Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
1 jaar en sprokies vir 'n leeftyd
Op 19 Mei 2019 vier prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, hul eerste huweliksherdenking. Hier is tien van hul mooiste oomblikke.
Die Sussex-egpaar is van die blinkste sterre in die Britse koningshuis. Hulle is verlede jaar op 19 Mei in die St.George-kapel in Windsor getroud.

1. Die prins en die aktrise

Die eerste afspraak saam in die openbaar. Meghan Markle en prins Harry maak hul verhouding “openbaar” by die Invictus Spele in 2016 in Toronto, Kanada. Foto: Getty Images

Soos enige goeie liefdesverhaal het die prins en die aktrise se verhouding ook ’n romantiese begin.

Die twee ontmoet mekaar in Julie 2016 op ’n toe-oë-afspraak.

Die vonke spat en ’n paar weke ná dié afspraak in Soho House, ’n eksklusiewe klub in Londen, gaan hou hulle saam in Botswana vakansie.

Hul verhouding kom in Oktober op die lappe, maar die twee vervolmaak die kuns om uit die openbare oog te bly.

Meghan kuier in 2016 kort voor Kersfees by Harry in Londen en hulle gaan koop selfs saam ’n Kersboom vir sy kothuis in die Kensington-paleiskompleks.

Meghan pronk in 2017 op die Oktober-uitgawe van die glanstydskrif Vanity Fair.

“Ons is ’n paartjie. Dit is ons tyd,” word sy in die tydskrif aangehaal.

Dan verskyn die twee uiteindelik in September 2017 saam in die openbaar by die Invictus Spele in Toronto.

2. Uiteindelik, die tweetjies is verloof

Ons is verloof! Meghan Markle en prins Harry waai vir die fotograwe terwyl hulle terugstap na Kensington-paleis in Londen pas nadat daar ’n kort fotosessie was om hul verlowing op 27 November 2017 aan te kondig. Foto: Getty Images

Harry en Meghan kondig hul verlowing in November 2017 aan.

Benewens die knoets afkomstig uit Botswana, is daar ook twee diamante uit die juweliersversameling van Diana, Harry se gestorwe ma, in Meghan se verloofring.

Die fotosessie in die dieptuin by Kensington-paleis is kort, Harry amper senuagtig en Meghan stralend.

In die kort TV-onderhoud ná die fotosessie sê Meghan Harry het haar gevra om te trou terwyl sy besig was om ’n hoender vir hulle te bak. Die troudatum – 19 Mei 2018 – word aangekondig.

3. By die diepkant ingegooi

Meghan Markle se eerste openbare verpligting is ’n gesamentlike verpligting in Nottingham. Foto: Getty Images

Meghan se debuut in die koninklike wêreld van openbare afsprake begin saam met Harry in Nottingham. ’n Groot skare wag hulle in. Meghan is oorstelp deur die kaartjies en blomme. Haar handsak – geen handtassies vir haar nie – verkoop feitlik onmiddellik uit met ’n lang waglys by die vervaardigers. Meghan-manie word gebore.

4. Kersfees 2017

Kersfees 2017 saam met die koninklike familie. Foto: Getty Images

Meghan is die eerste verloofde wat uitgenooi word na Sandringham, waar die koninklikes jaarliks vir die Kersvakansie saamtrek.

Alle oë is op die koninklike nuweling toe sy op Kersdag saam met Harry, prins William en Catherine, hertogin van Cambridge, by die St. Maria Magdalena-kerk aankom.

5. ’n Pragtige lentedag in Windsor

Prins Harry en Meghan stap uit die St. George-kapel nadat hulle op 19 Mei in die eg verbind is. Foto: Getty Images

Op ’n lieflike Britse lentedag, met duisende mense wat om Windsor-kasteel en die Long Walk saamdrom, word Meghan en Harry in die eg verbind.

Sy stap alleen die trappies van die St. George-kapel op. Haar pa, Thomas Markle, het ’n paar dae voor die troue weens die skandaal oor sy samewerking met ’n steelfotograaf kop uitgetrek.

