Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Bram Fischer heel nuut ontgin
David Butler soos hy lyk in The Bram Fischer Walz.

Die aangrypende The Bram Fischer Waltz met David Butler in die rol van Fischer is van 16 September tot 5 Oktober in die Markteater in Johannesburg op die planke.

Dié bekroonde stuk, wat geskryf is deur Harry Kalmer, is al op verskeie feeste opgevoer en telkens hoog aangeskryf. Kalmer is ook die regisseur.

Hoewel die meeste mense weet van Fischer, die Afrikaner-kommunis wat Nelson Mandela destyds van die galg gered het, weet ’n mens eintlik bitter min van Bram Fischer, die man.

Dit is die mens-kant van Fischer wat Kalmer in dié stuk ontgin.

En Butler se vertolking is in die kol soos hy die gehoor aan ’n sensitiewe mens en die liefde van sy lewe bekend stel.

Fischer was ’n gerespekteerde advokaat in Johannesburg toe hy besluit het om aan die kant van die verdruktes te veg en uiteindelik ondergronds gegaan het om saam met Umkhonto we Sizwe te veg.

Hy is op 5 November 1965 in hegtenis geneem nadat hy byna tien maande voortvlugtig was.

Soos sy voormalige kliënt Mandela is hy lewenslank tronk toe gestuur weens sy politieke oortuigings. Maar anders as Mandela het hy nie oorleef om sy storie te kan vertel nie.

En nou, sowat 40 jaar ná sy dood, word Fischer beskou as een van die argitekte van Suid-Afrika se demokrasie en iemand wat gehelp vorm het aan die rigting wat die land se geskiedenis sou inslaan.

Om die storie van Fischer se lewe te kan vertel het Kalmer baie navorsing gedoen. Hy het ook onderhoude gevoer met Fischer se dogter, Ilze Wilson, asook met Denis Goldberg en Hugh Lewin, mense wat saam met hom aangehou is.

Die uiteinde is dat The Bram Fischer Waltz inligting bevat wat nie voorheen gepubliseer is nie en waarvan mense dalk nie geweet het nie.

Die stuk is aanvanklik in 2012 vir die Vryfees in Bloemfontein geskryf en dit het ook ’n draai gemaak op Aardklop in Potchefstroom en op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad, waar dit met ’n Standard Bank Ovation-prys (silwer) bekroon is.

Vroeër vanjaar het dit die Adelaide Tambo-prys vir menseregte in die kunste op dieselfde kunstefees ontvang.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.