Twee kinders in die Kolisi-gesin is positief vir die virus getoets. Siya Kolisi, Springbok-kaptein, se vrou, Rachel, is onlangs positief vir die virus getoets.
Rachel, wat verlede Sondag bekend gemaak het dat sy die virus opgedoen het, sê Maandag op Instagram twee kinders in die huishouding het die virus opgedoen.
Liphelo Kolisi (13) en die Kolisi-egpaar se dogter, Keziah (3), is positief vir die virus getoets, met Liphelo wat “grootmens simptome” toon.
“Die virus – ek is onseker watter variant daarvan – affekteer kinders beslis ook,” lui ’n gedeelte van Rachel inskrywing.
Rachel sê Liphelo het ’n rowwe tyd omdat hy dieselfde simptome as grootmense het.
Sy sê Keziah het “Goddank” geen simptome nie en is haar gewone gelukkige self.
Netwerk24 het vroeër berig dat Siya negatief vir die virus getoets is.
Rachel se isolasietydperk is nou verby.
“My smaak en reuk is stadig besig om terug te kom, maar is beslis nog nie wat dit moet wees nie. My keel is seer, ek klink steeds asof ek sinus het en raak gou kortasem, maar die pyn in my bors het op dag tien begin verbeter.”
Sy sê hulle het raad ontvang oor Covid-19 in kinders wat jonger as 13 is.
“Net as herinnering: Ek is nie ’n Covid(-19) kenner nie, ek deel slegs my ervaring vir bewusmaking. Ek gaan regstreekse gesprekke met medici en hul Covid(-19) ervarings hou, en sal julle op hoogte hieroor hou in my (Instagram) stories.”
Sy sê sy was vir 14 dae in isolasie, al is die isolasietydperk tien dae omdat sy nog nie gereed gevoel het om uit isolasie te gaan nie.
Kolisi het verlede week ’n foto van Rachel gedeel wat in afsondering met ’n bord eetgoed sit, terwyl hy en die egpaar se twee kinders van buite saam met haar kuier.