matriekjaar laat opgedaag het vir vergaderings, onder meer by haar skool, en ’n gewoonte het om laat te wees of nie op te daag by belangrike vergaderings nie.

Sy het intussen twee kinders gehad, sy werk by die Wes-Kaapse departement van maatskaplike dienste. Sy noem dit was altyd haar plan om maatskaplike werk of sielkunde te studeer en dit is steeds wat sy wil doen.

Daar is net nou ’n nuwe kinkel by hierdie lewensplan: Sy wil die kennis wat sy opdoen in hierdie studierigting ook gebruik om Lavona te verstaan.

* Celeste Nurse het nie oproepe beantwoord of gereageer op WhatsApp-boodskappe nie. Dit is net as gelees afgelewer.

* Die boek Zephany word uitgegee deur Tafelberg-uitgewers.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.