Meghan stap die kerk in. Die tweelingseuns van haar beste vriendin, Jessice Mulroney, Brian en James, het haar sleep vasgebou. Foto: Getty Images

Wit blomme versier die boog van die deur waar Meghan die kapel instap. Union Jacks waai in die ligte bries en die troue word op grootskerms in die Windsor Great Park uitgesaai.

Die skare hou saam troue!

Duisende mense het langs die Long Walk gewag om eers die bruid in haar bruidsmotor en toe die paartjie in hul koets, te sien. Foto: Getty Images
’n Soentjie van die bruidegom vir sy bruid. Foto: Getty Images
Meghan het ’n pragtige aandrok gedra vir die aandonthaal wat langs Frogmore House in Windsor in ’n markiestent gehou is. Sy het ook ’n ring wat aan prins Harry se ma, Diana, behoort het, gedra. Foto: Getty Images
Die paartjie soen mekaar buite die St. George-kapel in Windsor. Foto: Getty Images

6. Afspraak saam met die koningin

Meghan draf die “koninklike eerstes” vinnig ná haar troue af. Só het sy skaars ’n maand ná haar troue reeds ’n gesamentlike afspraak met koningin Elizabeth.

Dit is ook Meghan se eerste rit nóg op die koninklike trein. Vir ’n besoek aan Cheshire oornag sy en die koningin op die trein. Daar is niemand beter om die koninklike moets en moenies by te leer as die koningin self nie. Meghan huiwer ’n oomblik wanneer sy en die koningin in ’n motor moet klim. Die koningin antwoord vriendelik dat Meghan eerste kan inklim, hoewel dit eintlik die koningin is wat eerste in die motor moet klim.

Meghan en koningin Elizabeth lag te lekker op hul eerste gesamentlike afspraak. Meghan het saam met die koningin op die koninklike trein gery om die afspraak na te kom. Foto: Getty Images

7. Buckingham-paleis se balkon

Prins Harry stel sy bruid gerus met hul verskyning op Buckingham-paleis se balkon met die amptelike viering van koningin Elizabeth se verjaardag in Junie verlede jaar. Foto: Getty Images

Met die amptelike viering van die koningin se verjaardag kry Meghan die kans om vir die eerste keer op die balkon van Buckingham-paleis te verskyn.

Dit is ook haar tweede koetsrit (die eerste was op haar troue) na Horse Guard Parade waar die troepe elke jaar hul vaandels voor die monarg vertoon.

Met die verbyvlug oor die paleis kan gesien word hoe Harry vir sy vrou fluister sy moet opkyk.

8. Doer Onder en die babamagie

Harry en Meghan se toer na Australië, Nieu-Seeland, Fidji en Tonga skop af met ’n groot aankondiging: Meghan is swanger. Waar hulle ook al gaan, hou die twee hande vas.

Meghan, met haar een hand op haar maag, op 30 Oktober verlede jaar in Auckland, Nieu-Seeland. Reuse-skares het opgedaag om haar en prins Harry te sien. Foto: Getty Images

9. Swanger met baba Sussex

Meghan skram weg van tradisionele kraamdrag en laat liefs ontwerpersnommers vir haar groeiende babamagie aanpas. Sedert die bekendmaking van die swangerskap hou Meghan altyd een hand op haar maag.

Archie, eersteling van prins Harrry en Meghan, hertogin van Sussex. Foto: Getty Images

10. Archie Harrison Mountbatten-Windsor

Harry en Meghan se eersteling word 13 dae voor die herdenking van hul eerste huweliksherdenking gebore. Baba Sussex is al agt uur oud wanneer die nuus dat sy ma in kraam is, bekend gemaak word. Harry kondig enkele ure later aan dat hy en Meghan ’n seun het. Nóg twee dae later word baba Sussex se naam aangekondig: Archie Harrison Mountbatten-Windsor. Die ideale geskenk vir ’n eerste huweliksherdenking.

Prins Philip en koningin Elizabeth was die eerste koninklikes om Archie te ontmoet. Ook Doria Ragland, Meghan se ma, is op die foto ingesluit wat op 8 Mei geneem is op die dag wat die paartjie hul seun se naam bekend gemaak het. Foto: Getty Images

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier