Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Cave en Lens skep opera oor WOI
Die Belgiese komponis Nicholas Lens Foto: ­ Peter Andersen | Schott Promotion
Die Australiese ­skrywer Nick Cave. ­Foto: Bleddyn ­Butcher

KAAPSTAD. – ’n Opera oor die Eerste Wêreldoorlog (WOI) deur die Belgiese komponis Nicholas Lens sal vanjaar in België sy ­première beleef. Nick Cave, ’n skrywer, digter en sanger ­oorspronklik van Australië, het die libretto geskryf.

Lens het te­vore saam met die Nobelpryswenner vir letterkunde JM Coetzee die roman Slow Man tot ’n opera verwerk. Coetzee het die libretto ­geskryf.

Die nuwe opera, Shell Shock – A Requiem for War, is as opdragwerk vir die Belgiese operahuis De Munt geskep.

Die première val saam met die internasionale herdenking van die Eerste Wêreldoorlog wat vanjaar ’n eeu gelede begin het.

Oor sy samewerking met Cave sê Lens “die konsep is heeltemal saam geskep en dat die same­werking geskied het in die heeltemal gewone en vloeiende manier waarop ’n komponis en librettis al eeue lank werk. Dit was hierdie keer geensins anders nie.”

Shell Shock se première sal op 24 Oktober in die Brusselse operahuis De Munt plaasvind.

In Shell Shock word in 12 gedigte of kanto’s uit Cave se pen stem gegee aan anonieme protagoniste van die Eerste Wêreldoorlog, onder wie soldate, ma’s, eggenote, weeskinders en gevangenes.

Van Cave het versamelings ­gedigte soos King Ink en King Ink II verskyn, asook die romans And the Ass Saw the Angel en The ­Death of Bunny Munro. As musikant is hy bekend om sy werk saam met die destydse Birthday Party, saam met The Bad Seeds, asook die meer onlangse projek Grinderman, verskeie rolprentklankbane en by tye as akteur in verskeie rolprente.

Die regisseur van Shell Shock is die Belgiese choreograaf Sidi Larbi Cherkaoui.

Die La Monnaie-simfonieorkes en -koor sal gedirigeer word deur Koen Kessels, artis­tieke direkteur van die Hermes-ensemble en musiekdirekteur vir die Birmingham Royal Ballet.

Oor verdere operas in wording het Lens ­bevestig hy en Coetzee werk saam aan ’n volgende projek. 

“Ek en JM Coetzee het ooreengekom om verdere werk saam te skryf,” het hy gesê.

Hulle werk tans aan ’n opera wat op die roman Elizabeth Costello gegrond is. Volgens De Munt heet die werk Elizabeth Costello, the ­Secretary of Thoughts.

Na verwagting sal die première van die opera in Junie of Julie 2016 wees. “Ons kan nog nie ­amptelik ­bevestig of die wêreldpremière in Australië of Europa gaan plaasvind nie, dit sal van die operahuis afhang, maar dit word vir 2016 ­beoog,” het Lens gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.